Willie Burger kyk na die veelbesproke roman van Willem Anker: Buys. ‘n Grensroman
Willie Burger
Anker is ‘n ernstige skrywer, nie gerig op massavermaak nie. Hy probeer nie om bloot ‘n storie – die besonder interessante storie van Coenraad de Buys – op ‘n boeiende manier te vertel nie. Die boek kan as ‘n historiese roman beskou word en die opwindende lewe van Buys word noukeurig beskryf. Buys was reeds in sy eie tyd (ongeveer 1761 tot 1815) ‘n legende, ‘n buitegewoon groot man met ‘n woeste rooi baard wat reeds van jongs af geen ontsag vir enige gesag of wet of samelewingsnorme getoon het nie. Met vreeslose minagting vir die koloniale owerhede (Brits en Nederlands) het hy boere opgestook, soms soos ‘n wafferse Rambo suksesvolle veldslae byna eiehandig teen oormagte gevoer en hom dikwels aan Xhosakant of saam met die "Basters" (Griekwas) van oorkant die Oranje téén die koloniale owerheid geskaar.
Buys het hom aan geen grens gesteur nie – nie koloniale grense nie, maar ook nie sosiale grense nie. As veebuiter, jagter en anargis het hy die land deurkruis en so ver hy gegaan het, alliansies met verskeie stamleiers gesmee net om later weer teen dieselfde stamme te veg. Niks het hom gekeer om sendingstasies aan te val of voormalige vriende te skiet nie. En so ver hy getrek het, het hy kinders by talle vroue uit alle groepe en stamme verwek. Sy nageslag het later as "die Buysvolk" bekendgestaan en is in die grensgebied tussen die huidige Limpopo en Botswana gevestig.
Buys kon nooit lank op een plek woon of boer nie. Rusteloos het hy eerder gejag, vee van voormalige vriende en nuwe vyande gebuit, nie om ryk te word uit vee en olifanttande nie, maar om dit vir meer wapens te ruil om verder te kan jag en veg en roof. Een dag se bondgenote en vriende word die volgende dag in die rug geskiet.
Hoewel dit al die moeite werd is om die roman oor die ongelooflike stuk geskiedenis van hierdie merkwaardige plunderaar, rower, vegter, veelwywer, opstandstoker en volksverwekker te lees, is Anker se roman veel meer. (Buys is nie die eerste roman oor Coenraad de Buys nie. Sarah Gertrude Millin se roman uit 1948, King of the Bastards, is ook op Buys se lewe gegrond.)
Die subtitel, grensroman, is al ‘n aanduiding van ‘n sentrale tema. Grense, vryheid, die oorsteek van grense en die gevolge daarvan word ondersoek. Maar grense word hier in die wydste sin betrek. Nie slegs hierdie tema nie, maar ook Anker se styl, herinner aan Cormac McCarthy se “Border trilogy", veral The Crossing, die tweede roman uit die trilogie, waarin wolwe ook ‘n sentrale rol speel, terwyl die onoorbrugbare grense tussen mense ook ondersoek word. Plek-plek bereik Buys byna dieselfde epiese skaal as McCarthy se Blood Meridian.
Buys tree in gesprek met verskeie ander romans oor dieselfde tydperk: Brink se Bidsprinkaan en Philida, Elsa Joubert se Missionaris, terwyl die roman ook herinner aan William Dicey se uitstekende Borderline, waarin van die uiterste grense van die kolonie en die mengelsmoes van mense wat hulle anderkant die Gariep gevestig het, ook ondersoek word.
Geskiedenis is ‘n storie wat mense oor die verlede vertel ten einde sin te maak van wie hulle nou is en hoe dit gekom het dat hulle nou, hier, op hierdie manier bestaan. Hierdie storie bepaal ook hoe hulle oor hul eie toekoms dink, hoe hulle daarvoor beplan, hoe hulle elke dag lewe.
Die manier waarop jy jou ervarings van die verlede bedink, is egter nie bloot ‘n objektiewe stukkie optel en aftrek nie. Soos Buys telkens in Anker se roman besef, is ‘n storie veel meer as ‘n lys van objekte, mense of gebeurtenisse. Omdat die mense, gebeurtenisse en plekke juis in ‘n storie wat vir iemand sin maak, aangeengeskakel word, is dit altyd subjektief.
Sentraal in die geskiedenis wat tradisioneel in Suid-Afrikaanse skole onderrig is, was verhale oor die vestiging van Europese nedersetters, oorloë teen inheemse inwoners, en natuurlik die Groot Trek, ‘n verhaal van die vestiging van ‘n Europese beskawing in Afrika. Hierteenoor dwing Buys ‘n mens om te besef hoedat hierdie enkele storie maar één storie is, en dat daar ook mense soos Buys was wat geen snars omgegee het vir die vestiging van Europese waardes nie.
Daar is natuurlik baie verhale oor die verlede, talle stories wat vertel word. Die probleem is dat baie daarvan nie méér word as interessante, selfs boeiende, stories nie. Eers wanneer die vertelling óók ‘n ondersoek van die grense van taal word, van wat gesê kan word en van maniere van sê, word ‘n blote vertelling ‘n goeie roman. Die verbuiging en ontginning van Afrikaans as verbastering van Nederlands ontsluit moontlikhede van segging in die grensgebied waar tale en mense meng, op ‘n manier wat met Stockenström, Brink en Van Niekerk vergelyk kan word. Dít maak van Buys ‘n merkwaardige roman.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.