Willie Burger vertel meer van die swaarkry van mense in Carol Campbell se ‘n Huis vir Ester
Willie Burger
Vir mense met geld om boeke (of hierdie tydskrif) te koop, is die land se behuisingskrisis, die diensleweringskrisis en die korrupsie, grondbesettings en protesaksies wat daarmee verband hou, bloot woorde wat in die nuus opduik. Wanneer die woorde "korrupsie", "HOP-huise", "behuisingskrisis" en "gewelddadige prostesaksie" in gesprekke opduik, is dit dikwels slegs in klagtes oor die regering se tekortkominge en om die staat se onvermoë om korrupsie uit te wis en om in die groot vraag na dienslewering te voorsien, uit te wys. (En boonop word hierdie opmerkings selfs met ‘n mate van leedvermaak gemaak omdat mense daarmee wil wys hoedat hierdie regering nie die mas kan opkom nie.)
Die verskrikking wat egter deur gewone mense ervaar word, deur mense wat vir behuising en dienste kwalifiseer en dit nie kan kry nie, gaan baie middelklaslesers net verby. Dalk is baie mense deur die mediadekking van protes uitgeput en gedesensitiseer. Die redes waarom mense hulle uiteindelik tot onwettige besettings wend en hulle uitlewering aan korrupte beamptes, hul daaglikse desperate stryd om toegang tot elektrisiteit, water, kos en skuiling, word egter dikwels vergeet.
Carol Campbell se ‘n Huis vir Ester is ‘n roman waarin hierdie soort frustrasies en die swaarkry van gewone mense beskryf word. In Oudtshoorn brand Ester se "hok" in ‘n agterplaas af weens ‘n fout met die oorlaaide onwettige elektrisiteitsverbinding. Haar uitgerekte stryd om die huis te kry waarop sy wettig aanspraak kan maak, word in besonderhede beskryf.
Ester is aan onverskillige geregsdienaars, onbevoegde amptenare en bowenal korrupte individue uitgelewer wat bloot op selfverryking ingestel is en wat ander, onkundige mense gewetenloos kul en omkoop.
Moord en intimidasie is algemeen. Mense leef voortdurend in vrees sonder enige toegang tot regshulp. Selfs as ‘n korrupte amptenaar deur die hele gemeenskap terregestel word, bring dit geen verligting nie want, soos Liedjie dit stel: "… daar sal altyd ‘n skollie wees wat die mense gaan rob en huise vir vrinne en mense gee wat bribes kan betaal."
Hierdie uitsigloosheid van die armste mense word selde behoorlik begryp – nóg deur munisipale maghebbers of die regering, nóg deur die middelklas. Campbell se roman maak ‘n venster op hierdie wêreld oop.
Hiermee sluit Campbell by ‘n tradisie in die romankuns aan: romans wat by sosiale probleme betrokke is. In Afrikaans is die bekendste vergelykbare roman seker Elsa Joubert se beroemde Die swerfjare van Poppie Nongena.
‘n Sosiale roman word gewoonlik as ‘n roman beskryf waarin ‘n heersende sosiale probleem, dikwels veroorsaak deur ras-, geslag-, godsdiens- of klassevooroordele, ondersoek word deur die effek daarvan op ‘n spesifieke karakter te beskryf. Deur die belewenis van ‘n spesifieke mens word die leser van die sosiale probleem bewus gemaak en word die implikasies daarvan as ‘t ware deur die leser beleef.
Té maklik word dié wat onder ‘n diskriminerende stelsel ly, uit ‘n samelewing weggedink, of word die lyding heeltemal abstrak gemaak. Wanneer ‘n roman die persoonlike belewenis van ‘n enkele individu skilder, word die leser egter verhinder om oor iets soos "behuisingsnood" in abstrakte terme te dink en die leser raak by die lot van een daklose mens betrokke.
Armoede en die ontsettend haglike lewensomstandighede van mense sonder sanitasie, sonder skuiling, sonder toegang tot die mees basiese behoeftes en die ondeurdringbare mure van burokrasie wat hierdie situasie laat voortbestaan, is dikwels die fokus van sosiale romans.
In die Engelse literatuur dink ‘n mens aan romans soos Oliver Twist of Hard Times deur Charles Dickens as voorbeelde van sosiale romans terwyl John Steinbeck se The Grapes of Wrath ‘n bekende voorbeeld uit die Amerikaanse literatuur is. Victor Hugo se beroemde Les Misérables word ook dikwels as ‘n belangrike sosiale roman beskou.
Romans soos hierdie word soms gekritiseer omdat dit baie keer deur bevoorregte mense geskryf én gelees word wat dan die skoonheid van die romans bewonder (selfs ‘n musiekblyspel daarvan maak) en met hul lewens aangaan. Baie selde is dit romans wat deur die miskende mense self geskryf en gelees word en wat hulle tot opstand aanspoor – soortgelyk aan Julius Malema se pogings.
Kirby van der Merwe se gevoelige vertaling het seker gemaak dat die roman ‘n outentieke Afrikaanse klank het. Campbell se navorsing is deeglik en die probleem wat sy belig, is roerend. Die roman werk nogal met stereotipes en neig tot oorverduideliking en voorspelbaarheid en is daarom nie uit ‘n estetiese oogpunt in dieselfde liga as Poppie nie. Nietemin is dit ‘n boek wat elkeen behoort te lees, want dit is ‘n probleem wat elkeen in hierdie land raak, en hierdie roman help lesers om nie oor die probleem te dink nie, maar oor die mense, en dít spoor aan tot beter begrip – en hopelik ook optrede.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.