Willie Burger kyk vandeesweek na drie boeke wat jy kan lees as jy ‘n behoefte het om meer oor die liefde, affairs en die lewe te wete te kom
DIE MOOSTE AFRIKAANSE LIEFDESGEDIGTE
Fanie Olivier, Human & Rousseau
Ons weet nie ons weet nie
hoe ver die liefde lê nie
die wat sê die weet nie
die wat weet die sê nie
Al weet nie een van ons, in Van Wyk Louw se woorde, hoe ver die liefde lê nie, probeer elkeen om in een of ander stadium “ek het jou lief” só te sê dat die geykte woorde aan sy of haar unieke en opwindende nuwe ervaring van toegeneentheid, dankbaarheid, blydskap en weëmoed uitdrukking gee. Tog vind ons telkens dat ons woorde te kort skiet om liefde raak te vat, daarom gaan ons so graag terug na die digters se woorde. Die digters is juis diegene wat woorde anders staan maak om op ’n nuwe manier te sê “ek het jou lief” en om sodoende ook ’n ander manier van liefhê te ontdek; ’n nuwe aspek van liefde te belig.
Fanie Olivier het reeds meer as twee dekades gelede die eerste keer ’n keuse uit die “mooiste Afrikaanse liefdespoësie” saamgestel. Intussen het die bloemlesing talle herdrukke en ’n paar hersienings beleef, waarvan hierdie die jongste is. Die bloemlesing is uitgebrei en die gedigte is chronologies volgens die publikasiedatum gerangskik – wat beteken dat al die gedigte van een digter nie noodwendig bymekaar is nie. Elkeen sal ’n paar gunstelinge hier ontdek wat ou herinneringe gaan roer, asook baie nuwe maniere om na die liefde te kyk. Só ’n versameling kan ’n mens nie juis van voor tot agter sit en deurlees nie, tensy jy regtig baie verlief is, maar hou die bloemlesing byderhand en lees eke dag so ’n paar – al is dit net terwyl jy vir jou rekenaar wag om aan te gaan of vir jou e-pos om af te laai. Jy sal sommer lus voel om iets vir iemand vir wie jy lief is voor te lees of aan te stuur.
’n AFFAIR OM TE VERGEET
Marie Opperman, Zebra Press
Oor meer as 240 bladsye heen, neem Marie Opperman haar lesers saam op haar ervaring van haar man se affair. Sy ontdek dat hy ’n affair het wanneer sy ’n SMS-boodskap op sy selfoon lees. Van hier af gaan sy obsessief op soek na al die inligting wat sy oor haar metgesel en die ander vrou in sy lewe kan versamel. Daarbenewens deel sy ook al haar emosies in ’n dagboekstyl met die leser.
Wat die boek sinvol maak vir talle ander mense wat deur affairs geraak word, is dat sy nie net haar eie emosies en ervarings deel nie, maar ook die menings en raad van talle kundiges wat sy geraadpleeg het. Goeie, reguit antwoorde word gegee op vrae soos: Hoekom het mense affairs? Hoekom is dit belangrik om die waarheid oor die affair uit te vind? Watter aspekte van ’n affair verwoes ’n huwelik? Hoe vertrou ’n mens weer? Hoe weet ’n mens iemand het verander? Hoe vergewe ’n mens? Hoe weet ’n mens wanneer jy moet skei? Die antwoorde is prakties en nuttig.
Almal sal nie aanklank vind by die maniere waarop Opperman die affair verwerk nie – vir my is daar ’n bietjie te veel New Age-agtighede, maar die praktiese raad en die raak beskrywings van ervarings is baie insiggewend.
Uit die wêreldletterkunde
FREEDOM
Jonathan Franzen, Fourth Estate
Jonathan Franzen het in 2001 bekendheid verwerf met die publikasie van The corrections, sy derde roman, waarvan 2,85 miljoen eksemplare verkoop het. ’n Debakel het gevolg nadat hy geweier het dat Oprah Winfrey se plakker op dié roman se buiteblad verskyn dat dit haar keuse vir boek van die maand is. (Wanneer ’n boek as Oprah se boek van die maand aangewys word, styg die verkope daarvan drasties.) Wat ’n mens laat regop sit het met die lees van The corrections, ’n verhaal oor die ervarings van ’n gewone Amerikaanse gesin oor ’n paar dekades heen, was dat dit so drasties verskil het van die ander romans van die afgelope 20, 30 jaar. In styl sluit dit eerder aan by die 19de eeuse verteltradisie van skrywers soos Tolstoi, wat ’n omvattende wêreld skep. Franzen vertel sonder enige van die foefies en selfbewustheid van postmodernistiese romans. Freedom is weer so ’n roman in dieselfde styl. Weer word ’n enkele gesin se ervarings gevolg.
En as jy net een boek wil lees om te probeer verstaan wat dit is om in ons tyd te lewe, hoe ons samelewing werk – van kapitalisme, omgewingsbewaring, die vermaaklikheidsbedryf en verbruikerswese, tot persoonlike vryheid, is dit Freedom. As jy egter daarvan hou om bloot in ’n storiewêreld weg te sak, is hierdie boek ook vir jou. Vk
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.