Willie Burger bring hierdie week hulde aan verskeie skrywers wat die afgelope jaar gesterf het
Willie Burger
He fell from the ninth floor
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while washing
He hanged himself
He slipped on a piece of soap while washing
He fell from the ninth floor
He hanged himself while washing
He slipped from the ninth floor
He hung from the ninth floor
He slipped on the ninth floor while washing
He fell from a piece of soap while slipping
He hung from the ninth floor
He washed from the ninth floor while slipping
He hung from a piece of soap while washing.
Ek het een keer die voorreg gehad om by Aardklop ‘n onderhoud met Chris te voer en sy lekker lag sal my altyd bybly. Sy humorsin en skerp waarnemingsvermoë blyk uit die twee memoires oor sy grootwordjare in Riverlea: Shirley, Goodness and Mercy en Eggs to Lay, Chickens to Hatch (ook in Afrikaans vertaal as Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê). Van Wyk het hiermee, sonder verlammende nostalgie en met baie deernis, ‘n belangrike perspektief op die komplekse verlede van ons land gebied.
Nog ‘n "struggle"-digter wat die afgelope jaar gesterf het, is Mafika Gwala, veral bekend vir sy gedigte oor swart bewussyn in die bundel No More Lullabies (1982). Gwala was een van die groep digters en skrywers uit die laat 1960’s wat as die "Soweto-digters" bekendgestaan het (saam met Wally Serote, Oswald Mbuyiseni Mtshali, Mandla Langa en James Matthews).
Nadine Gordimer is op 13 Julie op die ouderdom van 90 oorlede. ‘n Suid-Afrikaanse Nobelpryswenner van wie drie romans onder apartheidsensuur deurgeloop het, sal miskien juis daarom vir haar protes teen apartheid onthou word. As ‘n mens egter veral haar kortverhale lees, kom jy agter hoe fyn sy kon waarneem en watter meester van taal en vertelling sy eintlik was. Sy het eens opgemerk dat die kortverhaalskrywer na die wêreld kyk soos iemand wat slegs by die lig van ‘n kameraflits kan sien. Haar kortverhale laat ‘n mens telkens met die gevoel dat so ‘n klein stukkie van die donker en onverstaanbare wêreld van ander mense vir ‘n oomblik vir jou oopgegaan het.
‘n Ander Nobelpryswenner wat die afgelope jaar gesterf het, was Gabriel Garcia Marquez wat in April op 89-jarige ouderdom aan alzheimersiekte dood is. Een refrein wat deur al die huldeblyke vir Marquez weerklink het, is dat sy beroemde roman, Honderd jaar van eensaamheid (Cien años de soledad/One Hundred Years of Solitude) nie alleen die gang van die Suid-Amerikaanse letterkunde verlê het nie, maar dat dit werklik ‘n groot impak op die wêreldletterkunde gehad het. Sy naam is sinoniem met magiese realisme, daardie skryfwyse waarin bonatuurlike gebeurtenisse in ‘n realistiese vertelling opgeneem word op ‘n manier wat die bonatuurlike as doodnormaal laat voorkom. Cien años de soledad is in 37 tale vertaal en meer as 30 miljoen eksemplare daarvan is verkoop sedert dit in 1967 in Spaans verskyn het.
Die meester van die Afrikaanse kortverhaal, Hennie Aucamp, is in Maart op 80 oorlede. Hy was by uitstek ‘n kortverhaalskrywer (maar ook essayïs, digter, dramaturg en kabaretskrywer). Sy eerste verhale in die 1960’s was konvensioneel en het by streeksvertellings aangesluit, al het sommige verhale ook tekens van die vernuwing van die sestigers getoon. ‘n Nostalgiese toon heers dikwels in sy verhale. Vir my is die twee bundels, Volmink en Wat bly oor van soene, die hoogtepunte van sy oeuvre. Die kortverhaal "Vir vier stemme" is ‘n besondere prestasie. Wat op die oog af na ‘n konvensionele streeksvertelling lyk word ‘n onthutsende ontmaskering van die effek van ‘n gemeenskap se vooroordele op individue.
Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, is in Augustus op 81 oorlede. Die eerste Liewe Heksie-boek het in 1965 verskyn. My eerste kennismaking met Liewe Heksie was toe ek as voorskoolse kind na Heksie oor die radio geluister het. Vels se stem, waarmee sy aan Liewe Heksie en Blommie Kabouter lewe gegee het (eers op radio en later op TV), weerklink nou nog in ‘n mens se kop as jy ‘n Liewe Heksie-boek oopslaan en begin lees. Liewe Heksie het deur die jare telkens met tegnologiese ontwikkeling bygebly – van haar eerste rit in ‘n kar (dié van Karel Kat), ‘n helikopter (melikopter) tot die koms van die rekenaar. Blommeland se heksie het miskien nie "van groot woorde geweet nie" en kon dalk nie haar toorspreuke onthou nie (behalwe om af en toe per ongeluk ‘n perd te kan toor), maar haar sêgoed vorm die gedeelde kulturele erfenis van verskeie geslagte Afrikaanssprekendes.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.