Willie Burger kyk hierdie week na Dominique Botha se roman Valsrivier
Willie Burger kyk hierdie week na Dominique Botha se roman Valsrivier
Dominique Botha se “roman” Valsrivier” eindig met ’n lang, liriese gedig wat die skrywer aan haar oorlede broer rig:
ek wou jou so graag
aan ons plek van herkoms
bind met woorde
om weer te begin
met ’n skildwag teen toeval
met ’n ompad met ’n lang potloodstreep
wat vervaag oor blou heuwels
in my vergeelde tekenboek
Hierdie versreëls vat iets vas van wat die boek is, naamlik ’n liriese poging om deur middel van taal ’n menselewe aan ’n plek vas te knoop en om sodoende teen ’n oorheersende gevoel van verlies wal te gooi wat deur die onverbiddelike gang van tyd veroorsaak word. Dominique Botha se Valsrivier word op die buiteblad ’n roman genoem. Dit sou egter ewe maklik ’n memoir genoem kon word, aangesien daar geen pogings is om haar eie gesinslede se ervarings agter fiksie te verhul nie. Dominique Botha is die dogter van Sandra Botha (eens leier van die opposisie en tans ’n ambassadeur) en Andries Botha, Vrystaatse boer en ook eens lid van die parlement. Botha gee haar eie herinnerings weer, maar die fokus val veral op haar ouer broer, Paul. Paul beskik oor ’n uitnemende intellek en is ’n begaafde sportman en sterk leier. Hy kan egter van kleins af nie konformeer nie en by iemand anders se ideale aanpas nie. Sy agteruitgang weens dwelmafhanklikheid word ’n tragiese verhaal van verlies. Dit sou moontlik wees om die skuld vir hierdie tragiese lewensloop te pak op die omstandighede waarin die Botha-kinders Kies’n boek Willie Burger kyk hierdie week na Dominique Botha se roman Valsrivier grootword: As kinders van ongelowige boere wat apartheid teenstaan op die Vrystaatste platteland word hulle uit die Afrikaanse gemeenskap gesluit. Die politieke onstabiliteit van die 1970’s en 1980’s, die spanning in die huisgesin en in die boeregemeenskap, die valsheid van die apartheidsamelewing (ook deur die titel gesuggereer) word in baie memoirs en fiksie oor daardie tydperk gevind.
Hierdie tekste is dikwels ’n skuldbelydenis oor eie onkunde en deelname aan die destydse onreg óf pogings om te wys “ons was nie almal so nie”. Valsrivier vermy al twee hierdie clichés. Veral twee aspekte van die boek val op: die taalgebruik en die manier waarop vertel word. Sommige sal die taalgebruik as liries beskryf, ander sal dit dalk sommer as mooiskrywery afmaak. Die beskrywings is noukeurig, klinkende woorde word versigtig gekies en telkens word kunstige vergelykings en metafore gebruik. Wanneer die jong plaasmeisie uit die Vrystaat skielik tussen Engelse meisies op kosskool in die Natalse middellande is, word hul taalgebruik byvoorbeeld só beskryf: “Die weer word bepaal deur wat die meisies The Berg noem. Hulle g-klank kom op die tone in en maak die deur saggies toe, nie soos in Afrikaans waar die g’s soos stoele oor ’n baksteenvloer gesleep word nie. In die somer skuur die warm wind aan humeure en in die winter sny dit soos ’n seer tand.” Of jy hierdie soort skryfwerk as “raak” en liries beskou, en of jy dit as doelbewuste mooiskrywery afmaak, hang van jou voorkeur af. Maar enigeen sal dadelik raaksien dat taal sentraal staan, dat hier ’n selfbewuste poging is om deur middel van taal ’n greep op die lewe te kry – en ’n mens sou kon redeneer dat taal altyd vals is, dat taal vervals – wat ook by die titel van die roman aansluit.
En selfs as die liriese taalgebruik jou irriteer, sal jy tóg moet erken dat die klank daarvan wel ’n besonderse atmosfeer skep. Wat jou egter laat aanhou lees, is die meesterlike manier waarop vertel word. Die verteltempo wissel voortdurend. Brokkies inligting word geleidelik aan die leser gebied – soms vooruitskouende stukkies inligting wat jou nuuskierigheid prikkel en ander kere kry jy by nabaat inligting wat vorige gebeurtenisse verhelder. Een gevaar van ’n memoir is dat dit in sentimentaliteit kan verval, of dat dit voor die versoeking om te interpreteer en te verduidelik swig. Botha vermy al hierdie slaggate omdat sy die krag van suggestie verstaan. Insidente word in fyn besonderhede beskryf, maar niks word uitgespel nie. Dit gebeur nie aldag dat ’n Afrikaanse debuutroman so mooi met ’n hardeblad en ’n stofomslag uitgegee word nie. Boonop word die boek se lof op die stofomslag deur Breyten Breytenbach besing. Hierdie aspekte dra by tot die gevoel dat hierdie boek ’n estetiese objek wil wees – van die soort wat moet help om die lewe draaglik te maak. (Dit laat ’n mens ook oor die rol van vriende en geld in die boekbedryf wonder.)
Soos enige goeie biografie of memoir oorstyg die vertelling die enkele lewe – dit word ’n dokumentering van ’n tydperk, ’n nadenke oor ons almal se agtergrond – oor die spanning tussen wit en swart en tussen Afrikaners en Engelse, gelowiges en ongelowiges, tussen klasse. Die hoogs sensitiewe persoon se worsteling om in só ’n samelewing te oorleef, word belig. Die onbegrip van mense vir mekaar, die onvermoë om te verwoord en te luister, laat ’n mens met ’n gevoel van eindelose weemoed. Random House Struik