Aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu is die stad in talle sogenaamde “stadsromans” ‘n simbool van die moderne, industriële wêreld wat in skrille kontras teenoor die platteland staan
Willie Burger
Die roman is propvol opwindende, boeiende, droewe, snaakse en interessante stories oor mense wat oor meer as ‘n eeu heen in Johannesburg gewoon en gewerk het. Soos ‘n mens kan verwag, is daar stories van slagoffers van misdaad, maar ook van fortuinsoekers, van mense wat sukses behaal het en vereer is, maar ook mense wat daarheen gedwing is, wat daarheen gevlug het en van dié wat daarheen terugkeer of wat al geslagte lank daar woon.
Al is ‘n kort samevatting onmoontlik, beteken dit nie dat dit ‘n onsamehangende spul vertellings is nie. Harry Kalmer is ‘n uitstekende verteller wat alles slim verweef. Die humorsin wat in Die man met die dertien kinders so opvallend was, maar ook sy skerp sosiale en politieke insig wat al Die waarheid en ander stories gekenmerk het, is hier nog fyner en meer afgewerk.
Die talle stories van verskillende individue se ervarings in Johannesburg oor meer as ‘n eeu heen word fyn verweef: die storie van ‘n Johannesburgse argitek wat ná dekades se verblyf in Londen terugkeer, van ‘n Franssprekende vlugteling uit die DRK wat voor xenofobiese geweld uitvlug; ‘n Afrikaanse digter wat deur sy geskiedenis ingehaal word, ‘n Chinese handelaar en sy fotograafkleinkind … Telkens is dit juis nie stories van Boere of Indiërs of Zulus of Chinese of Joodse vlugtelinge in die algemeen nie, maar die unieke stories van individue – vasgelê op foto of film of anekdote of tydskrifartikels of argitektuur of gedig of verslag.
Uiteindelk skakel al die stories tog op verrassende maniere met mekaar. Almal se lewens raak mekaar en hul stories vorm ‘n netwerk. Al is daar geen enkele, oorkoepelende verhaal nie en al weet die verskillende mense dikwels nie eens van mekaar of hoe hul lewens mekaar raak nie, is daar steeds ‘n opbou van spanning wat die leser na ‘n manjifieke slot voortsleur.
Aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeue is die stad in talle sogenaamde "stadsromans" ‘n simbool van die moderne, industriële wêreld wat in skrille kontras teenoor die platteland staan. In hierdie stadsromans heers daar orde op die platteland waar mense vir mekaar omgee, maar in die groot stad word die mens naamloos. Die stad is telkens ‘n vuil, rokerige plek waar mense se menslikheid en menswaardigheid ter wille van ekonomiese gewin deur die vuil lug, sieldodende werk, slinkse misdadigers en geldgierige nyweraars vernietig word.
‘n Duisend stories oor Johannesburg is in 12 dele verdeel wat elk ingelui word deur ‘n kort aanhaling uit Totius se Trekkersweë, die lang epiese gedig waarin die stad ook as ‘n aanloklike, dog bose plek beskryf word. Kalmer se "stadsroman" sluit egter hoegenaamd nie by die ouer modernistiese idee van ‘n stad aan nie, maar eerder by ander onlangse stadsromans soos dié van Ivan Vladislavic.
Johannesburg, maar ook alle stede in die wêreld, kan nie meer so eenvoudig as simbole van die moderne wêreld se bose invloed op mense beskou word nie. Nie alleen woon verreweg die meeste mense deesdae in stede nie, maar stede is lankal nie meer ‘n stadskern omring deur ‘n vuil industriële gebied en verskeie woonbuurte nie.
Selfs in Suid-Afrika, waar sentrale beplanning so sterk was, het die idee dat ‘n stad gemanipuleer en beheer kan word, sentraal beplan kan word, verdwyn. Die argitek en stadsbeplanner Rem Koolhaas het in die 1990’s al opgemerk dat dit nie meer moontlik is om te probeer om stede te vorm en mense daarin te beheer nie. Hy skryf in Small, Medium, Large: "What if we simply declare that there is no crisis – redefine our relationship with the city not as its makers but as its mere subjects, as its supporters?"
Stede ontwikkel organies en daar is geen sprake van ‘n herkenbare stadskern nie, maar slegs ‘n steeds uitbreidende stedelike gebied wat ‘n "superburbia" of "polynucleated city" genoem word. Hierdie soort stad leen sigself nie meer tot ‘n simbool van die dreigende moderne wêreld waarteen die heroïese enkeling ‘n geveg aanknoop nie. Kalmer bied ‘n ander blik van hierdie soort stad deur "’n duisend stories" te vertel.
Soos in Vladislavic se Portrait with Keys en The Restless Supermarket word die stad ‘n oop ruimte waar mense se lewens op verbasende maniere met mekaar vervleg is – van die geboue wat ontwerp, besit, verhuur, verkoop en bewoon word, tot die boekwinkels waar netwerke vorm, en die daaglike koop en verkoop van lewensmiddele, die misdaadsbande waardeur mense aan mekaar gebind word om uiteindelik ‘n stadsruimte te skep.
So ‘n stad is ‘n nagmerrie vir ‘n modernistiese argitek soos Le Corbusier (die meester waarmee talle Johanesburgse argitekte noue bande gehad het en wie se dood in 1965 ‘n belangrike gebeurtenis in die roman is) wat sentraal wou beplan. Die postmoderne stad kan nie meer só wees nie. En daarom is dit ook nie ‘n roman wat met ‘n enkele verhaallyn kan werk nie – die vertellings vermeng en verras ‘n mens deurentyd.
Dit is ‘n snaakse boek, vol ironie en droefheid. Daar het lanklaas ‘n Afrikaanse roman verskyn waarin die verstedelikte samelewing op so ‘n grondige manier ondersoek word.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.