Willie Burger kyk na twee
boeke. Een wat handel
oor oermense en ’n ander
wat erotiese stories bevat
Een van die gewildste romanreekse uit die 1980’s was Jean M Auel se Earth’s Children-romans. Auel se historiese romans het my verbeelding aangegryp en my gedwing om oor die oorsprong van die mens na te dink en na te lees. In The Clan of the Cave Bear word ’n Cro-Magnon-dogtertjie ná ’n aardbewing van haar mense geskei en dan deur ’n groep Neanderdalmense versorg. Die belangstelling in ons “oervoorouers” het die afgelope vier jaar opnuut opgevlam, onder meer te danke aan die jongste fossielontdekkings in die Sterkfonteinomgewing. Marié Heese het nou ’n omvangryke roman van oor die 340 bladsye oor ’n soortgelyke onderwerp geskryf. Sy skryf egter oor ’n stuk oergeskiedenis wat nog veel verder in die newels van die verlede lê. Auel se romans speel in Europa (Donau-vallei) af, omtrent 25 000 jaar gelede tydens die hoogtepunt van die laaste ystydperk. Die gebeurtenisse in Vuurklip speel ongeveer 100 000 jaar gelede in Suider-Afrika af. Een van die uitdagings wat Heese aanvaar het, was om deurgaans eerstepersoonsvertellers te gebruik en om nie wetenskaplike inligting deur ’n derdepersoonsverteller mee te deel nie. Om aan die vertellers ’n outentieke stem te gee, gebruik sy ’n ander vorm van Afrikaans. Dit is natuurlik geen poging om ’n “outentieke oertaal” te skep nie, maar die ongewone Afrikaans dra tot die skep van ’n geloofwaardige oertyd en lewe in stamverband by. Dit is ’n harde lewe waarin almal omtrent die hele tyd honger is en aan die elemente, wilde diere en vyandige stamme uitgelewer is. Die hoofkarakter is Ama. Sy word as dogtertjie reeds deur haar “Maouma” opgelei om haar stam se “moetievrou” en “storievrou” te word en uiteindelik lei sy ook weer op haar beurt iemand op om hierdie rolle by haar oor te neem. Storievertelling, as een van die vernaamste menslike handelings waardeur sin van die wêreld gemaak word, staan sentraal in die roman. Telkens begin hoofstukke met ’n vertelling om ’n vuur in ’n grot. Die boek boei ’n mens weens die manier waarop dit bespiegel oor mense se bestaan in die oertyd, met die fyn nagevorste inligting oor plante en diere, maar dit is ook ’n interessante verkenning van die rol van menslike taal en die gebruik van taal om stories te maak. Heese het as Afrikaanse skrywer ’n belangrike plek verower met Die uurwerk kantel (1976), ’n familiekroniek waarin ’n familiegeskiedenis oor vier geslagte vertel word. Vuurklip is in ’n sekere sin ook ’n familiegeskiedenis, al is dit in die oertyd. Met Vuurklip vestig Heese die aandag op ’n tot dusver onvertelde voorgeskiedenis van die mensdom – juis in Suidelike Afrika. Vuurklip, Marié Heese, Human & Rousseau
Skarlakenkoors is die tweede bundel erotiese stories onder redaksie van Pieter van Noord en die voormalige redakteur van Loslyf Karin Eloff. Voorheen het dié twee ook 54 erotiese stories in die bundel Bloots versamel. Skarlakenkoors bevat 44 nuwe erotiese stories. Talle gevestigde skrywers het bydraes gelewer: Koos Kombuis, Kerneels Breytenbach, Marlise Hobbs, Rachelle Greeff, Eben Venter, Kleinboer, Joan Hambidge, Johann de Lange, SP Benjamin, Emile Joubert, Jaco Kirsten en Vincent Oliphant, om maar enkeles te noem. Natuurlik is daar ook ’n klompie minder bekende bydraers. Soos uit hierdie verhale blyk, sluit erotiek baie in – van vae seksuele gewaarwordinge tot romantiese vervoering, van speelse lyflike genot tot emosielose en gewelddadige seks. Dit is duidelik dat minstens 44 skakerings van grys ook in Afrikaans geskryf kan word. Skarlakenkoors, saamgestel deur Karin Eloff en Pieter van Noord, Tafelberg Vk