Twee boeke het onlangs verskyn wat met die ervaring
van manlikheid, vroulikheid en seksualiteit gemoeid is
’n Lyf onthou deur Riette Rust PROTEA BOEKHUIS
Volgens die flapteks is ’n Lyf onthou “beslis ’n boek vir die volwasse leser”. Hier is “liefde, erotiek en seks soos selde tevore in Afrikaans” ter sprake. Die buiteblad met ’n foto van ’n vrou se naakte lyf bevestig die verwagtings dat hierdie kortverhaalbundel nie net die leser se nuuskierigheid gaan prikkel nie. Dit beteken egter nie dat hier net ’n klomp wilde sekstonele beskryf word nie. In sommige verhale word daar taamlik eksplisiet oor seks en begeerte geskryf. Ook die dilemma van om vasgevang te wees in ’n onbevredigende verhouding en oor die lyf se verlange na die troos van ’n ander (verbode) lyf, word aangeraak. Tog onthou die lyf nie net begeerte, verlange en brandende aanraking nie, maar ook mishandeling, die gevolge van bloedskande en die ervaring van seksuele teistering. Riette Rust is ’n besonder vaardige skrywer. Tydspronge en verandering van perspektief word baie knap aangewend om spanning te behou. Sommige verhale ondersoek die vroulike ervaring van seks en seksualiteit op verreikende wyse, maar konserwatiewe lesers sal nie ontstel word nie, want agter al die verhale huiwer ’n behoudende lewensbeskouing.
So lig soos klip deur Jacques Pretorius TAFELBERG
Dié boek is ’n verrassing. ’n Aangename verrassing. Wanneer Jacques Pretorius oor polisieoptrede tydens die destydse opstande in die townships skryf, val die klem meestal op die politieke implikasies, op die korrupsie of op wandade wat gepleeg is. Onthullings soos dié oor Vlakplaas en die veranderde politieke klimaat met nuwe aksente en politieke korrektheid, het dit byna onmoontlik gemaak om nie sterk afwysend oor die destydse SAP te skryf nie. Daarom verras hierdie debuutroman oor ’n jong konstabel se wedervarings in die polisiemag. Dit bied die leser ’n onthutsende blik op die gevolge van voortdurende blootstelling aan gevaar en trauma uit die oogpunt van ’n gewone konstabel. Sy onkunde en onbewustheid van sy rol in die land se geskiedenis is opvallend. Uiteindelik is die roman veel meer as die beskrywing van die konstabel se traumatiese ervarings aan diens. Sy belewing van verliefdheid, sy soeke na aanvaarding en na die liefde van ’n vrou word ’n ontnugterende reis en die skaduwee van ouers, skool en kerk oor sy lewe word ook geleidelik onthul. Pretorius is ’n bedrewe verteller. Die terugflitse en huidige gebeurtenisse wissel deurentyd af. Vertelling deur ’n derdepersoonsverteller wat ervarings van “die kind” en “die konstabel” vertel, word deur ’n ek-verteller afgewissel. Hierdie afwisseling word slim benut. Die eerstepersoonsverteller se weergawe lê sy verwarring en onbegrip bloot, maar verhoog die spanning. Wanneer oor “die kind” of “die konstabel” in die derde persoon vertel word, kry die leser ook inligting wat help om die hoofkarakter se belewenisse en motiverings beter te verstaan – ook dit wat die hoofkarakter nie van homself verstaan nie. Ongelukkig word daar op ’n paar plekke te veel namens die leser geïnterpreteer, maar dis ’n hebbelikheid wat ’n mens in Pretorius se debuutwerk kan verskoon. So lig soos klip is ’n baie interessante analise van geweld en seks.
Die kat kom kuier en Die kat kom weer TAFELBERG
Min boeke het soveel kinders leer lees soos die bekende dr Seuss se Kat-boeke. Baie van ons kon ook danksy Leon Rousseau se berymings op ’n prettige manier Afrikaans leer lees. En nou hoef jou kinders dit nie meer uit ou, vuilgevatte, donkieoorbiblioteekboeke met ontbrekende bladsye te doen nie, want die bekende The cat in the hat en The cat in the hat comes back is pas heruitgegee in Afrikaans as Die kat kom kuier en Die kat kom weer.