Populêre fiksie kan veranderende waardes in die samelewing ondersteun
Populêre fiksie kan veranderende waardes in die samelewing ondersteun
Daar word dikwels oor populêre fiksie gesê dat dit die heersende belange en opvattings van die samelewing daardeur ondersteun word. Só bevestig liefdesromans meestal die idee dat die ware liefde uiteindelik alle probleme te bowe sal kom; die speurriller dat die bose uiteindelik wel deur die goeie oorwin sal word; en dat die bedreiging van die goeie orde in die samelewing uiteindelik deur die toewyding van enkelinge afgeweer kan word. ’n Ander belangrike rol wat populêre fiksie speel, is dat dit kan help om sekere veranderende waardes in die samelewing te bevestig. Wanneer ’n mens byvoorbeeld ’n liefdesverhaal sou lees, bly die “formule” dieselfde: Die leser weet dat die geliefdes wel by mekaar gaan uitkom. As twee verliefdes dan byvoorbeeld ’n gemengde paartjie is, help die veilige raamwerk van die liefdesroman die leser om hierdie verandering in die samelewing se houding oor ras te aanvaar. Op hierdie manier kan populêre fiksie ook dus veranderende waardes in die samelewing ondersteun.
PLESIERENGEL deur Leon van Nierop
Leon van Nierop se roman Plesierengel (Tafelberg) het aanvanklik in 1998 by Perskor verskyn. Hy het dit egter nou heeltemal herskryf omdat hy – volgens die voorwoord tot die nuwe uitgawe – besef het dat Suid- Afrika verander het en die verhaal daarom ’n nuwe struktuur, intriges en “’n herbedink van die hoofkarakters” benodig het. Die oorspronklike Plesierengel het volgens Van Nierop ten doel gehad om die onderwerp van prostitusie “kaalhand” aan te durf. Die nuwe Plesierengel gaan oor dieselfde onderwerp. ’n Manlike prostituut, Tristan Hansen, wat slegs met vroue werk en wat ook in onderbroekadvertensies pryk, staan sentraal in hierdie roman. Uiteindelik raak hy by Erika Hamilton betrokke – ’n sielkundige wat Tristan se ma gaan raadpleeg oor die “skande” wat haar seun oor haar en die familie gebring het. Geleidelik ontplooi die verhaal grootliks binne die raamwerk van ’n liefdesverhaal, maar in die proses word die lewe van ’n prostituut, die oorsake van prostitusie sowel as diegene wat prostitute besoek, van nader ondersoek. In die proses word baie vooroordele blootgelê en kan die roman help om ’n mens versigtiger te laat nadink oor ’n onderwerp wat baie mense verkies om te vermy.
RATELS deur Leon van Nierop
Daar is al tevore op hierdie boekeblad melding gemaak van Van Nierop se produktiwiteit. Hy het die gewilde radiovervolgverhaal Ratels (Human en Rousseau) nou ook tot ’n roman verwerk. Diegene wat hou van die “jip-Afrikaans” wat die karakters oor die radio gepraat het, sal ook daarvan hou om dit hier te lees. Diegene wat nog nie met Velskoen, Vincent, Jan-Lourens, Pauline, Bankies en Tattoo Girl kennis gemaak het nie, het nou die kans om dié groep jongmense op ’n wildsplaas te leer ken.
MAAR TINTIN IN TIBET deur Annelie Ferreira
Nog ’n roman waarin verskuiwende samelewingsopvattings oor seksualiteit, godsdiens en rasverhoudings ondersteun word, is Maar Tintin in Tibet (Tafelberg). Boeke waarin die spot gedryf word met die stereotipe van die NG dominee, die Hitler-skoolhoof of die hardvogtige sakeman laat my meestal sommer dadelik die boek neersit. Daar is heeltemal genoeg goeie boeke om te lees sonder om nóg ’n boek te lees wat lag uit daardie stereotipes probeer trek. Ek wou dus ook Annelie Ferreira se Maar Tintin in Tibet sommer ná die eerste bladsy neersit, maar iets het my tóg laat aanlees. Daardie iets is die taalgebruik en natuurlik die deernis. Dikwels lees ’n mens romans waarin die lotgevalle van die karakters jou eintlik koud laat, maar hier word dit met veel deernis en ’n sin vir humor vertel. Dit is eintlik ’n reisverhaal. Lukas Kruger het pas sy laaste eksamenvraestel afgelê en sien uit na ’n vakansie saam met Ingrid, sy meisie. Maar dan daag sy predikantpa skielik uit Bloemfontein op en al sy planne is van die baan. Sáám onderneem hy en sy pa ’n reis na Beaufort-Wes wat albei se lewens heeltemal verander.
DIE VIERLETTERWOORD Nelia Engelbrecht
Met haar vorige jeugverhaal, Pandora se boks, het Nelia Engelbrecht in 2010 die Scheepersprys vir Jeuglektuur gewen. Wanneer ’n mens Die vierletterwoord (Tafelberg) begin lees, is dit sommer dadelik duidelik waarom sy al tevore ’n prys gewen het. ’n Mens sien baie jeugverhale en sommer ’n hele klomp gaan oor graad 11-meisies wat op die rugbykaptein of die victor ludorum verlief is, maar wat dan ontnugter word en ware liefde onverwags by ’n ander seun vind. Maar nie al hierdie jeugverhale is so vlot geskryf soos hierdie een nie en boonop is hier ’n klomp komplikasies. Clarissa Mentz se pa het twee jaar tevore verdwyn. Sy en haar ma sukkel eintlik om hul lewens so normaal as moontlik voort te sit. Dan kry sy skielik ’n SMS van haar vermiste pa. As alles begin skeefloop, is daar vir haar net hoop oor …