Willie Burger kyk hierdie week na drie uiteenlopende boeke
Willie Burger
Dit was die jong Maria Phalime van Soweto se droom om ‘n dokter te word. Haar ouers het haar van kleins af aangemoedig om te leer en sy het die geleenthede wat sy gekry het, aangegryp. Uiteindelik het haar droom waar geword: Sy het van ‘n beskeie agtergrond tot gekwalifiseerde dokter gevorder.
Toe word haar droom egter ‘n nagmerrie. Die omstandighede waarin sy moes werk, die ontoereikende toerusting en ondersteuning en die chaos in die bestuurstrukture van die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel het haar heeltemal ontnugter. Ná slegs ‘n paar jaar het sy haar droom laat vaar en, soos die titel van die boek dit stel, weggeloop van die mediese professie. Hierdie boek is egter ‘n nadoodse ondersoek op haar droom. Sy probeer presies vasstel waarom sy nie langer as dokter kon praktiseer nie. Haar ondersoek is egter nie net ‘n gekrap in haar eie psige nie, dit word ‘n uitgebreide ondersoek na die gesondheidstelsel in Suid-Afrika.
Phalime het onderhoude met talle ander dokters gevoer wat, soos sy, ook nie meer kans gesien het om verder as dokters te praktiseer nie óf wat die openbare gesondheidsektor verlaat het om in die privaat sektor te gaan werk, óf wat hul heil in die buiteland gaan soek het. In almal se verhale duik dieselfde woorde op: traumaties, ongesond, gek, oorweldigend. Al haar onderhoude en gesprekke bevestig dat die land se gesondheidstelsel in ‘n groot gemors is. Dit is grootliks te wyte aan onbekwame leierskap – politieke aanstellings in plaas van die aanstel van bekwame bestuurders – van hospitaalvlak tot streeks- en nasionale vlak.
Sy vertel egter ook stories van dokters wat saam met haar studeer het, wat deur dieselfde trauma gegaan het, maar wat nogtans steeds binne die stelsel voortgaan; mense wat daagliks lang ure in skrikwekkende omstandighede werk. Sy erken dus geredelik dat al die skuld nie voor die stelsel gelê kan word nie. Om bloot meer geld in die stelsel te pomp, is ook nie ‘n oplossing nie, soos wat duidelik blyk uit die ervaring van dokters wat in ander lande gaan werk het en hul stories met haar gedeel het.
Universiteite se opleiding is nie altyd voldoende vir dokters wat in ons land se openbare gesondheidstelsel ‘n diens moet lewer nie (en veral ook nie die opleiding wat sommige in Kuba ontvang nie!). Uiteindelik bied Postmortem ‘n besonder insiggewende blik op die opleiding en lewe van jong dokters in ‘n disfunksionele stelsel. Maar dit is ook ‘n boeiende en eerlike verhaal van ‘n enkele mens se ervarings.
Die boek word deur Tafelberg uitgegee
Twee nuwe ou-Kaapse verhale
As die realiteit van ons land se gesondheidstelsel, armoede en MIV vir jou te veel word, is daar altyd ‘n moontlikheid om, ten minste tydelik, na ‘n ander, romantiese wêreld te onstnap. Sarah du Pisanie se jongste boek, Liefde in die ou Kaap, kan jou daarmee help.
Daar was ‘n tyd toe ou-Kaapse verhale die stapel-leesstof van baie Afrikaanse lesers was. Romantiese verhale oor die ou-Kaap deur skrywers soos Willie Martin, Gerrie Radloff, Elmar Steyn, Karel Kielblock en Mike Heine is voos gelees in die biblioteke en swaardvegtende here, skobbejakke, seerowers en beeldskone adellike dames teen die agtergrond van die Kasteel en Tafelberg was presies die regte bestanddele vir heerlike ontsnapping gedurende die 1960’s en 1970’s.
Vandag bied seilskepe, swaarde, fyn Franse dames, ruwe Vryburgers en korrupte VOC-amptenare teen die agtergrond van Tafelberg steeds ‘n romantiese agtergrond vir meevoerende liefdesintriges.
Liefde in die ou Kaap bevat twee verhale van ongeveer 150 bladsye elk: "Don Poseidon" en "Lilie". Die eerste speel in 1790 tydens die Franse adellikes se vlug na die Kaap af, terwyl "Lilie" in die vroeë 1800’s afspeel. In albei gevalle staan ‘n vrou se liefde vir ‘n man met wie sy nie eintlik ‘n verhouding mag of behoort te hê nie, sentraal.
Die boek word deur LAPA Uitgewers uitgegee
‘n Nuwe digbundel
TT Cloete het op 31 Mei vanjaar sy 90ste verjaardag gevier.Ouderdom verhoed hom egter nie om nog te dig nie. ‘n Lywige nuwe digbundel, Karnaval en Lent, het vroeë vanjaar verskyn. Soos altyd in sy werk, is daar talle gedigte waarin oor die wondere van die heelal besin word. Telkens poog hy ook om God se hand in die betowerende wondere van die kosmos te sien. In talle gedigte word ‘n walging oor menslike handeling as ‘n wanklank in God se kosmos uitgespreek.
energie
ironie…
energie
is onontbeerlik vir die skryf van poësie
vir werkersklastreine vir Berlyn
The White House en ‘n Egolimyn
vir Hongkong en die hondekosmark
vir my rekenaar en yskas
my selfoon en tv my radio
energie maak kweekhuisgas
die berei van spare rib van ‘n vark
en ‘n hamburger beteken
gif vrygestel in ‘n restaurant
Coke ingereken
Die boek word deur NB-Uitgewers uitgegee
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.