Al het Kersfees in ons tyd tot ‘n groot mate ‘n kommersiële fees geword, bly iets van die Kersverhaal mense boei
Willie Burger
Al het Kersfees in ons tyd tot ‘n groot mate ‘n kommersiële fees geword, bly iets van die Kersverhaal mense boei: die verhaal oor ‘n gebeurtenis van lank gelede wat die wêreld radikaal verander het, bring ook hoop dat ons eie wêreld nou kan verander. Al is dit net ‘n tydelike verandering wat ‘n geskenk aan ‘n kind se lewe maak.
Die geboorteverhaal word al vir eeue lank tydens Kersfeesvierings oorvertel en voorgelees en opgevoer: Engele wat die boodskap bring, skaapwagters wat daarvan hoor, wyse manne wat ‘n ster volg. Intussen is die bekommerde Josef en hoogswanger Maria sonder blyplek. En dan word Jesus in die nag gebore en engelekore sing. Geskenke word aan die kind gegee om sy koninklike status te bevestig. Almal is bly, want Jesus bring die geskenk van God se verlossing aan mense.
Hierdie geboorteverhaal word ook telkens in ander omgewings en in ander tye op ander maniere hervertel. Die verteller in Abraham de Vries se kortverhaal "Nag van die clown" merk in een stadium op: "Ek het jou uitgeluister oor hoe onmoontlik ‘n goeie Kersverhaal is. Omdat ‘n mens weet wat gaan gebeur, al is dit ook in ander gedaantes, soos in die Middeleeuse skilderye. Altyd ‘n swanger vrou, altyd die geboorte, meestal ook die Wyse Manne – in watter land dan ook, in watter tyd."
Benewens verskillende vorms van die geboorteverhaal self, word daar ook talle verhale waarin Kersfeesvierings ‘n sentrale rol speel, vertel. Die tradisie om hierdie tyd van die jaar verhale te vertel waarin Kersfees ‘n belangrike plek inneem, het volgens sommige mense by Charles Dickens se A Christmas Carol ontstaan. Dickens het hierdie bekende verhaal in 1843 geskryf. Sedertdien het talle hervertellings en ander weergawes van hierdie verhaal verskyn.
In A Christmas Carol word die verhaal van Ebenezer Scrooge vertel. Hy is ‘n hardvogtige, inhalige man. Scrooge sien geen sin in Kersfees nie. Kersfeesvierings is vir die inhalige ou man ‘n vermorsing van tyd en geld. Besighede word op Kersdag gesluit en hy kan dus nie van sy werknemer verwag om te werk nie. Boonop verwag mense dat geskenke gegee moet word en dit is natuurlik ook iets waaraan die nare, suinige ou man nie erg het nie. Mense behoort niks te kry sonder dat hulle hard daarvoor werk nie.
Dickens kombineer ‘n spookstorie met die Kersverhaal. Scrooge se oorlede sakevennoot verskyn as ‘n spook aan hom. Jacob Marley, wat byna net so ‘n inhalige en harde man was, se spook kom vertel vir Scrooge van die onnoembare pyn wat hy in die hiernamaals weens sy hardvogtigheid op aarde ly. Hy kondig ook die verskyning van drie ander geeste aan: die eerste gees vertoon Scrooge se eie verlede aan hom, die tweede gees wys vir Scrooge hoe hy nou lyk en hoe hard sy optrede teenoor ander mense is (soos sy werknemer wat ‘n siek seuntjie het). Die derde gees wys vir Scrooge hoe hy in die toekoms gaan lyk en hoe hy eendag alleen en verstote sal sterf, sonder dat enigeen hartseer is of hom sal mis.
Die drie geeste ontstel vir Scrooge verskriklik en wanneer hy ontwaak uit die droom waarin hulle aan hom verskyn het, besef hy dat dit Kersdag is.
Scrooge begin dan dadelik verander. Hy doen goeie dade en probeer om al die mense wat hy te na gekom of ingedoen het, te vergoed. Scrooge ontdek dat dit saliger is om te gee as om te ontvang en hy word so goedhartig as wat hy eens op ‘n tyd hardvogtig was.
Sedert A Christmas Carol word talle variasies van Dickens se verhaal elke jaar vertel. Die een gemene deler van hierdie verhale is dat die hoofkarakter aangeraak word (dikwels deur ‘n raaiselagtige boemelaar, ‘n kind, ‘n bonatuurlike wese, ‘n weerlose, goedhartige persoon) en verander. Die oomblik van verandering val dikwels saam met Kersdag.
Verhale soos hierdie, waarin Kersfees ‘n belangrike plek inneem, is aan drie gevare blootgestel:
• hulle kan maklik in clichés verval (dieselfde elemente kom in almal voor en hulle is dus voorspelbaar, soos De Vries se verteller in "Nag van die clown" dit stel).
• hulle kan maklik soetsappig wees (vol patos en nostalgiese verlange na ‘n vroeëre onskuld).
• hulle word ook makliker as ander verhale moraliserend (wil vir die lesers/kykers ‘n sedelessie leer).
Miskien in ‘n poging om juis hierdie strikke te vermy, is daar ook baie Kersverhale waarin juis die eensaamheid van mense beklemtoon word, die skrille kontras tussen die rykes en die armes, die magtiges en onmagtiges se wêrelde word dan ontbloot. Sulke verhale is egter nie gewild in hierdie tyd van die jaar waarin baie mense na die troos van ‘n bekende verhaal van hoop en redding soek nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.