Willie Burger kyk na ‘n paar nuwe uitreikings
Willie Burger kyk na ’n paar nuwe uitreikings
Hierdie drie spanningsromans bevestig dat spanningsverhale nie slegs ontspanning hoef te bied nie, trouens, spanningsromans het in ons tyd in ’n sekere sin die plek van sogenaamde “betrokke literatuur” ingeneem. Dit bied een van die min plekke waar sosio- politieke situasies bedink word, waar kommentaar op ons samelewing gelewer word en waar die leser gekonfronteer word en self moet besin oor sy of haar eie bestaan, juis nou en in hierdie land.
Insomnia deur Leon van Nierop – LAPA Spannende verhale oor speurders, lyfwagte, ontvoerings, moorde en smokkelaars is baie gewild. In hierdie soort boeke is spanning sentraal. Spanning is die gevoel van onsekerheid wat by die leser ontstaan oor wat volgende met die karakters gaan gebeur. Dit is nie nodig om Vrouekeur-lesers iets oor Leon van Nierop se Insomnia te vertel nie. Hierdie roman is op sy gewilde vervolgverhaal hier in ons tydskrif gegrond. Ons hoor sy stories oor die radio, sien Wolwedans in ons fliekteaters en lees sy stories in ons tydskrif. En nou het ons die kans om die vervolgverhaal as geheel te lees, wat beteken dat die spanning nie meer tot die volgende uitgawe uitgerek word nie. Moet net nie te veel nagte wakker bly om dit te lees nie, want slaaploosheid, só lees ’n mens in hierdie roman, kan vreeslike gevolge hê!
Skaduwee deur Carel van der Merwe – Umuzi Carel van der Merwe (skrywer van Nasleep en Geldwolf) se derde roman, Skaduwee, het pas verskyn. En dit is weer eens ’n uitstekende roman. Carel slaag daarin om jou te laat voel of jy nie fiksie lees nie. Lesers wat Nasleep gelees het, sal vir Paul du Toit onthou. Paul du Toit, wat in Londen as veiligheidswag werk, na sy vrou soek, sukkel om die verlede te verwerk en wat met sy verlede voor die WVK gekonfronteer word. Al word die aard van Paul se betrokkenheid by die voormalige weermag eers aan die einde van daardie roman ten volle onthul, ken ’n mens hom nog nie werklik nie. In hierdie roman gaan Paul se verhaal verder. Hy is steeds besig met sekuriteitswerk in Londen en hy en Monica is nou al tien jaar bymekaar. Hy keer na Suid-Afrika terug in diens van ’n Britse multimiljoenêr. Die reis is opnuut ’n konfrontasie met sy verlede, met sy land, sy identiteit. En dit is ’n boeiende avontuur saam met Amerikaanse en Britse geheime agente. Skaduwee is besonder goeie spanningsleesstof. Maar dit is veel meer as bloot ontspanningslektuur. Dit stem jou tot nadenke oor ’n mens se verhouding met ander, met skuld,
Onse Vaders deur Karin Brynard – Human & Rousseau ’n Ander naam wat sedert die verskyning van Plaasmoord dadelik by ’n mens opkom wanneer dit oor spannende polisiesake gaan, is Karin Brynard. Haar tweede roman, Onse vaders, berus kennelik op deeglike navorsing. Die ruimte wissel van die Wes-Rand tot Stellenbosch, van townshipsinkhuisies tot miljoenêrswonings en die veld (waar hiënas skuil). ’n Mens voel of jy nie grond raak nie soos wat die verhaal jou meesleur. Veral Karin se dialoog is indrukwekkend. Sy gee aan elke karakter ’n eie stem met unieke taalgebruik wat jou soms kan laat lag te midde van al die verraad en geweld