Rigtingbedonnerd in die geliefde land laat jou dink
Rigtingbedonnerd in die geliefde land laat jou dink
In Karel Schoeman se futuristiese roman Na die geliefde land uit 1972 is die hoofkarakter die kind van emigrantouers wat hulle in Europa gaan vestig het. Ná sy ma se dood keer hy terug na Suid-Afrika om die plaas wat hy van haar geërf het, te besoek. Hy tref ’n klompie sukkelende Afrikaners op verlate plase aan, waarheen hulle teruggetrek het nadat alles in die land verander het. Die meeste Afrikaners wat kon, het lankal reeds die land verlaat. Van dié wat agtergebly het, is omtrent almal deurtrek van nostalgie oor die vorige tyd, voor die “moeilikhede”. Sommige beplan ’n opstand, wat in skaal en doeltreffendheid baie ooreenkom met die Boeremag se pogings om die huidige regering omver te werp.
George dink in ’n stadium na oor die betekenis van sy besoek, van sy eie en sy ouers se verlange na die “geliefde land”. Hy dink na oor die aard van herinnering, van verlange, oor die betekenis van “land” en hy soek na ’n antwoord op sy situasie. Eintlik is sy mymering ’n soeke na ’n antwoord op die vraag na die plek van Afrikaners in Afrika: “Daar is geen antwoord nie, besef hy: daar is die lewe wat voortgesit moet word, en miskien is die voortsetting in sigself so iets soos ’n antwoord of so na as wat mens ooit aan ’n antwoord kom.”
In sy boek, Rigtingbedonnerd: Op die spoor van die Afrikaner post-’94 soek ook die Nederlandse joernalis Fred de Vries na antwoorde op die vraag na die plek van Afrikaners in Suid-Afrika ná 1994. Sommige mense mag vooroordele hê oor die feit dat De Vries ’n Hollander is en daarom verwag dat hy met voorskriftelike beterweterigheid uitsprake gaan maak en oordele gaan vel, maar dit gebeur glad nie. Trouens, teen die laaste hoofstukke van die boek is dit opvallend hoe dikwels die woord “ons” insluip, eerder as “hulle”, wanneer hy oor Afrikaners skryf! De Vries het oor byna twee dekades ’n noue verbintenis met Suid-Afrika en hy het vir die grootste deel daarvan in Suid-Afrika gewoon – in Johannesburg en in ’n wegbreekhuis op die platteland. Hy het self die euforie van sukses, soos die aanbied van die Sokkerwêreldbeker, meegemaak, maar ook die moedeloosheid oor verswakte dienslewering en misdaad ervaar.
Met omsigtigheid het hy hom van die geskiedenis vergewis, van die amptelike geskiedenis, maar ook van die dikwels versweë verhale uit die Afrikanerverlede. Hy voer talle gesprekke met uiteenlopende mense – van skrywers, kunstenaars, politici, sangers, sakemanne en intellektuele tot werkloses, bedelaars, gewone middelklasmense, kerkgangers en godloënaars. Hy kyk na die politiek, ekonomie, kultuur en godsdiensbelewenis van Afrikaners.
Sentraal in elke gesprek en in elke oorpeinsing is die vraag of daar wel ’n plek vir wit mense in Afrika is en of daar wel plek vir Afrikaners in hierdie land is. De Vries is op sy beste wanneer hy oor onderhoude skryf. Hy vang telkens die kern van die mense met wie hy praat se idees vas, maar ook iets van hul houdings, die fyn nuanses van onuitgesproke opvattings. En hy weerhou hom van oordele.
Die gevolg is dat ’n mens nooit die indruk kry van karikature nie (selfs al praat hy met Eurgene Terre’blanche). Daar is deernis in al die gesprekke. Ek dink dit is ’n belangrike boek wat elke Afrikaner behoort te lees. Ook De Vries bied nie ’n antwoord op die vraag na die plek en rol van wit mense, veral Afrikaners, in Suid-Afrika nie, want soos George besef hy ook dat daar geen antwoord is nie. Die lewe word egter voortgesit. En hierdie boek kan ’n mens baie help om oor jou eie voortsetting van hierdie lewe na te dink.