Daar was ‘n tyd wat die Afrikaanse ontspanningsliteratuur hoofsaaklik uit dunnerige boeke, geskoei op die Mills & Boon-formaat, bestaan het, maar nie meer nie
MEETSNOER,
Chanette Paul, LAPA
As ’n mens jou eers in ’n ander wêreld begin inleef, veral as daardie wêreld vol raaisels is, dan is een van ’n mens se grootste wense dat die wêreld nie moet end kry nie. Aan die een kant wil jy natuurlik hê dat die raaisels opgelos moet word, dat boosheid op sy plek gesit moet word en dat mense moet ontdek vir wie hulle regtig lief is en die kans moet kry om die “hoe” van daardie liefde uit te werk, soos Raine aan die einde van Meetsnoer. Aan die ander kant wil jy nie hê dat die einde daarvan moet aanbreek nie.
Gelukkig is Meetsnoer ’n hele 630 bladsye lank!
Chanette Paul se besluit om van die dunner romanse weg te beweeg in die rigting van die spanningsverhaal, het tot gevolg gehad dat daar nou in Afrikaans spanningsverhale met verstand, maar ook met hart is.
Meetsnoer is al die vierde boek oor speurder Gys Niemand.
Die manier waarop godsdienstige fanatisme mense se denke oorneem en die dade waartoe dit mense sal dryf, word fassinerend beskryf. Die spanning van lewensgevaar, van die misterie en van die liefde word ineengevleg. Hierdie is die ideale boek vir ’n vakansie of ’n reënerige naweek, maar wees gewaarsku, dit sal jou selfs op ’n sonskyndag in die muwwe en groen onderbos van Fluisterbos kan insleep!
DIE VERHUISING,
Sophia Kapp, LAPA
Ook Sophia Kapp se Die verhuising is ’n lekker dik boek (493 bladsye). Kampusliefde het ’n lang geskiedenis. Juis op universiteit, so tussen kindwees en die finale toetrede tot die volwasse wêreld, ontdek die meeste van ons talle kante van die liefde. Jou wêreld word groter en in hierdie groter wêreld is die liefde skielik meer kompleks. Boonop is dit ook ’n tyd waarin ’n mens se verhoudings met jou ouers verander.
Dit is Danelle se ervaring in haar eerste jaar op die universiteit waarheen sy nie wou gaan nie. Sy wou eintlik wegkom van alles en op ’n ander plek, aan ’n ander universiteit, gaan studeer. Sy kom egter geleidelik agter dat ook diegene van wie sy so graag wou wegkom, juis diegene is wat dit vir haar moontlik maak om te kan “behoort”.
’n Lekker dik boek wat jou lank laat goed voel nadat jy dit neergesit het; wat jou laat voel jy behoort.
gUit die wêreldletterkundeg
CLOUD ATLAS,
David Mitchell, Hodder and Stoughton, Londen
Ek is verbaas dat Mitchell se Cloud atlas nie meer kere genoem word as een van die indrukwekkende boeke van die afgelope tien jaar nie. David bewys hiermee sy ongelooflike skryftalent.
Die roman bestaan uit ses uiteenlopende “novelles”. Elke novelle vertel ’n gans ander verhaal, uit verskillende tydperke en elkeen is in ’n radikaal ander styl geskryf. Die roman begin met ’n joernaal van ’n reisiger in die suidelike Stille Oseaan in die 1860’s. Die woordeskat en styl hierin herinner aan Melville se Moby Dick. Die volgende deel van die roman speel af in België in die 1930’s, in die vorm van ’n briefroman. Dan volg ’n spannings/speurverhaal van die “hard-boiled”-soort uit die 1960/70’s, gevolg deur ’n ontstemmende verhaal van ’n ouerwordende uitgewer se ervarings in ’n ouetehuis. Hierna volg ’n wetenskapfiksieverhaal, iewers in ’n toekoms waarin mense nie meer kan glo dat daar ’n tyd was toe daar nie advertensies op die maan geprojekteer is nie. Uiteindelik volg ’n sesde verhaal, selfs nog baie verder in die toekoms in, in ’n tyd nadat grootskaalse uitwissing byna die hele wêreldbevolking uitgewis het. Daar is wel nog ’n paar boeke, maar niemand kan meer lees nie.
Ek weet, dit klink na wetenskapfiksie en ek is nie ’n aanhanger van dié genre nie, maar Mitchell vervleg al ses die storielyne, elk in ’n unieke styl, op ’n ongelooflike manier. Boonop laat die roman my nou nog, ’n goeie ses jaar nadat ek dit die eerste keer gelees het, nadink oor die aard van menslike (self)bewussyn, oor menswees, verhoudings en oor wat ons aan mekaar en aan die planeet doen. Vk