Willie Burger kyk na lekkerleesboeke vir die vakansie
Willie Burger
‘n Hele klompie boeke het nou, so in die laaste deel van die jaar, verskyn, miskien juis met die oog op hierdie mark. Vir diegene wat lekker in die son op die strand wil lê en lees, is daar heelwat om uit te kies.
Die skynbaar onblusbare vraag na misdaadfiksie lei kort-kort tot nuwe debuutwerke in hierdie genre. Die lywige debuutroman deur Duane Aslett, Skoppensboer, is ‘n nuwe toevoeging tot ‘n lang lys van knap geskryfde misdaadromans.
Op die buiteblad word die roman as "’n Rex Reynecke-roman" bekendgestel en dit is duidelik dat hierdie speurder nog baie avonture gaan beleef. In hierdie eerste kennismaking met Rex Reynecke word die leser na ‘n onderwêreld van georganiseerde misdaad meegesleur waar niemand vertrou kan word nie. Reynecke se taak is om uit te vind wie die geheimsinnige Skoppensboer werklik is. Skoppensboer raak telkens van medewerkers ontslae deur twee vinnige skote te vuur en die laaste woorde wat sy slagoffers hoor, kom uit Eugene Marais se bekende gedig: "Want swart en droef, die hoogste troef … oor al wat roer, is Skoppensboer." Vinnige karre, vuurwapens met knaldempers, skurke met netwerke in Italië en Israel, beeldskone meisies en talle verrassende wendings sal liefhebbers van misdaadromans tot aan die einde boei en na nóg Rex Reynecke-romans laat uitsien.
Terwyl Skoppensboer aan die verwagtings van misdaadromanlesers voldoen, val Draalnoot vir ‘n janfiskaal deur Henry Jack Cloete nie in ‘n bekende kategorie nie. Die roman sluit aan by die idee van sogenaamde "snuff films": video-opnames van moorde wat gepleeg word waarin geen spesiale effekte gebruik word nie – daar word bloot op die sterwende mens gefokus. Hierdie opnames word deur sommige mense as vermaak beskou en daarom kan geld daaruit gemaak word.
Draalnoot gaan oor ‘n webwerf, deur Daniël Roberts bestuur, wat mense in staat stel om hul eie selfdood met behulp van hul rekenaars se kameras of hul selfone af te neem en dit op die internet te laai sodat ander mense daarna kan kyk. Vir Roberts is hierdie bloot goeie besigheid: Sy webwerf maak geld omdat mense dit aanloklik vind om na die dood te kyk – net soos wat mense graag by ongelukstonele stilhou en kyk hoe lyke uit die verwronge motors gehaal word, kyk talle mense ook graag na selfdood, asof hierdie werklike sterfgevalle – nie fiktiewe flieks met akteurs daarin nie – mense met die werklikheid konfronteer. In Roberts se woorde bied hierdie selfdoodflieks "die mees opregte, mees egte, eerlikste ding wat die bydraers ooit sal doen en sê en wat die kykers ooit sal sien".
Natuurlik bied hierdie gegewe die kans om oor selfdood na te dink. Hoewel selfdood die fokus van al die videos op die webwerf is en die verhaal grootliks om die webwerf wentel waarop na die selfdoodgebeure gekyk kan word, is die roman geen diepsinnige ondersoek van selfdood nie. In die "Nawoord" agterin die roman, word dit ook uitdruklik gestel dat dit nie die doel van die roman is om selfdood en die psigologiese probleme wat daartoe aanleiding gee, te ondersoek nie. Die roman fokus eerder op die effek van die media op mense se lewens, op die maniere waarop mense op Daniël se webwerf reageer, maar ook op hom wat ‘n soort glanspersoonlikheidstatus verwerf ná ‘n televisie-onderhoud waartydens hy oor sy webwerf praat. Daniël het die webwerf aanvanklik met bloot ‘n winsmotief begin (of so beweer hy), maar geleidelik besef hy dat hy nie regtig verstaan het waarmee hy eintlik besig was nie.
Dit is ‘n vreemd-fassinerende boek wat ‘n mens byna met ewe veel afsku as verwondering vervul. Jy deins terug en voel vervreemd, maar is terselfdertyd ook vermaak en vind (byna teen jou sin) die roman ook snaaks. Dit is ‘n interessante debuuutroman wat beslis die aandag verdien van lesers wat slegs agter ‘n boeiende storie aan lees, maar dit is ook ‘n roman wat dwing tot nadenke oor die effek van die elektroniese media op mense, begeertes en gedrag.
Vir die talle aanhangers van Chanette Paul is daar ook iets om hierdie vakansie te lees. LAPA het twee van haar vroeë, kort romanses in een band uitgegee as Eendag op ‘n Maandag. Hierin word Krinkels in die maan en Vlerke vir ‘n visvrou opgeneem: romantiese verhale wat sy geskryf het voordat sy bekendheid verwerf het met haar boeke oor die Davel-vroue of die onlangse lekker dik romans waarin aspekte van misdaadrillers en liefdesverhale vervleg word.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.