Is jy lus vir ‘n klompie ongewone verhale, sprokies of iets wat die aard van ons bestaan deurgrond? Willie Burger beveel hierdie boeke aan
OOR KRYGERS, KORRELKOPPE EN KONKELAARS. ONGEWONE VERHALE UIT ONS VERLEDE
Max du Preez, Zebra Press
Vir baie mense roep die woord “geskiedenis” nare herinnerings op van vervelige onderwysers en ritse datums. Talle mense sê sommer maklik dat hulle niks met die geskiedenis uit te waai wil hê nie – hulle leef in die hede. Almal hou egter van lekker stories oor interessante mense.
Max du Preez het sy boek juis vir sulke mense geskryf. Hier is geen vervelige relaas oor die verlede nie. Max is immers ’n gesoute joernalis en hy vertel boeiende stories van mense uit ons land se geskiedenis. Daar is talle interessante mense: skelms en korrelkoppe, soos die titel aandui, maar ook denkers en sagte mense wat op ’n merkwaardige manier bygedra het om ons land te maak wat dit vandag is. Max skryf in die voorwoord dat hy nie glo dat Van Riebeeck se storie net Afrikaners en Shaka se storie net Zoeloes se geskiedenis is nie. Al die stories van al die mense in die land is ons almal se geskiedenis. Hy diep die vreemdste verhale op oor mense soos Makhanda, die “Swart Simson” van die Oos-Kaap, David Pratt, wat probeer het om Verwoerd te vermoor, die Duitse wesies wat in 1948 na Suid-Afrika gebring is, die talle legendariese karakters van die Gariep en oor die broedertwis tussen generaals Piet en Christiaan de Wet.
Die verhale is boeiend vertel (al is die Afrikaanse vertalings uit sy oorspronklike Engelse boeke nie oral ewe gemaklik nie) en omdat die stukkies kort is, kan ’n mens dit in afknyptydjies lees. Uiteindelik bied dit ’n fassinerende blik op die verlede van die land en só bied dit ook insig in hoe dinge vandag is.
DIE MOOISTE SPROKIES
VAN GRIMM
Marita Van der Vyver, Illustrasies deur Piet Grobler, Human & Rousseau
Sprokies is dikwels van die eerste stories waarmee ons grootword. Die vorm waarin kinders deesdae meestal met die sprokies kennis maak, is deur Disney-weergawes. Hierdie weergawes is dikwels versoet en van gruwelikhede en geweld gesuiwer.
Die Grimm-broers, Jacob en Wilhelm, het in 1806 begin om mondelinge vertellings in Duitsland op te teken – eintlik omdat hulle in mense se taalgebruik geïnteresseerd was. Teen 1857 het hulle 211 sprokies en volksverhale opgeteken. Onder hierdie vertellings tel die heel bekendste sprokies – Aspoestertjie, Doringrosie, Sneeuwitjie, Hansie en Grietjie en Rooikappie.
Marita van der Vyver het reeds in die vroeë jare tagtig ’n volledige versameling van Grimm se verhale in ’n lewendige, idiomatiese, lekkerlees-Afrikaans vertaal (heruitgegee in 2006). Hierdie nuwe boek bevat ’n keur van haar gunstelinge (baie van die bekendste sprokies) uit die volledige versameling. Die boek is besonder mooi uitgegee en die illustrasies deur Piet Grobler is kleurryk, wat dit baie meer kindvriendelik maak as die volledige versameling met die donker prentjies en fyn druk in kolomme. Die tydlose verhale lees lekker voor en kinders wat al self kan lees, geniet hierdie boek. Dit is ’n onontbeerlike boek vir kinders, maar dit is ook vir volwassenes ’n verfrissende leeservaring.
Uit die wêreldletterkunde
THE UNBEARABLE LIGHTNESS OF BEING
Milan Kundera, Faber & Faber
The unbearable lightness of being is een van die boeke wat elkeen eenvoudig in een of ander stadium behoort te lees. Moenie dink jy het mos al die rolprent gesien, daarom hoef jy nie die boek te lees nie. Dit was dalk die moeite werd om die rolprent te kyk net vir Juliet Binoche, maar eintlik is daar weinig ooreenkomste tussen die rolprent en die boek.
Die gebeure vind in Praag, tydens die 1968-inval deur Rusland, plaas. Hierdie krisismoment in die geskiedenis van Tsjeggo-Slowakye en die voorafgaande tydperk van die sogenaamde “Praagse Lente”, bied die agtergrond waarteen die krisis van ons menslike bestaan bedink word.
Die hoofkarakter, Tomas, is met Tereza getroud, maar hy het talle verhoudings met ander vroue, asook ’n langdurige liefdesverhouding met ’n kunstenaar, Sabina. Vir Tomas is seks en liefde “ligte” sake, terwyl dit vir Tereza groot “gewig” dra en sin gee. Omdat niks herhaal kan word nie, dra geen gebeurtenis vir Tomas meer gewig as ’n ander nie, maar so ’n ligte bestaan word ondraaglik, omdat ons, soos Tereza, na gewig verlang.
Soos al Kundera se romans, is hierdie roman ’n manier van nadink, moontlik gemaak deur die storie. Dit is dus nie ligte leesstof nie, maar baie insiggewend oor die aard van ons bestaan. Vk