Willie Burger kyk na ‘n nuwe inspuiting vir misdaadfiksieslawe
Misdaadfiksie in Suid-Afrika het oor die afgelope twee dekades ‘n bloeityd beleef. Wat begin het as ‘n klein straaltjie misdaadfiksie in die negentigerjare, met die stem van Deon Meyer vooraan, het uitgegroei tot ‘n sterk stroom wat deur ‘n verskeidenheid uitgewers uitgegee word. Meer as 40 Suid-Afrikaanse skrywers het volgens ‘n onlangse telling gedurende die afgelope dekade misdaadromans gepubliseer.
Misdaadfiksie kan lesers op verskillende maniere meevoer en oor die jare het verskillende subgenres ontwikkel: Die vroegste misdaadromans was die klassieke speurverhale waarin ‘n speurder (‘n amateur of professionele speurder) die een of ander geheim moet ontrafel: Wie het die misdaad gepleeg? Dit word ook ‘n whodunnit genoem. In hierdie soort verhale val die klem eerder op die slim intrige, die raaisels en die fyn besonderhede wat die speurder (en die leser) tot aan die einde aan die raai hou.
In die "hardekwas"-speurverhale (hard boiled detectives) is daar ‘n veel donkerder kant en die speurder of hoofkarakter is dikwels teen ‘n oormag van korrupsie in die donker stegies en agterstrate van groot stede aan die veg. In baie misdaadrillers val daar minder klem op die oplossing van die raaiselagtige misdaad en veel meer aandag word aan die aksie bestee – die een benarde situasie na die ander waarin karakters hulle in die stryd teen misdaad bevind.
Talle TV-reekse oor misdaad is ook gewild in ons tyd. Hierdie reekse wissel van werklike misdade wat in semi-dokumentêre styl aangebied word tot fiksiereekse.
‘n Mens kan maar net wonder waarom mense in ons land, wat juis deur soveel misdaad geteister word, so graag misdaadfiksie lees of kyk wanneer hulle wil ontspan? Aan die een kant kan ‘n mens seker redeneer dat mense oral in die wêreld misdaadfiksie, net soos romanses of avontuurverhale, lees om vir ‘n oomblik van hul eie probleme te kan vergeet. Terwyl jy in die wêreld van die misdadigers en speurders verdwyn, vergeet jy van jou eie daaglikse sleur en probleme. Aan die ander kant is daar dalk ook ‘n bietjie troos te vind in ‘n verhaal waarin die misdadiger aan die pen ry. Die reeksmoordenaar word gevang, die speurder los die probleme op en die wêreld is weer heel. Hierdie soort verhale bring dalk vir baie Suid-Afrikaners troos wat voel dat misdaad meestal strafloos voortgaan.
‘n Mens kan ook redeneer dat die misdaadromans ‘n mens juis nie van ons alledaagse ervaring van die wêreld waarin ons leef laat ontsnap nie, maar dat hierdie verhale oor geweld en misdaad die leser dwing om na te dink oor wat misdaad eintlik is, oor hoe dit in ons samelewing gaan.
Karin Brynard se Onse vaders kan gesien word as ‘n manier om oor die geslagte kinders wat sonder pa’s grootword na te dink. Deon Meyer se Infanta por ‘n mens dalk aan om oor geregtigheid en die prys daarvan na te dink.
Hierdie week het daar sommer drie misdaadromans van drie verskillende uitgewers op my tafel beland. Al drie begin met ‘n onheilspellende toneel waarin iemand leed aangedoen word.
• Kopskoot is Rudie van Rensburg se tweede roman en word op die buiteblad deur Deon Meyer as "’n Vars bries en ‘n lekkerlees-stem in Afrikaanse misdaadfiksie" beskryf. Kaptein Kassie Kasselman moet die raaiselgatige moorde op 56-jarige mans in Kaapstad probeer oplos. Kassie vermoed dat dit nie sommer net ‘n vreemde reeksmoordenaar se werk is nie en geleidelik ontrafel hy nie slegs hierdie moorde nie, maar ook wat agter die afpersing van ‘n sakeleier in die stad lê. Die speurtog neem hom onder meer terug na die bosoorlog in die destydse Angola. Die manier waarop al die interessante karakters uit verskillende lae van die samelewing betrek word en die intelligente inmekaarvleg van elkeen se wêreld, boei die leser enduit. Kassie Kasselman kan dalk nog so ‘n gewilde en geliefde speurder soos Bennie Griessel word. (Quellerie)
• Joanne MacGregor se Dark Whispers word eweneens op die buiteblad deur een van die voorste misdaadskrywers aangeprys. Mike Nicol se woorde lui: "Read this thriller. It’s gripping – so shocking you won’t be able to breathe until you get to the end." Hier is nie ‘n wêreld van verborge geheime uit die verlede en allerlei misdaadsindikate ter sprake nie. Dit is eerder ‘n sielkundige riller. Die hoofkarakter, Megan Wright, is ‘n sielkundige wat ‘n ontstellende verhaal hoor van ‘n pasiënt wat deur ‘n ginekoloog in die hospitaal waar Megan werk, fisiek en psigies geskend is. Dit lei haar op ‘n donker speurtog en sy doen self ernstige letsels op. (Protea)
• In Bloedspoor deur Bets Smith is ‘n reeksmoordenaar op ‘n universiteitskampus aan die werk. Hy volg telkens ‘n ritueel soortgelyk aan een waarin vroue eeue gelede by Stonehenge in Engeland geoffer is. Meer voorspelbaar en formuleagtig as bogenoemde romans, word die leser tóg ook by die angs van Llynn en Eileen, twee nagraadse studente, ingetrek. (Lapa)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.