Willie Burger kyk na die gewildheid van romantiese fiksie
Willie Burger
Maar die feit dat dit wérk, dat mense wel kaartjies en sjokoladehartjies en blomme koop en Valentyspartytjies reël, is ‘n aanduiding dat ‘n beduidende deel van die bevolking graag die opwinding van verliefdheid wil ervaar: daardie gevoel van asemlose lighoofdigheid, versnelde hartklop en roerings in dele van die onderlyf.
Hierdie verlange na ‘n romantiese ervaring tref mense egter nie slegs een keer per jaar nie. Dit is ‘n diepgesetelde behoefte wat deurentyd aanwesig is en wat talle (hoofsaaklik) vroue deur die hele jaar heen bevredig deur die lees van romanses. In romantiese fiksie kry hulle telkens die geleentheid om verlief te raak, om deur ‘n geheimsinnige en onweerstaanbare held meegevoer te raak.
Hoewel dikwels oor die buitengewone gewildheid van misdaadfiksie gepraat word, is romantiese liefdesverhale steeds loshande die topverkopergenre. Maar ten spyte van hul gewildheid, word romanses meestal nie op mense se boekrakke in die sitkamer uitgestal nie en sal die meeste lesers in goeie geselskap selfs ontken dat hulle romantiese fiksie lees.
Miskien is dit weens skaamte oor die voorblaaie (gespierde mans met blokkiesmaagspiere, haarlose borskaste en wuiwende haarlokke wat beeldskone meisies in hul sterk arms vashou en op die punt staan om hulle vurig te kus) wat talle lesers verhinder om te erken dat hulle romantiese fiksie lees. Of dalk het hul "skaamte" te doen met die ongelukkige woorde waarmee hierdie romanses soms beskryf word: "hygromans" of "bodice rippers". Die navorsing dui egter daarop dat liefdesverhale juis deur intelligente en goedgekwalifiseerde vroue geniet word.
Sarah Wendell se webwerf vir liefhebbers van romanses, smartbitchestrashybooks.com getuig daarvan dat ‘n mens nooit die fout moet maak om te dink dat romanses nie ernstig opgeneem hoef te word nie. Wendell het reeds twee invloedryke boeke oor romanses geskryf: Beyond Heaving Bosoms: The Smart Bitches’ Guide to Romance Novels en Everything I Know About Love I Learned from Romance Novels.
Daar word baie redes aangevoer vir die gewildheid van romanses. Een van die belangrikste redes is dat lesers met die vroulike hoofkarakter identifiseer en sodoende self telkens die opwinding en vreugde van verlief raak op ‘n effens geheimsinnige en opwindende vreemdeling kan ervaar – sonder om haar huwelik en kinders deur werklike ontrouheid in die gevaar te stel.
Die vroulike hoofkarakters word meestel nie in baie fyn besonderhede beskryf nie, terwyl die manlike held juis in die fynste besonderhede weergegee word. Sodoende word dit vir die vroulike leser moontlik om met die vroulike hoofkarakter te identifiseer. Sy kan haarself in die ervarings van die hoofkarakter (wat aan haarself as onopvallend dink) inleef, die opwinding (en seksuele prikkeling) ervaar, terwyl die man met haar wildste fantasieë ooreenstem.
Party mense reken dat romanses ‘n uitdrukking van vroue se diepste psigologiese behoeftes is. Ander redeneer weer dat dit eintlik maar ‘n manier is waarop samelewingsnorme op vroue afgedwing word.
Van tyd tot tyd word romanses veroordeel as verdorwend vir die sedes – dat dit vroue se gedagtes besoedel en hulle ontrou maak. Daar is geen bewyse hiervoor nie, net soos speurverhale waarskynlik nie tot moorde aanleiding gee nie. Trouens, sommige studies het bevind dat vroue wat baie romanses lees, meer bevredigende seksuele verhoudings met hul lewensmaats het. Romanses eindig immers met die vind van ware liefde in ‘n monogame verhouding en sodoende word huwelikstrou eintlik bevestig.
Romanses verloop resepmatig: ‘n Man en ‘n vrou ontmoet. Hulle is op byna bonatuuurlike manier dadelik tot mekaar aangetrokke, maar een of altwee van hulle het goeie redes om die ander te wantrou of om hul eie aangetrokkenheid tot die ander te ontken. Uiteindelik vind hulle mekaar wel – ná ‘n paar ernstige misverstande en kort voordat ten minste een van die twee byna-byna die fatale flater begaan om met iemand anders te trou. Hulle leef dan vir altyd gelukkig saam.
Die karakters is stereotipes:Die heldin het altyd ‘n ondefinieerbare eienskap wat haar onweerstaanbaar aantreklik vir die held maak. Sy vind haar geluk daarin dat die held juis vir háár so aantreklik vind – ten spyte daarvan dat sy oor haarself as vaal of gewoon dink.
Ten spyte van sy fisieke aantreklikheid gee die held aanvanklik dikwels die indruk van ‘n skobbejak: hy het iets wilds en ontembaars is in hom, iets ru, en hy kan onbeskof en onverskillig voorkom. Hy is meestal individualisties en selfversekerd, maar deur die loop van die verhaal word hy deur haar liefde "getem" en hy besluit om sy sinlose lewe van ongebonde rondlopery te staak en om vir ewig te vestig (en kinders groot te maak).
Ten spyte van die onwaarskynlikheid en resepmatigheid, is dit die manier waarop daar by die slot uitgekom word wat sommige verhale meer boeiend as ander maak. Die gerusstellende wete dat ‘n mens telkens die opwinding kan ervaar om jou voete onder jou deur ‘n prins, ‘n seerower of ‘n digter op ‘n motorfiets te laat uitslaan, bly lesers aanlok.
‘n Romantiese Valentynsdag vir jou!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.