Willie Burger kyk na ‘n boek wat in jou versameling behoort te wees asook twee lekker-lees-boeke
Willie Burger
Breyten Breytenbach is ongetwyfeld een van die heel beste woordtowenaars wat ooit in Afrikaans gedig het. Sedert Die ysterkoei moet sweet in 1964 verskyn het, was Afrikaanse poësie nooit weer dieselfde nie. Byna elke Afrikaanse digter daarna is op die een of ander manier deur hom beïnvloed en elkeen wat poësie lees, is al deur Breytenbach se poësie verstom, ontstig, ontroer en begeester.
Hy is bekend vir sy asemrowende liefdesgedigte (‘n versamelbundel van 99 liefdesgedigte, Lady One, is in 2000 uitgegee), politieke gedigte wat selfs teen hom in die hof gebruik is (wie kan ooit die ontstellende “brief uit die vreemde aan slagter” vergeet?) en gedigte wat byna elke aspek van lewe en dood bedink. Kenmerkend is sy spel met taal, verwringing van woorde en verstommende metafore wat die leser se verbeelding op hol jaag sodat alles wat bekend was, meteens vreemd en anders lyk.
Breytenbach is een van die mees uitgesproke kritici van Afrikaners se stiksienigheid, tropmentaliteit en selftevredenheid, maar ook een van die mees uitgesproke kampvegters vir Afrikaans, vir die behoud van verskeidenheid van tale en stemme. Hy is nie alleen so ‘n belangrike digter net omdat hy telkens daarin slaag om ‘n nuwe rigting in te slaan, of om in bundel ná bundel ‘n mens met nuwe beelde en metafore te verras nie, maar die omvang van sy oeuvre is so groot dat dit seker loshande die grootste rakruimte van enige digter van die Afrikaanse poësie inneem. Digbundels word oor die algemeen slegs in klein oplae gedruk en dikwels is hulle spoedig, ná enkele jare, nie meer beskikbaar nie. Daarom is dit lofwaardig dat Human & Rousseau begin het om Breytenbach se werk in versamelbundels beskikbaar te stel.
In 2001 het Ysterkoeiblues verskyn, waarin al Breytenbach se bundels van 1964 tot 1975 opgeneem is. Hierop volg Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1976–1983 in 2005 en pas het Die singende hand verskyn, waarin al sy bundels van 1984 tot 2014 opgeneem is. Die versamelbundels word al dikker, want Breytenbach word al produktiewer. Die singende hand is 744 bladsye dik. As jy egter net een boek van Afrikaanse poësie mag besit, behoort dit hierdie een te wees. Van Breytenbach se beste bundels is hierin opgeneem: Nege landskappe van ons tye bemaak aan ‘n beminde uit 1993 is ‘n hoogtepunt in sy oeuvre, maar ook Papierblom en veral die wonderlike Die windvanger, maak deel van Die singende hand uit. Koop hierdie boek. Laat hom op die tafel lê en slaan hom elke dag sommer op enige plek oop en lees bietjie. Jy hoef nie te probeer verstaan nie, jy kan net terugsit en lees en die metafore oor jou laat spoel, die ritme, die ligtheid en die donkerte, die spel en die vermaak. Jy sal hoor hoe die digter se hand begin sing, en spoedig sing jy saam.
Vir lesers wat eerder deur misdaad en liefde vermaak wil word, is daar ook genoeg plesier. Mense kla dikwels dat daar nie genoeg leesstof in Afrikaans vir tieners is nie. Cecilia Steyn se Hartbreker is die tweede roman in die “Tienerharte”- reeks wat in hierdie leemte voorsien. Dit is ‘n romantiese reeks met avontuur, aksie en hartstog wat volgens die uitgewers nie slegs vir ouer tieners geskik is nie, maar ook deur volwassenes geniet sal word.
Katoog is Jeanette Stals se eerste misdaadroman wat by LAPA verskyn. ‘n Jong speurder, Luna, moet die raaisel oplos van ‘n meisie wie se lyk in ‘n stroompie gevind is. Soos wat sy verder soek, raak sy nie alleen by ‘n donker wêreld van dwelmmisdaad betrokke nie, maar eintlik word die hele probleem van armoede in die gemeenskap op die voorgrond geplaas. Luna kan nie help om betrokke te raak nie – maar betrokkenheid maak ‘n mens natuurlik ook kwetsbaar. Boonop is daar ook ‘n luitenant wat saam met haar in die speurdiens werk wat in haar belangstel. Sodoende word lesers nie alleen deur misdaad en dreigende gevaar nie, maar ook deur die liefde in spanning gehou.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.