Kortverhale is ‘n fyn kunsvorm, sê Willie Burger.
Hy laat die soeklig op drie meesters val
Kortverhale is nie so gewild soos romans nie. Sommige mense meen ’n skrywer “oefen” eers ’n bietjie deur kortverhale te skryf en skryf dan later, as hy/sy die verteltegnieke onder die knie het, ’n “regte boek”, ’n roman.
Dit is ’n groot mistasting. Die kortverhaal is ’n besonder fyn kunsvorm en een waarop sommige skrywers hulle hulle lewenslank toelê. Omdat die kortverhaal kort is, gee dit jou ook kans om dit te herlees. Om te herlees is een van die mees lonende ervarings wat ’n leser kan hê.
Hierdie maand val die kollig op drie meesters van die kortverhaal.
Twee Afrikaanse bloemlesings
Bloemlesings is baie waardevol – veral in ’n klein letterkunde soos Afrikaans. Drukoplae van kortverhaalbundels is klein en sommer gou, binne ’n paar jaar nadat ’n bundel verskyn het, is dit in baie gevalle nie meer bekombaar nie. Gevolglik raak belangrike werk deur uitmuntende skrywers soms vergete. Dit is hier waar ’n bloemlesing, ’n keur uit ’n skrywer se werk, dit vir lesers moontlik maak om toegang tot die ouer werk van skrywers te kry. Só kan jy die ouer werk saam met die bekender, nuwe werk lees. Boonop is só ’n lekker dik versameling ’n leesbederf wat lank hou. Daarom is dit prysenswaardig dat Human en Rousseau besluit het om bloemlesings van die werk van twee besondere kortverhaalskrywers uit te gee:
DIE BEHOUE HUIS – ’n KEUR UIT DIE KORTVERHALE deur Abraham H de Vries
“Omdat ek in stories dink, soek iets in my steeds na samehang.” Só skryf Abraham de Vries in sy kortverhaal “Dagboek van ’n afloop” uit die bundel Tot verhaal kom. Soos so baie stellings in De Vries-kortverhale, lyk dit na ’n eenvoudige opmerking, maar as ’n mens ’n bietjie langer daaroor talm, besef jy wat die implikasies hiervan eintlik is. Stories is, volgens De Vries, ’n manier van dink. Om in stories te dink, is om te probeer om te verstaan, om samehang te vind. Ons word almal daagliks deur inligting, indrukke, emosies en ervarings oorweldig. En dan het ons nodig, in die woorde van die bundeltitel, om tot verhaal te kom; om ons storie weer agtermekaar te kry, sodat ons samehang kan vind en kan verstaan wat met ons gebeur.
De Vries is ongetwyfeld een van die belangrikste kortverhaalskrywers in Afrikaans. Sedert sy debuut in 1956 het daar ongeveer 20 bundels kortverhale deur hom verskyn. Soos die stellings in sy verhale, is sy verhale self ook dikwels op die oog af eenvoudige vertellings uit die Klein Karoo, maar die eenvoud bedrieg ook. De Vries is telkens besig om te stoei met die moontlikhede van wat ’n mens met ’n kortverhaal kan doen. Hy verlê telkens die bekende maniere van vertel en maak op dié manier ook ander maniere van dink oop.
Die behoue huis is onontbeerlik vir enigeen wat van stories hou; wat wonder oor hoe stories werk; wat wil sien wat alles moontlik binne die genre van die kortverhaal is. Dit bied ook veel insigte oor ons land – bring sover stories dit moontlik maak, samehang uit insigte en gebeurtenisse van die afgelope 30 jaar.
VREEMDELING – ’n KEUR UIT DIE KORTVERHALE deur Welma Odendaal
Welma Odendaal se tweede kortverhaalbundel, Keerkring, is in 1977 verbied. Sy het eers weer 14 jaar later ’n bundel gepubliseer (Verlate plekke) en toe eers in 2009 verskyn Landskap met diere. Juis omdat die bundels met sulke lang tussenposes verskyn het, kry haar werk heeltemal te min aandag. Hierdie keur uit al haar bundels bring Odendaal se werk weer onder die aandag. Daar is min skrywers wat ’n mens so kan ontwrig soos Odendaal. Haar verhale konfronteer ’n mens telkens met jou eie donkerte. Dit is ’n bundel wat ’n mens ook laat besef hoedat daar nog altyd Afrikaanse mense was wat radikaal anders as die groep gedink het.
uit die wêreldletterkunde
EVERYTHING RAVAGED, EVERYTHING BURNED
Wells Tower, Granta, Londen
Everything ravaged, everything burned is ’n bundel uiteenlopende verhale wat die leser ook met ’n gevoel laat dat jy verwoes en verbrand is. As ’n mens egter begin nadink oor hoe Tower ’n kompromislose beeld van ’n koerslose samelewing geskep kry wat jou so ontstel, besef jy hoe ’n goeie verteller hy is. Byna nie twee van die verhale in die bundel word uit dieselfde perspektief vertel nie. Die wêrelde van tienermeisies, bejaardes, suksesvolle sakemanne, kunstenaars of Viking-plunderaars, word telkens op ’n unieke manier geskep, met taal wat anders ingespan word. Hierdie is kortverhaalkuns op sy beste. In 20 of 30 bladsye konfronteer Tower telkens sy lesers met ’n blik op ons eietydse samelewing wat die sin van ons dade en die grond van ons waardes bevraagteken.