Willie Burger kyk hierdie week na twee boeiende boeke
Willie Burger kyk hierdie week na twee boeiende boeke
Misdaadromans boei mense om verskeie en uiteenlopende redes. Soms raak ’n mens geheg aan die karakters – Deon Meyer se Bennie Griessel is só ’n karakter op wie se terugkeer lesers gretig wag. Ander kere raak ’n mens deur die ingewikkelde intrige meegevoer. Soms weer word interessante kommentaar op ons eietydse sosiale vraagstukke gelewer. Maar altyd, in al die gevalle, is die spanning wat geskep word, deurslaggewend om ’n leser te boei. Zirk van den Berg se ’n Ander mens volg die intrige van ’n stereotipiese misdaadverhaal, maar hoewel dié plot my nie kon oortuig nie, het ek gretig enduit gelees. Ná die tyd moes ek wonder waarom ek dit eenvoudig nie kon neersit nie. Van den Berg het die roman – wat hoofsaaklik in Kaapstad en omgewing afspeel (met enkele tonele in Namibië en Pretoria) – aanvanklik in Engels as Nobody dies (2004) geskryf. Dit is in Nieu-Seeland, waar hy sedert die laat jare negentig woon, uitgegee en hoog aangeprys. Nou het hy dit in Afrikaans oorgeskryf. Van den Berg het in die 1980’s met ’n bundel kortverhale gedebuteer. Ekstra dun vir meer gevoel het verskyn in die tydperk toe kortverhale loshande die gewildste genre was. Sy roman Wydsbeen (1992) het die historiese figuur Estienne Barbier as hoofkarakter gehad (soos in André P Brink se Inteendeel en in twee van Dan Sleigh se jeugromans uit die 1970’s). Die hoofkarakter in ’n Ander man is boeiend. Daniël Enslin word deur mense rondom hom kwalik geneem omdat hy baie talentvol is, maar skynbaar geen ambisie het nie. Hy erken self: “Ek glo nie in die lewe nie.” Maar dan word hy ’n ooggetuie van ’n misdaad en loop met ’n selfverwyt dat hy niks gedoen het om dit te verhoed nie: “Daniël het al van tyd tot tyd insigte gekry, gedagtes wat hom tot in sy fondamente skud omdat hulle so belangrik lyk, maar dit het hom nog nooit tot aksie aangespoor nie. Sy innerlike en uiterlike lewe volg heel verskillende agendas. Nou lyk hierdie apartheid nie meer doenbaar nie.” As hy tóg besluit om as getuie in ’n moordsaak op te tree, loop heelwat skeef en hy moet in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas word, hy moet “’n ander mens” word. Daniël beland in die hande van ’n pragtige polisievrou wat besonder suksesvol daarmee is om toe te sien dat getuies onder haar sorg nooit weer opgespoor word nie. Uiteindelik verander sy ook in ’n ander mens. Die groot rede waarom die teks die leser enduit boei, is die taalgebruik. Van den Berg is ’n taalvaardige skrywer, en elke beskrywing van ruimte of wind of stof is meesleurend. Zirk van den Berg, 2013, ’n Ander mens, Kaapstad: Kwêla
Klara
Op die buiteblad word Mariël le Roux se derde roman, Klara, as “onheilig snaaks, maar ook hartverskeurend” beskryf. Ek het dit eintlik andersom ervaar: “hartverskeurend, maar ook soms snaaks”. Klara en haar twee susters word byna sorgloos op Boplaas groot, maar dan sterf haar pa onder ’n trekkerwiel en hulle moet saam met hul ma op die dorp gaan woon. Hier beleef hulle baie ellendes. Haar ma verval in ’n depressie en hou op met praat. Hulle sukkel om ’n bestaan aan die verkeerde kant van die spoor te maak. Klara se susters ontsnap oënskynlik uit die sukkelbestaan – een deur met ’n half-Duitser van die bodorp te trou en naby die Swartwoud in Duitsland te gaan bly, die ander het ’n rebelse aard wat haar nie laat vaspen nie. Om als te kroon, raak Klara se ma weer swanger en Klara sorg vir haar swygende ma en haar ma se jongste kind. Le Roux gebruik talle tydspronge. Telkens word ’n situasie beskryf en dan geleidelik onthul hoedat alles tot hier verloop het. Deur hierdie metode herhaaldelik aan te wend, bly die leser deurentyd nuuskierig. Eers aan die einde, wanneer Klara self Duitsland besoek, word nog verdere onthullings gemaak. Gelukkig is daar ook haar verbintenis met Hannes, wat vir Klara ondersteun. Net soos in Die naamlose, Le Roux se vorige roman, sal die neiging tot stereotipering dalk sommige lesers hinder en geen nuwe ervarings of emosies word ondersoek nie, maar die roman bied beslis ’n boeiende blik op die manier waarop ’n mens se lewe heen en weer gegooi kan word deur omstandighede buite jou beheer – en hoedat ’n mens tóg ten spyte daarvan sin, geluk en soms selfs pret kan vind. Mariël le Roux, 2013, Klara, Kaapstad: Tafelberg Vk