Willie Burger kyk hierdie week na die roman The Orphan Master’s Son deur Adam Johnson
Willie Burger kyk hierdie week na die roman The Orphan Master’s Son deur Adam Johnson
Toe The Orphan Master’s Son op my tafel beland, het ek so half langtand daaraan begin lees. Ná ’n halfbladsy het ek die roman neergesit en ander boeke gelees. Eers ná ’n paar weke het ek weer begin en toe ek eers by die derde bladsy verby is, kon ek die boek nie weer neersit nie. Een van die vernaamste redes is omdat daar die hele tyd so baie aksie is. Dit is ’n plotgedrewe roman, iets wat ’n mens nie altyd van sogenaamde “literêre romans” verwag nie. Die hoofkarakter, Pak Jun Do, is die weeskind van die titel. Hy is ’n Noord- Koreaanse tonnelvegter wat teenstanders (uitwykers na Suid-Korea of spioene uit die suide) met die kaal hande aandurf. Hy is opgelei om pyn te weerstaan. Spoedig word hy ’n ontvoerder wat Japannese wetenskaplikes of sangers vir die Noord-Koreaanse “Geliefde Leier”, Kim Jong Il, op vreeslose manier in Japan gaan oppik en spoorloos na Korea bring. As beloning vir sy sukses word hy Engels geleer sodat hy as “spioen” op ’n vistreiler Amerikaanse radioboodskappe kan onderskep. Hy oorleef onder meer ’n haaibyt en talle hardhandige ondervragings aan die hand van polisieondervraers. Later beland hy selfs as tolk en onderhandelaar namens Kim Jong Il in Texas, word ’n soort dubbelagent, sterf byna in ’n strafkamp, ontkom die dood wonderbaarlik en neem op onwaarskynlike wyse die plek van ’n minister, die beroemde tae kwon do-kampioen, “Commander Ga”, in. Hy gebruik hierdie posisie om wraak te neem. Maar dit is ook ’n verhaal oor liefde (“The Greatest North Korean Love Story Ever Told” as ’n mens die regeringspropaganda kan glo) – oor die soort liefde wat ’n mens deur die dal van doodskaduwee kan dra. Hierdie avonture is al boeiend genoeg, maar eintlik word ’n mens meegesleur deur die vertelwyse. Die eerste deel van die roman word deur ’n derdepersoonsverteller as die biografie van Pak Jun Do aangebied. In die tweede deel is ’n eerstepersoonsverteller, ’n ondervraer van die berugte “Afdeling 42”, aan die woord met sy weergawe van die “belydenisse” van “Commander Ga”. Hierdie vertellings word onderbreek deur die “uitsendings” oor die luidsprekers wat in alle Noord-Koreaanse huise en werksplekke daagliks die nuus, waarskuwings, raad en inspirerende verhale oor lojaliteit aan die “Geliefde Leier” uitsaai (wat ’n mens aan Orwell se 1984 herinner). Enersyds is die gewone individue se pyn en lyding skrikwekkend, maar dit word met soveel humor vertel dat die roman andersyds tegelyk skreeusnaaks is. Al die Noord-Koreane in hierdie roman leef in vrees vir die moontlikheid om deur die polisie vir ondervraging weggeneem te word en dat hulle dan nie met ’n oortuigende storie vorendag sal kan kom wat hul dade sal kan verduidelik nie. Gevolglik is almal die hele tyd besig om stories te bedink wat hul situasies of handelinge kan verduidelik. Hulle konkel soms om presies dieselfde storie te kan vertel, kom ooreen oor die fynste besonderhede en fabriseer bewysstukke wat hul stories waar maak. Vroeg in die roman word verduidelik hoekom Pak Jun Do so goed in die donker kan veg: “The darkness inside your head is something your imagination fills with stories that have nothing to do with the real darkness around you.” Dit dien ook as waarskuwing vir die leser. Alles wat jy hier lees, is stories wat nie veel te doen het met die werklike duisternis en onkunde wat jou omring nie. Dit word duidelik hoe maklik dit is om ’n storie te vertel, om dit boonop so oortuigend te kan vertel dat dit soos die “waarheid” voorkom. Die roman bied ’n angswekkende beeld van gewone mense se ervaring onder ’n diktator, waar geen mens ’n ander durf vertrou nie. Die vertelwyse, die toon, waarsku jou egter om dit nie sonder meer as ’n realistiese uitbeelding van Noord-Korea te aanvaar nie. Die klem val daarop dat enige beeld van die wêreld eintlik stories is wat vertel word – nie slegs die propagandastories van Noord-Korea nie, ook die VSA se stories oor Noord-Korea. Elkeen se beskouings van die wêreld, van ander mense, van jouself, is eintlik die stories wat jy met oortuiging aan jouself en aan ander vertel. Noord-Korea was hierdie jaar baie in die nuus toe daar sprake was van kernwapens wat teen die VSA gebruik kan word en daarom is dit juis nou ’n besonder interessante boek om te lees. Maar uiteindelik is dit ’n besonderse liefdes- en avontuurverhaal, wat jou dwing om na te dink oor vertelling, oor oorlewing – soms, soos die een karakter dit stel, doen mense dinge om te oorleef waaroor hulle later spyt is. Johnson se roman (deur Random House Struik uitgegee) het die Pulitzerprys vir 2012 ontvang. Met rede. Maar begin dit liewer op ’n Vrydagmiddag lees as jy nie meer siekverlof oor het nie. Vk