Willie Burger kyk hierdie week na twee soorte aksie / speurverhale
Willie Burger kyk hierdie week na twee soorte aksie/speurverhale
Spannende aksie- en speurverhale is tans baie gewild, met skrywers soos Deon Meyer, Chris Karsten en Karin Brynard aan die voorpunt. Dit is seker ook nie verbasend dat daar so baie van hierdie verhale uit ons misdaadgeteisterde land kom nie. Hier is twee voorbeelde van dié soort verhaal: Arendsnes hou baie naby aan ’n herkenbare misdaadwerklikheid, terwyl Jy-weetwie veel minder realisties is. Arendsnes tel onder die groeiende aantal populêre werke wat ook sosiale kommentaar lewer.
Arendsnes Dirk Jordaan. Tafelberg Met Jakkalssomer het Jordaan reeds gewys hy kan ’n spanningsverhaal skryf. Maar Arendsnes is nie sommer net nóg ’n spanningsverhaal nie. Hy kry ’n geloofwaardige misdaadwêreld geskep, een waarmee die Suid-Afrikaanse leser kan identifiseer. Die geskiedenis van Vlakplaas en die idee van polisiemanne wat die reg in eie hande neem en wat sommer self regter en laksman speel, is nog vlak in baie lesers se geheue. Boonop hoor mens dikwels van polisiemanne wat van moord of aanranding aangekla word. Kalvyn Botha kry weer ’n werk nadat hy die weermag verlaat. Dit is nie maklik vir ’n baie suksesvolle soldaat om in “civvie-straat” aan te pas nie. Enersyds is hy net opgelei om dood te maak, en dit is ’n vaardigheid wat nie juis in die samelewing hoog geag word nie. Andersyds het die tye verander en die destydse bosoorlog waarin hy geglo het, het intussen verdag geraak. Daarom verwelkom hy die kans om vir sy oudbevelvoerder te werk. Die oudbevelvoerder is nou ’n suksesvolle sakeman en betaal hom baie goed om die soort van werk te doen waarin hy die beste is, naamlik om teen onreg te veg en om te keer dat misdadigers slegs kort tronkvonnisse kry of skotvry wegstap. Dan is daar Lydia, die speurder wat binne die regstelsel bly. Maar haar motivering om by die polisie aan te sluit, spruit ook uit ’n soeke na reg – haar pa was die slagoffer van ’n plaasmoord en die moordenaars is nooit gevang nie. ’n Reeks ingewikkelde moorde bring uiteindelik vir Botha en Lydia bymekaar. Verraad, wapensmokkelry, bloeddiamante uit die DRK, agterdog, manipulasie en moorde, opsporings en talle geheime sorg vir boeiende leesstof. Uiteindelik maak hierdie roman ook deel uit van ’n groeiende aantal romans in Suid- Afrika wat, hoewel hulle in die eerste plek deur hul spanning boei, ook op ’n manier bydra tot nadenke oor die kompleksiteit van bestaan in hierdie land. Boonop kry Jordaan dit reg om van die karakters geloofwaardige “mense” te maak. Mense wat soos ons almal sukkel om met mekaar, dikwels juis met geliefdes, te praat oor wat eintlik in ons omgaan, mense wat vanuit ’n bepaalde waardestelsel optree en wat juis omdat hulle konsekwent is, respek afdwing, mense wat eintlik nie eers hul eie motiverings regtig verstaan nie.
Jy-weet-wie François Bloemhof LAPA Niek Naudé is ’n man met wie almal kan identifiseer. Hy is ’n gewone ou in sy laatdertigs met ’n vrou en tienerdogter. Hy is ’n huisman nadat hy sy werk verloor het. Hy sukkel met ontbyt maak, sukkel met sy selfbeeld wanneer hy skottelgoed was en sy vrou gaan werk. Sy iesegrimmigheid dra tot verslegtende verhoudings met sy vrou en dogter by. In hierdie omstandighede reageer hy op ’n werkadvertensie en hulle almal se lewens verander onherroeplik. Wat is ’n man bereid om in sulke omstandighede vir geld te doen? Geleidelik word hy deur die geheimsinnige “Jy-weet-wie” gelei om eers te erken dat hy wel haat in hom dra, voordat hy die een na die ander “toets” moet deurstaan voor die groot taak wat hy moet onderneem. Sy beginsels word stadigaan uitgekalwe. Uiteindelik ontvou die drama in die laaste paar hoofstukke met skielike wendings en verrassings. Die veranderende vertelperspektief – om ook uit die oogpunt van Niek se vrou, dogter en selfs van “Jy-weet-wie” te vertel, bou die spanning vernuftig op.