Daar is min dinge so lekker as om met ‘n boek op te krul. Willie Burger het vir ons na ‘n paar gaan kyk
Sjokoladesoene
Kristel Loots, LAPA
“In elke voorstedelike vrou skuil daar ’n roekelose rebel wat gevaarlik wil leef …” Jesse Jansen se man het haar vir ’n jong meisie gelos. Dan kry sy ’n kans om ’n model vir Love Incorporated se skoonheidsprodukte te wees wat op die gewone vrou gemik is. Só begin Jesse se nuwe lewe. Iewers in haar agterkop is sy vreesbevange oor wat haar kinders en eks sal sê as hulle moet hoor wat sy met haar middeljarige lyf gaan aanvang. Selfs op ’n weggooivrou wag daar egter soms ’n avontuurtjie as sy dit waag om uit haar kokon te klim, as sy langs ’n man in sy Thunderbird beland en oor die drumpel van sy weelderige woonstel stap – al weet sy ook Bruno Bauman verkies eintlik sappige jong blaartjies en trek sy neus op vir vroue wat nie weer 40 sal sien nie.
Vrouekeur-lesers ken Kristel Loots as artikelskrywer. In hierdie storie van haar hou die lekkerte vir byna 400 bladsye aan!
Die naamlose
Mariël le Roux, Tafelberg
Carli Botha verlaat die land en gaan woon in haar oorlede ma se Italië, om ’n nuwe lewe te probeer lei, weg van haar dranksugtige pa, die pleegsorg en al die onaangename kleintydervarings op Grootvlei. Dora, wat haar eintlik grootgemaak het, laat haar dekades later weet dat haar pa op sy sterfbed lê. Carli keer tog weer terug na die plaas om haar verlede te konfronteer en geleidelik ontdek sy die redes wat agter al die lyding en probleme lê.
Abel se ontwaking
Chris Karsten, Human & Rousseau
Chris Karsten is al die volgende groot skrywer van speurromans naas Deon Meyer beskryf. Abel se ontwaking voldoen aan die mees basiese vereiste van hierdie genre: Dit is spanningsvol. ’n Moord moet opgelos word, maar dit blyk vinnig dat dit ’n ongewone moord is en die leser word in ’n grieselrige wêreld vol raaisels ingetrek. Die roman is slim aanmekaargesit en hou jou aan die raai, soos wat ’n goeie speurroman behoort te doen.
Die beste van Bizzie Lizzie
Liz Meiring, Queillerie
Die rubriek is eintlik ’n genre van sy eie. Sommige rubrieke se leesbaarheid is baie tydgebonde – teen die tyd wat die koerant of die tydskrif waarin dit verskyn het van die rak af is, het die relevansie daarvan ook verdwyn. Ander rubrieke verdien om
in boekvorm uitgegee te word. Sommige van dié bundels is net vir lekker lees, veral vir diegene wat so proe-proe wil lees. Lizz Meiring se rubrieke is van dié aard.
Toeris in Hillbrow
Andries Bezuidenhout, Human & Rousseau
Andries Bezuidenhout (Roof Bezuidenhout van die Brixton Moord & Rooforkes) se bundel kan ook as geheel gelees word. Deur al die rubrieke loop ’n fyn analise van talle van ons land se sosiale en politieke probleme. Dit word egter met ’n deernis vir die mensdom; vir die gewone mense op straat beskou. ’n Mens kry die gevoel hy sê goed wat jy ook al gedink het, maar nie so raak kon vat nie.
Plante kan praat
Jeanne Goosen, Kwela
Jeanne Goosen is veral bekend vir haar novelle Ons is nie almal so nie – ’n titel wat dikwels deur ons gebruik word, omdat dit iets raak vat wat ons almal soms ervaar. Sy’s egter ook bekend as digter en kortverhaalskrywer. Haar novelle Louoond is destyds ook tot ’n suksesvolle verhoogstuk verwerk – Kombuis-blues. Vyftien jaar ná haar vorige bundel kortverhale verskyn Plante kan praat en dis beslis nie vir lesers wat hou van romans soos Sjokoladesoene nie! Jeanne het ’n aweregse blik en ’n reguit manier van sê. Al gaan die verhale dikwels oor somber temas, is hulle betowerend juis as gevolg van die manier waarop sy vertel – soms sprokieagtig, plek-plek skreeusnaaks, altyd boeiend. Dit is verhale waaroor jy nog lank ná die lees bly wonder.
dInternasionale skrywerd
The Brief Wondrous life of Oscar Wao
Junot Díaz, Faber and Faber
Hierdie is een van die min boeke wat jy dadelik weer wil begin lees as jy klaar is. Die verskriklike vet Oscar Wao is ’n nerd wat in ’n immigrantewoonbuurt in New Jersey grootword. Sy ma kom van die Dominikaanse Republiek, maar dit is moeilik om heeltemal van die geskiedenis te ontsnap en ’n nuwe begin in ’n nuwe land te maak. Oscar raak op byna elke mooi meisie verlief, maar die een wat eindelik ook aan hom aandag gee, is die vrou van ’n polisieman in die Dominikaanse Republiek – ’n plek waar mense sonder meer in die suikerrietlande verdwyn … Die roman is slim vertel, skreeusnaaks en besonder insiggewend oor talle sake: gesinsverhou-dings, identiteit en die invloed van ’n mens se verlede op die hede. Jy leer ook sommer baie oor die geskiedenis en ingewikkelde politiek van Latyns-Amerika. Vk