Ons voel-voel mekaar in woorde
Willie Burger
Breyten Breytenbach het skynbaar ‘n soortgelyke kraan wat aan die see van digkuns gekoppel is. Hy kan dit oënskynlik willekeurig oopdraai en dan stroom die gedigte moeiteloos. Vyf-en-veertig skemeraandsange is Breytenbach se 21ste bundel sedert hy die Afrikaanse poësiewêreld in 1964 met Die ysterkoei moet sweet geskud het. Sedertdien het hy in bundel na bundel verras, vermaak, geskok, kwaad gemaak, laat lag, laat wonder, verstom en altyd betower.
Vyf-en-veertig skemeraandsange doen dit alles weer. Opnuut. Verrassend vars. En dit lyk so moeiteloos. Asof hy net die kraan oopdraai en die gedigte vloei. ‘n Mens is verstom as jy sien waartoe woorde in staat is:
ons voel-voel mekaar in woorde
wetende ons moet die niks grypvat en onderstreep
en kry dit as weergalming:
vier reëls dooie vlieë gelettergreep
Volgens die bundeltitel is hierdie "skemeraandgesange", met ander woorde: gedigte deur ‘n ouerwordende digter, in die skemeraand van sy lewe. Hoewel Breytenbach op 16 September vanjaar 75 jaar oud word, is daar nie sprake van droewe gedigte deurtrek van somberheid oor die naderende dood en ‘n verlangende terugkyk na die verlore jeug nie. Eerder is daar dankbaarheid vir elke dag:
nog ‘n dag gewen op die ewigheid
van nie-syn / nog ‘n wolk gesien
in haar enigwees, hoe sy krul in die hemel /
nog ‘n gedagte in woorde gedink
blinklyf uitgesleep op die papiersand
Dit voel of Breytenbach in gedig ná gedig in hierdie bundel gedagtes in woorde vasvang (soos visvang) en hulle dan blinklyf op die papier van die bundel uitsleep, soos hierdie woorde:
die self is ‘n solder
jy klim soontoe op
met ‘n trap waarvan die sporte
lankal weggevrot het
om jou te verloor
in die geur van kwepers
elk afsonderlik toegenuus
in koerantpapier se verslane berigte.
Die eerste en die laaste gedigte in die bundel dra dieselfde titel: "ek het gedroom". Dit gee aan al die gedigte daartussen ook ‘n droomagtige aard. Soos in drome, word die vreemde en onverwagse dikwels saamgegooi. En soos ‘n mens jou drome nie altyd kan verstaan nie, is hier ook baie verse wat nie sonder meer te begryp is nie. Maar net soos drome – ook onbegrypte of halfbegrypte drome – dikwels ‘n durende emosionele effek op ‘n mens kan hê, het hierdie gedigte (onbegryp of halfbegryp) eweneens ‘n impak op die leser. Hulle slaan reguit, sommer verby die verstand, na waar ‘n mens gewaarwordinge het wat jy beswaarlik kan verduidelik. Een van die kwatryne in die bundel lui:
hy wat dink hy verstaan
sit die pot mis
maar hy wat verstaan
sit langs homself
Sentraal in Breytenbach se oeuvre is telkens die besef dat ons ons ervarings nooit kan vasvat en dat ons tyd nooit kan laat stilstaan nie. Die self, die wêreld om ons, ons verhoudings met diegene wat ons liefhet, elke ervaring, is vlietend. Ons pogings om enige van hierdie ervarings, om iets van onsself of van iemand anders in woorde vas te vang, is by voorbaat gedoem, omdat die oomblik altyd reeds verby is en nooit herhaal kan word nie. Nogtans kan die woorde, die gedigte ‘n mens aan ervarings herinner en daarom is dit die moeite werd om woorde te probeer vind.
Enige woorde kan herinnerings oproep. Wat egter in ‘n gedig gebeur, is dat die woorde met die verbeelding saamvloei. Sulke woorde vermag veel meer as om bloot herinneringe op te roep. Woorde wat ons net herinner aan ervarings wat ons reeds gehad het, bly by die bekende, by dit wat ons reeds weet. Woorde wat slegs ervarings beskryf en herinneringe kan oproep is "bekende" woorde. Wanneer woorde en die verbeelding egter in ‘n gedig saamkom, onstaan iets nuuts. In ‘n gedig is daar vryheid om woorde ánders in te span, om die reëls te oortree, en dan lei die verbeelding ‘n mens verby die gebruik van bekende begrippe. Die effek daarvan is dat die leser (soos die digter) ‘n nuwe ervaring met die lees van die gedig het. Die gedig, hier en nou, bied ‘n ervaring wat ‘n mens nog nie tevore gehad het nie.
Dit is egter net ‘n stamelende poging om te verduidelik wat Breytenbach se poësie doen. Ervaar dit liewer self:
11.2 (die wensklippies)
twee klippies is eie aan die poësie:
die skoonheid van verbeel en sê
en die vryheid wat aan geen rand
van reëls of stilte gelê kan word
deur die opstapeling van begrippe nie
ek stuur vir jou hier
die mondklippies toegedraai in papier
sodat jy die woorde uit kan spel
as prewelende inkantasie
van ons herinnering aan nou en hier
Ek kan maar net bekende begrippe opstapel om iets van die ervaring wat die lees van hierdie gedigte bied, te probeer vaspen. Lees liewer self. Die gedigte sal soos ‘n droom wat jou die hele dag bybly, by jou bly spook.
Geluk met jou 75ste verjaarsdag, Breyten! En dankie vir hierdie verse!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.