Willie Burger stel vandeesweek ‘n bundel kortverhale, ‘n spanningsriller en ‘n uitsonderlike Engelse roman aan boekwurms bekend
gAS DIE ELAND STRUIKELg
Martie Muller, LAPA-Uitgewers
’n Mens lees gewoonlik spanningsrillers juis omdat dit die soort boek is wat jou aan die raai hou terwyl die hoofkarakter in ’n vreemde en bedreigende wêreld antwoorde op tergende vrae soek. Jy as leser word ook by hierdie vreemde wêreld ingetrek en as dit ’n besonder goeie spanningsriller is, is jy byna net so bang soos die karakters. Dit is juis hierdie ervaring wat die lees van spanningsrillers vir so baie mense onweerstaanbaar maak.
Daar is egter ook ’n tweede rede waarom ’n mens hierdie soort romans kan geniet en dit is ’n bonus. Dit is wanneer jy in die proses ook sommer baie kennis oor hierdie “vreemde”, betowerende wêreld opdoen.
In Martie se debuutroman, As die eland struikel, gebeur al twee dinge. Eerstens kan jy deur die spanningslyn van die storie meegevoer raak – Paula, ’n skopbokskampioen, kom op die lyke van haar vermoorde man en dogtertjie af en gaan op ’n speurtog wat haar deur grotte in Lesotho lei op soek na haar sewejarige seuntjie. Tweedens maak jy in Paula se spore kennis met die San-kultuur en kry jy ’n magdom inligting oor rotskuns en transdanse.
Uiteindelik gaan dit in die roman nie oor die moeite om ’n vreemde land en ’n vreemde kultuur te leer ken nie, maar om ’n mens te leer ken. Sy besef dat sy gaandeweg eintlik haar man beter leer ken en haarself beter verstaan.
Al lees die roman ’n bietjie moeilik aan die begin, raak ’n mens later meegesleur.
gWAT DIE OOG GESIEN HETg
Christine Barkhuizen le Roux, Human & Rousseau
Met Padmaker het Christine seker gemaak dat mense van haar naam kennis neem. In dié roman onderneem die hoofkarakter ’n reis oor al die afgeleë paaie van Suid-Afrika. Oënskynlik is sy op soek na haar ma, maar die reis word eintlik ’n reis na die verlede. Sy het in “padkampe” grootgeword en daarom is daar op haar neergesien. Haar reis lei haar na herinneringe oor die talle plekke waar sy as kind in die padkampe gebly het en help haar om haar pa te onthou en haarself te leer ken. Byna al die lesers van hierdie roman is daardeur ontroer.
Wat die oog gesien het is ’n bundel met 25 kortverhale wat net so knap geskryf is. Christine is ’n bedrewe verteller wat presies weet hoe om die leser se emosies te manipuleer. Die kortverhale maak telkens in die slotparagraaf ’n draai met ’n skielike onthulling wat verras. Die wending bring telkens ook ’n element van patos. Die sterk emosies wat gewek word, sal talle lesers meevoer.
gUit die wêreldletterkundeg
gFUGITIVE PIECES
Anne Michaels, Bloomsbury, Londen
Anne Michaels se Fugitive pieces is vir my een van daardie uitsonderlike romans waaraan ek ander romans meet. ’n Joodse seuntjie beleef hoe sy gesin deur Duitse soldate uitgewis word, maar hy ontsnap en word uiteindelik ná vele ontberings deur ’n Griek gered en na Griekeland gesmokkel.
As volwassene vestig hy homself uiteindelik in Kanada. Hy word ’n digter en vertaler. Dit is betekenisvol dat hy juis met taal en woorde werk, want dit is deur te skryf; deur woorde te vind wat sy ervarings kan dra, dat hy met die verlede en met ander mense kan vrede maak:
I finally began to feel my English strong enough to carry experience. I became obsessed by the palpable edge of sound. The moment that language at last surrenders to what it’s describing: the subtlest differentials of light or temperature or sorrow. I’m a kabbalist only in that I believe in the power of incantation. A poem is as neural as love; the rut of rhythm that veers the mind.
Fugitive Pieces is onder meer ’n liefdesverhaal, oor die reddende mag van liefde wat ’n mens uit die dieptes van depressie en van eensaamheid kan red. Dit is verder ’n verhaal van hoe ’n mens met die trauma van die verlede probeer versoen. Dit is ook veel meer: ’n roman waarin die taal self, soos in poësie, ’n mens wegvoer.
Jakob Beer probeer om die verlede weer te gee, soos hy dit stel “in the cramped space of a prayer”. Dit is hierdie poging om met die verlede tot ’n vergelyk te kom wat slegs moontlik gemaak word deur woorde wat hulle lê op die regte manier vind.
Die hele roman is inderdaad ’n leeftyd se ervarings en trauma weergegee in die beknopte ruimte van ’n gebed, ’n gedig, waarin die groef van ritme uiteindelik die leser se denke swaai. Vk