Willie Burger kyk na drie lekkerleesboeke
Willie Burger
• ruimskootse gebruik van realistiese dialoog.
• die beskrywing van fyn besonderhede.
• ‘n vertelwyse wat berus op toneelbeskrywings (die beskrywing van ‘n toneel, ‘n klompie handelinge op ‘n spesifieke tyd, wat dan weer deur ‘n volgende toneel, en ‘n volgende toneel opgevolg word, eerder as ‘n vertelstem wat opsom wat gebeur het).
• gebruik van "interne fokalisering", met ander woorde, waarnemings en ervarings word nie net van "buite" beskryf nie, maar word vanuit die gedagtes en belewenisse van die karakters beskryf.
Wolfe redeneer dat die eerste drie van hierdie kenmerke "beter" deur flieks as boeke benut kan word. Eintlik kan flieks dialoog beter weergee (met aksente en stemtoon). Hulle maak by uitstek van toneelkonstruksie gebruik en fyn besonderhede kan sommer in een oogopslag aan die kyker gewys word in plaas van bladsy lange beskrywings wat die vloei van die verhaal kan belemmer.
Wolfe verduidelik dat flieks nie werklik interne fokalisering op oortuigende manier kan weergee nie. Daarin lê dus vir hom een van die belangrikste redes waarom mense nog romans bly lees. Interne fokalisering bied aan lesers die geleentheid om ‘n karakter se ervarings op ‘n unieke manier te beleef.
Volgens Wolfe is daar egter nog ‘n ander aspek waar ‘n fliek nie by ‘n roman kan kers vashou nie: flieks kan nie verduidelik nie.
‘n Fliek, selfs ‘n TV-reeks, is telkens van beperkte omvang (‘n paar uur) en kan kykers nie te lank besig hou nie. Daarom het flieks en selfs TV-reekse kwalik tyd om alle agtergrond te "verduidelik": in prosa kan daar na die agtergrond teruggegaan word, die oorsake vir hoekom karakters is soos wat hulle is, die redes vir handelinge en situasies kan uitgespel word omdat daar bykans onbeperkte ruimte daarvoor bestaan.
• Leon van Nierop se romanverwerking van die gewilde TV-reeks uit die laat jare tagtig, BALLADE VIR ‘N ENKELING, beslaan ‘n volle 605 bladsye. Van Nierop span talle verteltegnieke in om hierdie gewilde TV-reeks te laat herleef, met veel meer agtergrondinligting en sonder dat enige kompromieë ter wille van gesinskyktyd getref word.
Ouer lesers sal nog die verhaal van Jacques Rynhard, die skrywer wat spoorloos verdwyn het, en Carina Human, die verslaggewer wat hom soek en wat talle geheime moet ontrafel, onthou. Sonder om enige vaart in te boet – die verhaal loop baie vinnig en hou die leser op die punt van die stoel – bied die roman genoegsame ruimte om baie agtergrondinligting te verskaf.
Van Nierop kan die spanningsverhaalgenre en die romanse goed hanteer – soos wat hy al in verskeie romans getoon het. In Ballade vir ‘n enkeling voeg hy hulle saam. Sommige lesers sal dit geniet omdat dit goeie herinneringe oproep, maar lesers wat nie die TV-reeks kan onthou nie (of te laat gebore is) sal die roman meesleurend vind omdat die verhaal ook vir vandag aangepas is.
•SLIM LEUENS is die derde roman waarin die forensiese psigofisioloog, Kalli Krynouw, skurke op donker spore deur die onderwêreld van misdadigers met psigologiese afwykings volg.
In Donker leuens en Gekoopte leuens het Lien Roux-de Jager reeds gewys dat sy ‘n spannende verhaal onderhoudend kan vertel en het in Kalli ‘n karakter gevind waaroor ‘n mens meer wil weet. In Slim leuens kom die leser inderdaad meer te wete oor die skisofreen uit haar verlede wat ‘n groot bedreiging vir haar inhou. In hierdie roman moet Kalli help om ‘n sensasionele reeksmoordenaar, wat as "die skender" bekendstaan, vas te trek, maar sy is ook besig om voorbereidings vir haar troue te tref, terwyl die lyke al hoe meer word.
•Ongelukkig word dit dikwels onmoontlik om na ‘n paar jaar steeds eksemplare van ‘n kortverhaalbundel op te spoor. Daarom is dit baie goeie nuus dat Tafelberg kans gesien het om ‘n keur uit die verhale van E Kotze uit te gee in ‘N KEUR UIT DIE VERHALE VAN E KOTZE. Die verhale kom uit Sussie Kotze se bekroonde debuutbundel, Halfkrone vir die nagmaal (1982), en uit Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie en ander woestynverhale (1997) en Die wind staan oos (2007).
Kotze tel onder die subtielste vertellers in Afrikaans. Die verhale gaan oor arm mense wat swaarkry – meestal aan die Weskus. Hul wêreld is beperk en hulle voer ‘n moeilike stryd teen die elemente. Baie mense het al stories oor die Weskus vertel en liedjies gemaak en dikwels steek dit maar in die lawwe, in vermaaklike taal of spottery of in die skooloperetteromantiek van wit huisies langs ‘n blou see vas.
Kotze se verhale oorstyg al die slaggate en clichés van Weskusvertellings. Telkens, in verhaal ná verhaal, gryp iets ‘n mens aan die hart sonder dat daar in patos verval word, ‘n oomblik waarin alles goed word of aangenaam gemaak word. Hierdie uitgesoekte verhale is ideaal vir proe-proe lees in tussenintydjies.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.