Willie Burger kyk vandeesweek na André P Brink se reisverhale
Willie Burger kyk vandeesweek na André P Brink se reisverhale
Omtrent almal van ons wat op reis gaan, het soms die behoefte om ’n dagboek te hou waarin jy kan aanteken wat jy tydens jou reis ervaar. Later kan jy jou foto’s en jou aantekeninge saamvoeg om ’n “reisalbum” te maak. Of anders koop jy ten minste ’n poskaart as aandenking en krabbel dalk ’n paar woorde daarop. Die “outydse” poskaart en reisjoernaal is vinnig besig om vir die “reisblog” plek te maak. Daar is heelwat webwerwe waar enigeen die geleentheid gebied word om gratis oor sy reis te blog. By ’n webruimte soos “travelpod” (http://www.travelpod. com/) of “travelblog” (http://www.travelblog. org) kan jy byvoorbeeld jou reis op ’n kaart aanteken, gedurig jou vordering met jou selfoon of tablet opdateer, jou foto’s oplaai en al jou vriende of volgelinge kan deurentyd jou ervarings deel. Uiteindelik bied sommige van hierdie dienste ook die moontlikheid om jou hele reisverslag as ’n netjiese boek te laat druk. Op dié manier kan jou ma jou vordering volg en jou jongste kiekies van die Eiffeltoring dadelik vir haar vriendinne wys. Maar sommige uitsonderlik goeie skrywers, wat interessante avonture op hul reise beleef, of wat hul vaal ervarings ten minste boeiend kan aanbied, se blogs word deur groot getalle lesers gevolg. Enkele gewilde reisbloggers kan selfs hul togte op hierdie manier finansier. In ’n tyd van duisende reisblogs wat jy op jou rekenaar kan volg en waarin ons tot op die uithoeke van die aarde kan reis, sonder paspoort of doeane, sonder lang vlugte en vreemde kos, deur bloot vanaf die rusbank na die Travel Channel oor te skakel, kan ’n mens vra of reisliteratuur werklik nog ’n plek het. In sy inleiding tot Sempre diritto: Italiaanse reisjoernaal, ’n versameling reisvertellings deur André P Brink uit 1963, skryf dié gevierde skrywer dat ’n reisboek meer is as bloot ’n joernaal waarin inligting oor die plekke wat besoek word, weergegee word. Uiteindelik gaan dit oor die unieke ervaring wat in die reisverslag neerslag moet vind. Hy verduidelik dat die blote feit dat ’n mens die Taj Mahal of die Empire State-gebou gesien het, maar min beteken. Die goeie reisiger neem ander dinge waar, ervaar ander dinge – onvoorspelbare dinge. En wanneer dít gebeur, skryf Brink, kom die reisiger ’n treetjie nader daaraan om iets van “die lewe” te begryp. Enige reis is in ’n sekere sin ’n ontdekkingsreis. Die reisiger ontdek in die eerste plek natuurlik iets van die vreemde land waardeur hy reis, maar tweedens ook iets meer van homself: Omdat jy die hele tyd met nuwighede gekonfronteer word en agterkom hoe jy daarop reageer, ontdek jy meer van jouself. Uiteindelik ontdek jy ook dat jy met nuwe oë na jou eie land kyk wanneer jy ná jou ervarings in die buiteland terugkeer. Wanneer ’n reisiger fyn kan waarneem en die klein, persoonlike belewenisse lewe kan gee op die manier wat André P Brink dit gedoen het, word dit vir die leser nie ’n Travel Channel-besoek aan ’n eksotiese land met indrukwekkende argitektuur of natuurskoon nie; dit word ’n ondersoek van “die lewe”. Human & Rousseau het reeds verlede jaar ’n keur uit Brink se eerste twee boeke oor Parys as Herinneringe aan Parys uitgegee. Pot-Pourri het oorspronklik in 1962 verskyn en Parys-Parys Retoer in 1969. Ek moet erken ek was skepties oor hierdie heruitgawe: Hoe kan die ou reisverslae nou nog iets beteken? Maar reeds van die eerste sin af, was ek geboei: “Parys is nie ’n stad nie. “Parys is ’n manier van lewe, en ’n manier van reageer op die lewe – in vryheid, gebonde aan geen voorskrif nie; alleen aan die mens. Daarom is dit meer as ’n versameling geboue, selfs meer as ’n versameling mense. “Parys is vol kleur, maar seker nie móói nie. Wél, vanweë sy menslikheid, aangrypend en uniek. Niks hier is higiënies nie en niks het reguit lyne nie en niks is vooraf bepaal nie; alles is verward, soekend, tastend, beurend, barstend, soos die mens se gees deur die eeue. En sy skoonheid lê in sy onberekenbaarheid en in sy onverwagtheid.” Sommige stories is snaaks, ander gee ’n mens insig in die belangrike politieke en filosofiese woelinge van die sestigerjare in Parys. Maar veral word ’n mens meer van “die lewe” gewys. Daar het pas ’n tweede bundel verskyn: Mediterreense herinneringe (Human & Rausseau). Hierin is stories opgeneem wat Brink destyds oor reise deur Italië, (Sempre diritto, 1963), Spanje (Olé, 1969) en Suid-Frankryk (Midi: Op reis deur Suid-Frankryk, 1969) geskryf het. Dit is nie sommer enige blogger se eerste indrukke haastig getwiet nie. Dit is