Nie almal hou van letterkunde nie
Willie Burger
Miskien is hierdie benadering vergelykbaar met ‘n dierkundige wat besluit om ‘n studie van die luiperd te onderneem en wat daarom ‘n luiperd soek, doodskiet en dan oopsny en al die organe, die skelet, die vel en die spiere een-een uitsny en uitstal. Die benadering is dus om die luiperd "uitmekaar te haal" in al die kleiner dele waaruit dit bestaan, om sodoende te probeer om die geheel, die luiperd, te leer ken en verstaan.
Deur so ‘n deeglike analise en beskrywing van die luiperd kan ‘n dierkundige natuurlik baie kennis inwin. Dit kan egter nooit ‘n omvattende kennis oor luiperds wees nie. (En of dit liefde vir diere by die deursnee-dierkundestudent sal kweek, is te betwyfel.)
Die probleem is dat hierdie manier van ondersoek nie baie inligting kan bied oor die luiperd se leefgewoontes nie. Die manier waarop die luiperd met ander luiperds omgaan, die luiperd se jaggewoontes, die manier waarop die luiperd met sy prooi saamleef en wat sy vyande is; hoe die seisoene die luiperd raak, hoe groot die gebied is wat ‘n luiperd bewoon, waar die luiperd ‘n maat kry om voort te plant, waar en hoeveel water hy drink, hoe vinnig luiperds kan hardloop, en talle ander aspekte kan kwalik uit ‘n dissektering van ‘n dooie luiperd afgelei word. Om hierdie soort inligting te bekom, moet luiperds ook in hul verhouding met die omgewing waarin hulle voorkom, bestudeer word.
In sekere opsigte stem literatuurstudie hiermee ooreen. Aan die een kant val die klem van literatuurstudie op die noukeurige lees van ‘n enkele teks, soos wat ‘n enkele luiperd ondersoek kan word. Hoe die teks inmekaarsteek en die taal gebruik word, word uitgepluis en beskryf.
So ‘n fokus op die noukeurige lees van ‘n individele teks is die basis van literatuurstudie en word ook "teksanalise" genoem. Teksanalise is gerig op hoe die teks "werk" en dit vereis ‘n soort "tegniese vaardigheid" en woordeskat om ‘n teks deeglik te kan beskryf. Daarom is dit nodig dat onderwysers begrippe aan leerlinge verduidelik. Net soos wat ek nie die luiperd behoorlik kan beskryf sonder ‘n deeglike kennis van fisiologie nie, kan ek ook nie ‘n literêre teks ondersoek sonder deeglike kennis van die taal en van vertelwyses en poëtiese tegnieke nie.
Die teks kan egter, net soos die luiperd, nie na behore ondersoek, waardeer en geniet word slegs deur ‘n fyn analise daarvan nie. Net soos ‘n studie van die luiperd ook die die luiperd se interaksie met ander luiperds en sy habitat insluit, is dit noodsaaklik om ‘n teks in sy "habitat" te bestudeer.
Die implikasie is dat óók gekyk word na die verhouding van die teks met ander tekste en na die verhouding van die teks tot die wêreld waarin dit voorkom. Enersyds val die fokus op die outeur, die leser, die uitgewer, die verspreiding, die resensering, die plek van die teks in ‘n literêre tradisie en die teks se verhouding met ander tekste. Andersyds word daar in elke teks ook na die wêreld buite die teks verwys – word die wêreld waarin ons leef op ‘n spesifieke manier aangebied en wat daarom ons begrip en ervaring van die wêreld beïnvloed.
As die "literêre habitat" nie aandag ontvang nie, kan leerlinge maklik verveeld raak en begin dink dat letterkunde eintlik niks met hulle en hul wêreld te make het nie.
Danie Marais se nuwe digbundel, Solank verlange die sweep swaai, het pas by Tafelberg verskyn. Hierdie is een van die beste gedigte daaruit:
Skemerkelkie
Dit was moeilik.
Dit het lank geneem,
maar ek het dit –
aanvaar:
Ek is soos almal, alleen
sonder skuld of verdienste
uitgelewer
aan toeval en tyd.
Ek het troos begin vind
in die teer onverskilligheid van die kosmos,
geleef vir die wispelturige hier en nou getroos
én gejaag deur die belofte van vergetelheid.
As skoonheid my nou net wil uitlos,
as die son net nie so klokslag vuur
uit die Banhoekberge wou slaan nie,
as die Helshoogtepas wou ophou
om so verraderlik met kleur en skadu te speel,
sou ek dalk rus kon vind
in die holte waar my siel moet wees.
Maar nou is ek ‘n man wat nie aan spoke glo nie
en tog gereeld deur die dooies besoek word;
‘n man diep onder die indruk van sy nietigheid toevallig geteister
deur vier afsydige jaargetye en die verregaande
sonsondergange in die Boland.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.