Willie Burger kyk hierdie week na boeke wat vermaak, maar ook sosiale kwessies belig
Willie Burger kyk hierdie week na boeke wat vermaak, maar ook sosiale kwessies belig
Dikwels word aktuele sosiale kwessies in fiksie ondersoek. Op dié manier word die lesers enersyds vermaak deur die lees van ’n boeiende verhaal, maar andersyds word baie inligting meegedeel, op ’n manier wat die leser ook emosioneel betrek. Die leser kry ’n kans om as ’t ware vanuit die oogpunt van ’n ander mens ’n blik op aktuele sosiale kwessies te kry.
GETUIE, CHRISTINE BARKHUIZEN LE ROUX, HUMAN & ROUSSEAU Met haar topverkoperroman, Padmaker, het Christine Barkhuizen le Roux baie lesers ontroer, terwyl baie luisteraars ook vasgenael na voorlesings daarvan op RSG geluister het. Die verhaal van Katrien, die padmakerkind, wat ná baie jare weer terugloop op die paaie van haar jeug, is meesleurend vertel. In haar jongste roman, Getuie, word weer gekyk na iemand uit ’n klein subkultuur waarteen die groter gemeenskap vyandiggesind is. Die hoofkarakter, Maggie, ontmoet ná jare weer ’n skoolvriendin, Mignon. Op laerskool was hulle vir ’n klein rukkie boesemvriendinne, maar hul vriendskap het skipbreuk gely omdat Maggie se pa, maar ook die hele gemeenskap, dit vir Mignon onhoudbaar gemaak het omdat sy ’n Jehovasgetuie was. Die roman ondersoek die invloed van ’n gemeenskap se norme en die manier waarop sekere mense in- en uitgesluit word. Dit is egter ook ’n ondersoek van die vernietigende houvas wat ’n godsdiensgroep op individue kan hê. Dit is gewigtige temas en Barkhuizen le Roux lei die leser om met veel begrip en deernis na groepe en die invloed daarvan op mense te kyk. Die roman behels egter meer. Maggie ontmoet vir Mignon weer ná baie jare – as haar man al dood is en kort voor haar kleinkind in Frankryk gebore word. Wanneer Mignon selfmoord pleeg, raak Maggie ook by ’n ander Jehovasgetuie betrokke, wat tronkstraf vir moord uitdien, en sodoende leer sy geleidelik nog meer oor die effek van dié geloof op mense. In die proses ontmoet sy ook ’n ander skoolvriend – wat ’n hoë pos in die gevangenisdiens bekom het. Die verhaal gaan dus nie net oor die problematiek van ’n geslote groep se invloed op individue nie, maar dit word ook die verhaal van hul ontluikende liefde – terwyl sy dit geleidelik regkry om emosioneel van haar oorlede man los te kom.
DIS MY GEHEIM, JUANITA AGGENBACH, PROTEA BOEKHUIS In Dis my geheim, deur Juanita Aggenbach, word nog ’n gewigtige onderwerp aangepak: aanneming en ’n kind se soektog na haar biologiese ouers. In dié outobiografiese verhaal word die gevolge van aanneming en die hunkering na die biologiese familie uit drie verskillende perspektiewe vertel. Ané se lewe verander radikaal wanneer sy as 17-jarige ’n skoonheidskompetisie wen. Dit voel vir haar asof haar lewe buite beheer is en boonop is haar geliefde besig met diensplig en nie by haar nie. Wanneer sy dan swanger raak, word al die moontlikhede wat die lewe haar bied, in die wiele gery. Tweedens word ook Petra se intense verlange om ’n kind te hê, met hierdie vertelling vervleg terwyl die dogter Eloïse wat uiteindelik na haar biologiese ma, Ané, begin soek, ook vertel word. Die tydspronge tussen die hede, waar die volwasse Eloise na Ané soek, dan na die verlede, gee die leser ’n kans om elkeen van die drie se intense belewenisse te ervaar.