Willie Burger kyk hierdie week na boeke wat Afrikaans meer toeganklik maak
Willie Burger kyk hierdie week na boeke wat Afrikaans meer toeganklik maak
Die meeste van ons het grootgeword met ’n vae idee dat Afrikaans so ’n soort variasie van die Nederlands is wat saam met Jan van Riebeeck by die Kaap aangekom het. Van Riebeeck se Nederlands het dan geleidelik, so min of meer vanself, die Afrikaans geword wat ons vandag praat. Langs die pad was daar die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) wat in die 1870’s in die Paarl doelbewus van Afrikaans ’n skryftaal gemaak het deur met ’n Afrikaanse koerant te begin en spelreëls op te stel. Hierdie opvatting is egter ’n oorvereenvoudiging van ’n reeks ingewikkelde en interessante prosesse (interessant uit ’n taalkundige, politieke én sosiale oogpunt) wat in twee onlangse publikasies beskryf word.
So kry ons Afrikaans … (LAPA), deur Christo van Rensburg, is ’n poging om die geskiedenis van Afrikaans op ’n toeganklike manier, maklik leesbaar met weinig taalkundige vakterme, aan te bied. Van Rensburg het homself reeds in die 1980’s as kundige oor taalgeskiedenis gevestig met onder meer sy teorie oor “Oosgrensafrikaans”. Oosgrensafrikaans het volgens Van Rensburg uit vorms van Nederlands ontwikkel wat die Vryburgers en veeboere aan die oosgrens gepraat het en wat toe as ’n “taal” gevestig geraak het.
Van daar af het dit as gevolg van die Groot Trek die Afrikaans van die Transvaal en Vrystaat geword en het dit uiteindelik tot die Standaardafrikaans van vandag gelei. In So kry ons Afrikaans … gee hy egter ’n meer genuanseerde prentjie wat ook allerlei ander faktore by die ontstaan van Afrikaans betrek.
Van Rensburg se boek lees maklik, maar bied juis daarom nie so ’n deeglike bespreking as die meer wetenskaplike werk van H.P Grebe nie. Grebe se Op die keper beskou (Van Schaik) gee ’n besonder omvattende bespreking van al die verskillende teorieë oor Afrikaans se ontstaan. Talle mites oor Afrikaans se ontstaan word deur Grebe blootgelê. Hoewel dit ’n meer wetenskaplike studie is, in die eerste plek op taalkundiges gerig, is dit nietemin baie leesbaar, ook vir ander lesers wat in die ontstaan van tale belangstel. ’n Uitgebreide register van terme agterin maak dit ook ’n nuttige naslaanwerk.
Afrikaans het ontstaan uit die kontak tussen verskeie tale, waarvan die minderheid mense Nederlands as moedertaal gepraat het. Aandag aan kreolisering – die proses waarin mense wat ’n vreemde taal aanleer, dit aanvanklik “foutief” praat (’n pidgin-weergawe van die taal) maar waarvan die afwykings later gevestig raak as ’n eie taal met ’n eie grammatika – sowel as aan die politieke en sosiale faktore wat ’n rol gespeel het in die standaardisering van Afrikaans, kry in al twee boeke aandag (maar word wetenskaplik in Grebe se werk beskryf).
Dit blyk ook dat daar weinig “natuurlik” was aan die vestiging van Standaardafrikaans soos ons dit vandag ken; die verset teen kolonialisme en die vorming van ’n nasionalistiese identiteit vir (wit) Afrikaners het ’n belangrike rol gespeel.
Die doel met So kry ons Afrikaans … is om in gewone taal ’n storie van Afrikaans se ontstaan te vertel. Op die keper beskou is meer as ’n interessante storie: prosesse soos kreolisering en standaardisering word by die naam genoem en aan die hand van interessante gevallestudies verduidelik.