Franz Kafka wou hê ‘n boek moet jou ráák
“I think we ought to read only the kind of books that wound or stab us. If the book we’re reading doesn’t wake us up with a blow to the head, what are we reading for? So that it will make us happy, as you write? Good Lord, we would be happy precisely if we had no books, and the kind of books that make us happy are the kind we could write ourselves if we had to. But we need books that affect us like a disaster, that grieve us deeply, like the death of someone we loved more than ourselves, like being banished into forests far from everyone, like a suicide. A book must be the axe for the frozen sea within us. That is my belief.”
As daar een skrywer is wie se werk beslis nie sy lesers gelukkig maak nie, is dit Franz Kafka (1883-1924). Hy het sy hele lewe lank in Praag gewoon totdat hy op 41 aan tuberkulose dood is. Destyds het Tsjeggië nie as die land bestaan wat ons vandag ken nie, maar Praag was ‘n stad binne die groter Oostenryk-Hongaarse ryk. Kafka was ‘n Duitssprekende Jood en onder sy bekendste werk tel "Die Verwandlung” (Die metamorfose), Das Schloss (Die kasteel), Der Pozess (Die verhoor) en Amerika.
Hoewel sommige van hierdie verhale wel grappige voorvalle bevat (‘n man wat op ‘n oggend in sy bed wakker word ontdek dat hy in ‘n tamaai insek verander het wat, al spook hy hoe hard, nie daarin kan slaag om op sy malende pootjies te kom nie, want hy lê op sy rug) wek die meeste van sy werk ‘n beklemmende gevoel by die leser. Telkens ervaar die hoofkarakters ‘n plig, ‘n taak wat hulle moet uitvoer, maar hulle weet nooit presies wat hulle moet doen, hoe hulle dit moet aanpak en waarom hulle dit moet doen nie.
Hulle kan geen sin uitmaak van hul eie rol en plek in die wêreld nie. Joseph K in Die verhoor, kan nooit eens uitvind waarvan hy aangekla word nie en word uiteindelik ter dood veroordeel. K in Die kasteel, gaan deur eindelose burokratiese prosesse in die kasteel net om te probeer uitvind wat sy werk en posisie as landmeter presies behels. Al probeer die karakters hoe hard om uit te vind wat presies van hulle verwag word, word hulle die hele tyd deur eindelose oponthoude verhinder om uit te vind wat hulle te doen staan.
Die meeste van sy verhale loop soos die nagmerries waarin ‘n mens probeer om by die een of ander belangrike gebeurtenis of plek uit te kom, maar die hele tyd val daar dinge voor wat jou verhinder.
Kafka het aan sy vriend Max Brod opdrag gegee om al sy werk ná sy dood te vernietig. Brod het dit gelukkig nie gedoen nie (en waarskynlik het Kafka dit ook nie bedoel nie – want as jy nie wil hê iemand moet eendag jou werk lees nie, sal jy dit mos sommer self verbrand?). Die voordeel is egter dat niks van die werk as heeltemal klaar beskou kan word nie. Die skrywer sou nog altyd daaraan kon werk en verander. Die Kasteel eindig inderdaad sommer in die middel van ‘n sin.
Maar hierdie onafgehandeldheid is ‘n belangrike deel van Kafka se werk. Dit voorkom dat enige leser gemaklik ‘n finale oordeel kan uitspreek oor wat sy werk dan nou eintlik sou beteken. Vir Kafka is die wêreld nie so eenvoudig dat ons dit kan vasvat nie, en sy werk weerspieël dit. Die Kasteel is al as ‘n soektog na God, as ‘n spottende ondersoek van burokrasie, as ‘n simbool van die mens se onvermoë om sin van die wêreld te maak en selfs as ‘n outobiografie (waarin hy nooit by sy pa kan uitkom nie) gelees.
Juis die veelduidigheid van sy werk sorg daarvoor dat die leser altyd daardeur onthuts word. Dit maak jou ongemaklik. Soms wil jy net die karakters aanjaag omdat jy kan sien dat niks goeds van hul dade kan kom nie. Dikwels word jy geskok deur die skielike wendings, of deur ‘n enkele raaiselagtige sin wat lank by jou bly spook, soos: "The animal wrenches the whip from his master’s hands and whips himself in order to become the master, not knowing that this is a mere fancy generated by a new knot in the thongs of the master’s whip."
‘n Mens vind Kafka se boeke so ontstellend omdat dit jou uiteindelik met jouself konfronteer. Iets binne jouself resoneer met die ongemaklike situasies waarin die karakters hulle bevind en daarom slaan dit iets in jouself oop. Dit is natuurlik nie ‘n aangename ervaring nie,maar dit is die enigste manier waarop ‘n boek uiteindelik iets meer van jouself vir jou verstaanbaar kan maak. En dit is altyd ‘n pynlike proses.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.