Willie Burger kyk na plaaslike én internasionale titels
Soos dit enige behoorlike whodunnit betaam, is daar ‘n hele klompie karakters wat moontlik vir die moord verantwoordelik kon wees en ‘n mens bly tot aan die einde behoorlik aan die raai. Ek dink dat Paul al hoe oortuigender word met die speurverhaalkant van haar romans.
Ons weet nou al dat Paul formidabele vrouekarakters kan skep – dink maar aan die Davel-vroue of die vroue in die Maanschijnbaai-boeke. Met Raaiselspieël stel sy ook nie teleur nie. Frieda is in ‘n baie ongelukkige huwelik vasgevang, sy is ietwat oorgewig (dog sensueel) en dan het sy ook nog ‘n psigiese gawe wat die lewe nie vir haar maklik maak nie. Wanneer haar pa, ‘n beroemde skilder, vermoor word, besluit sy om ‘n biografie oor hom te skryf – nie omdat sy so geheg aan hom was nie, maar dit bied ‘n verskoning om sy dood verder te ondersoek – al het die polisie na bewering die moordenaar reeds agter tralies.
Sy word in haar navorsing vir die biografie deur die geheimsinnige Stas bygestaan. In hul soektog word talle geheime oor Frieda se ouers opgediep, sy ontdek meer van haar eie herkoms, soos dat sy nie haar pa se enigste kind was nie en dat daar sigeunerbloed in haar are vloei. Die speurtog bring egter ook baie ander ingewikkelde geheime van ander mense aan die lig en in Stas se teenwoordighed ontdek sy ook meer van haar eie gevoelens.
Paul het ? boeiende vertelstyl en geen aanhanger sal teleurgesteld wees nie. Ek dink sy word al beter!
Die boek word deur LAPA Uitgewers uitgegee.
Dit word dikwels gesê dat dit belangrik is dat die stories van ons land se mense vertel moet word. Daar is natuurlik baie interessante stories, maar waarom is dit so belangrik dat dit vertel moet word? Die historikus Charles van Onselen het byvoorbeeld met sy indrukwekkende boek, The Seed is Mine: The Life of Kas Maine. A South African Sharecropper 1894-1985, op boeiende manier ‘n gedetailleerde weergawe van die effek van wetgewing rakende grondbesit op een mens se lewe beskryf.
Tydens die sittings van die WVK het baie individue die geleentheid gekry om hul eie verhale van verlies en lyding te vertel en sodoende is nie slegs aan hulle ’n stem gegee nie, hulle het eintlik ook ‘n stem gegee aan baie ander wat nié daar getuig het nie.
Hierdie soort stories van individue se ervarings en lyding word in Suid-Amerika testimonios genoem. Daarmee word bedoel dat dit nie bloot outobiografiese vertellings is nie. So ‘n testimonio is nie slegs ‘n individuele voorbeeld van baie mense se ervarings nie. Die individu waaroor vertel word, se lewe is met baie ander mense se lewens vervleg en op daardie manier getuig die verhaal ook van daardie ander mense se bestaan, van die ander mense se ervarings. ‘n Testimonio is dus ‘n verhaal wat ‘n hele gemeenskap betrek.
Marinda van Zyl se roman Wilhelmina Radebe kom tuis is, in teenstelling met die voorbeelde hierbo, fiksie. Nietemin is dit op deeglike navorsing gegrond. Van Zyl is self ‘n historikus en haar doktorsgraad gaan oor swart verstedeliking in Vereeniging.
Wilhelmina Radebe kom tuis is die verhaal van ‘n Afrikaanssprekende swart gesin. Dit strek oor byna die hele 20ste eeu en gee ‘n besonder waardevolle blik op die geskiedenis van die Vaaldriehoek – die impak van industrialisering, verstedeliking en apartheid op gewone mense word duidelik – maar dit bly deurgaans in die eerste plek ‘n boeiende verhaal van een mens, foute en al, wat haar weg deur ‘n deurmekaargekrapte wêreld probeer vind.
Die boek word deur LAPA Uitgewers uitgegee.
Denis Johnson se Train Dreams is ‘n novelle van skaars ‘n honderd bladsye, maar die impak daarvan op die leser is ontsettend.
Dit is die verhaal van Robert Grainier, ‘n gewone man wat tevrede is om met los werk ‘n bestaan in ‘n klein dorpie in Amerika te maak. Vroeg in die 20ste eeu is die Amerikaanse spoorwegnetwerk vinnig aan die uitbrei en daarvoor is baie hout nodig. Hy werk jare lank in verskeie bosse as houtkapper en karweier. Hy koop later ‘n hoewe, trou en het ‘n kind. Hy vind geluk in hierdie bestaan. Wanneer hy egter sy gesin en huis in ‘n reusebosbrand verloor, verander alles.
Die prosa is gestroop van emosie en die derdepersoonsverteller gee ‘n byna onpersoonlike beskrywing van Grainer se lewe. Slegs enkele insidente uit sy lewe word in fyn besonderhede en soveel deernis vertel dat dit ‘n mens diep oor die menslike bestaan laat nadink – en die prys wat ons betaal om in ‘n gemeenskap in te pas.
Die boek word deur Farrar, Strauss and Giroux: New York uitgegee (2011). Aanlyn beskikbaar