Willie Burger kyk na Erika Murray-Theron en Karina Szczurek se werke
Willie Burger
Meestal sluit die beeld van ‘n allesoorwinnende liefde wat in hierdie soort verhale geskep word, die moontlikheid dat karakters ernstige foute kan maak, dat hulle ontrou kan wees, dat hulle dalk aangetrokke tot ander mense aangetrokke kan wees, heeltemal uit. Hierdie soort probleme of verledes van die karakters verdwyn soos mis voor hulle liefdeson.
In teenstelling met hierdie resepmatige romanses bied Erika Murray-Theron se Stippellyn ‘n baie belangrike korrektief.
Lana is ‘n vyftigjarige verpleegster by ‘n aftreeoord. Sy vind vervulling in haar werk. Hoewel sy talle bejaardesou mense in die oord verpleeg, het sy ‘n besonderse band met die bejaarde meneer Nicolic en sy vrou, Therese. Eers wanneer die ou man sterf, vind sy op die begrafnis tot haar skok uit dat sy hul seun uit London, Konrad Nicols, 20 jaar tevore goed geken het.
Wanneer sy ná die begrafnis op Konrad se versoek vir mevrou Nicolic na Clanwilliam neem om met haar dogter te gaan vrede maak, word ‘n boeiende verlede oopgekrap: van Nicolic se vlugtog uit Kroasië tydens die Tweede Wêreldoorlog, sy huwelik met ‘n Duitse vrou en hul vlugtog saam na Suid-Afrika. Die stram verhouding met hul kinders word geleidelik blootgelê en tussendeur word Lana ook met haar eie verlede gekonfronteer. Geen ideale allesherstellende liefde word voorgehou wat mense se "fabrieksfoute" kan bedek nie. Een mense se seerkry word nie sommer net heelgemaak nie. Daar kan wel aanvaarding wees.
Veral ook selfaanvaarding.
Lana bely inop ‘n stadium dat sy nie geweet het wat om met haar wilde kant te maak nie, en dat hierdie wilde kant gelei het tot die droefheid in haar eie lewe gelei het – sodat sy as vyftigjarige "skilpad in haar woonstel". Nettie, ‘n werker op die dogter se plaas, sê vir haar: "’n Vrou wat nog nie weet hoe om met haar wild side saam te lewe nie, het nog nie geleer om te lewe nie.". Lana kry dan ook hierdie raad: "Kry jouself lief, vrou. Sny jou hare. Dip jou halslyn. Jy wil oud wees voor jou tyd. En weet jy wat, dis oukei om te hou van vry."
Lana besef ‘n mens kan nie die foute in jou lewe regmaak deur te probeer boete doen nie, en, as jy jouself vir jou foute bly straf, maak jy ‘n gemors , van jou hele lewe.
Al die karakters in die roman is mense vol foute, met verledes wat besaai lê van verkeerde besluite. Geen "lank- en- gelukkig e- saam gelewe" word voorsien sonder dat daar ook maar weer probleme sal wees nie. Maar juis daarom bied hierdie roman troos vir gewone mense soos ons, mense met foute, met "wilde kante", en wys dat dit alles deel van menswees – eerder as die onrealistiese eise wat die samelewing dikwels stel.
Dit is ‘n belangrike idee in veral die Afrikaanse samelewing waar so baie skuldgevoelens mense verhinder om hul lewe ten volle te ervaar.
(Tafelberg)
Karina Szczurek is oorspronklik van Pole, maar sy woon nou in Suid-Afrika en het haar eerste roman in Engels geskryf. Invisible Others is ‘n liefdesverhaal waarin die ingewikkelde aard van liefde, seks, skuld en lojaliteit in ons samelewing ondersoek word. Die hoofkarakter, Cara, is ‘n Suid-Afrikaanse skrywer wat in ‘n affair met ‘n bekende skilder, Lucas Stutterheim, betrokke raak. Wanneer die skilder se vrou selfmoord pleeg en die media-aandag vir Cara te veel word, vlug sy na Parys.
Geleidelik herstel sy hier (danksy ‘n vriendskap met Konrad, ‘n Pool wat tydelik in Parys woon) van die traumatiese ervaring en oorkom ook haar skrywersblok. Konrad is op sy beurt in Parys nadat die liefde van sy lewe in ‘n fratsongeluk gesterf het en die ontluikende verhouding met Cara bring ook vir hom terug tot die lewe. Die situasie word egter meer kompleks wanneer Stutterheim in Parys opduik.
Die leser word enduit geboei deur nuwe geheime uit die verlede wat geleidelik onthul word. Szczurek is in hierdie opsig ‘n goeie verteller wat deur suggestie en bietjies-bietjies inligting die leser nuuskierig hou. Aan die ander kant is daar egter ook iets strams aan die vertelling, ‘n verstrengeling in fyn besonderhede wat soms eerder irriteer as wat dit help om ‘n realiteitseffek te skep; onnatuurlike dialoog en ‘n oormatig "kunstige" wêreld waarin die karakters eintlik in vreemde seepbelle bestaan waarin hulle deur mooi objekte, goeie boeke en mooi musiek omring word. Ten spyte van hierdie irriterende aspekte, – wat dalk aan ‘n debuutwerk toegeskryf kan word, – bly die verhaal boeiend.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.