Willie Burger kyk hierdie week na Richard Ford se boek Canada
Willie Burger kyk hierdie week na Richard Ford se boek Canada
Toe ek die eerste paar sinne van Richard Ford se Canada lees, weet ek dit is ’n boek wat ek nie weer gaan neersit nie. Kyk self: First, I’ll tell you about the robbery our parents committed. Then about the murders, which happened later. The robbery is the more important part, since it served to set my and my sister’s lives on the courses they eventually followed. Iemand wat só ’n openingsparagraaf kan skryf, mag maar skryf, en Ford is kennelik nie sonder rede al tevore met ’n Pulitzerprys beloon nie. Hy borduur die sentrale gebeurtenisse (daardie bankroof en moorde van die eerste sinne) oor meer as 400 bladsye uit, maar ’n mens raak nooit verveeld nie. Hy lok you telkens verder in die vertelling in en verras jou wanneer jy dink daar is geen verrassing meer moontlik nie. Maar uiteindelik dwing hy jou om oor jou eie lewe na te dink. Hierdie roman laat ’n mens weer onthou hoekom fiksie so kragtig is en waarom ’n mens romans lees.
Die verteller is Dell Parsons. As 65-jarige probeer hy om sin te maak van sy verlede deur veral te vertel van die gebeurtenisse van een jaar, 1960, die jaar waarin hy en sy tweelingsuster 15 jaar oud was en toe die bankroof en moorde plaasgevind het. Dell verwys na Ruskin se woorde: “composition is the arrangement of unequal things” en probeer om al die ongelyke ervarings uit sy lewe só te rangskik dat hy kan aanvaar wat met hom gebeur het; dat hy sin daaruit kan maak en kan voortleef sonder om sinies te word. Dit is egter geen maklike taak nie: “I can’t make what follows next seem reasonable or logical, based on what anyone would believe they know about the world. However, as Arthur Remlinger said, I was the son of bank robbers and desperados, which was his way of reminding me that no matter the evidence of your life, or who you believe you are, or what you’re willing to take credit for or draw your vital strength from – anything at all can follow anything at all.” Die roman bestaan uit drie dele. In die eerste deel word die spanningsvolle aanloop tot die bankroof, die bankroof self en die rampspoedige gevolge vir die Parsons-gesin beskryf.
Dell verkwalik nooit sy ouers nie. Hulle probeer om hul uiteindelike besluit om tot misdaad oor te gaan, as ’n logiese en verstaanbare stap te verduidelik. Hulle is geen booswigte nie, bloot mense wat ’n swak besluit geneem het. Ná hul ouers tronk toe is, loop sy tweelingsuster weg na Kalifornië en ’n kennis van sy ma neem hom oor die grens na Kanada om te voorkom dat hy in ’n weeshuis beland. Die tweede deel van die roman speel in Saskatchewan af, in ’n klein dorpie waar Dell in die sorg van ’n vreemde man beland en waar die moorde plaasvind. In die derde deel kyk hy as afgetrede letterkundeonderwyser op sy hele lewe terug – en hy besoek sy suster wat sterwend aan kanker is.
Dit is vir Dell noodsaaklik om sy verlede te ondersoek – om ’n samehangende narratief daarvan te maak, want dit is die manier waarop hy voorkom dat die deurslaggewende gebeurtenisse in sy lewe, die bankroof en die moorde, sy hele lewe bly bepaal. Die man in wie se sorg hy in Kanada beland, Arthur Remlinger, is iemand wat nie sy verlede sinvol in sy lewe kon integreer nie. Hy word soos volg beskryf: “It was as if time had stopped for him, and he’d ceased aging and become only one thing: Arthur Remlinger, in a perpetual present.”
Dell besef dat ’n mens voortdurend moet kan verander. Maar om dit te kan doen, moet jy verbande kan lê tussen gebeurtenisse in die verlede, hulle goed kan beskryf en kan orden. Dit is onmoontlik as ’n mens in ’n “perpetual present” vasgevang is.
Die openingsinne trek mens in ’n wêreld in, maar die slotparagraaf sorg dat daardie wêreld by jou bly spook: “What I know is, you have a better chance in life – of surviving it – if you tolerate loss well; manage not to be a cynic through it all; to subordinate, as Ruskin implied, to keep proportion, to connect the unequal things into a whole that preserves the good, even if admittedly good is often not simple to find. We try, as my sister said. We try. All of us. We try.” Canada, Richard Ford, Londen: Bloomsbury Vk