Willie Burger kyk na nuwe werke van Zirk van den Berg en Keina Swart
Willie Burger
Oor die afgelope twee dekades het daar baie romans verskyn waarin die Anglo-Boereoorlog ‘n belangrike rol speel. Veral met die 100-jarige herdenking van dié oorlog, in 1999 en daarna, is daar in uiteenlopende romans en kortverhale op hierdie geskiedenis teruggekyk. In romans so uiteenlopend soos Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz, Karel Schoeman se Verliesfontein en meer onlangs Sonja Loots se Sirkusboere is byvoorbeeld telkens op uiteenlopende maniere na hierdie deurslaggewende oorlog in die geskiedenis van Suid-Afrika (en veral vir die Afrikaners) teruggekyk. Romans soos PG du Plessis se Fees van die ongenooides (eers ‘n TV-reeks) en Engela van Rooyen se Vuur op die horison het verskeie herdrukke beleef, waardeur die lewende belangstelling in die Boereoorlog, meer as ‘n eeu later, bevestig word.
Met Halfpad een ding lewer Zirk van den Berg ook ‘n bydrae tot die groot aantal boeke oor die Boereoorlog. Hy het al tevore sy hand aan ‘n roman met ‘n historiese agtergrond gewaag: Wydsbeen (1992), ‘n roman oor Estienne Barbier, wat in 1734 as soldaat in diens van die VOC na die Kaap gekom het waar hy by ‘n opstand teen die goewerneur betrokke was en uiteindelik tereggestel is.
Van den Berg woon reeds sedert 1998 in Nieu-Seeland en skryf deesdae in Engels. Verlede jaar het sy ‘n Ander mens (vertaling van Nobody dies) in Afrikaans verskyn en Halfpad een ding het hy self uit Engels vertaal. Die roman gaan oor Gideon Lancaster, ‘n Nieu-Seelander wat aan Britse kant in die oorlog teen die Boere veg. Omdat hy Nederlands kan praat (sy ma was ‘n Nederlander) word hy deur die Britte as spioen aangewend. Hy sluit by die kommando van kommandant Jacob Eksteen in die Oos-Vrystaat aan, onder die voorwendsel dat hy ‘n Nederlander is wat die Boeresaak ondersteun. Hy probeer om die Britse magte te lei om generaal De Wet vas te pen.
Die probleem is dat Lancaster ook op ‘n Boeremeisie verlief raak (wat toevallig ook die meisie is op wie Eksteen ‘n oog het) en dat hy op ‘n manier ook lojaal begin voel teenoor die Boere wat hy leer ken.
As besluite altyd die keuse tussen reg en verkeerd was, sou die meeste mense nie so baie moeite met besluitneming gehad het nie. Ook nie Gideon nie. Die probleem is eers wanneer ‘n mens moet kies tussen wat reg is (lojaliteit as soldaat) en wat reg is in ‘n ander situasie (trou aan jou liefde vir iemand) en as hierdie twee keuses mekaar uitsluit. Daarom begin die boek met hierdie boeiende sin: "Gideon Lancaster het met een en dieselfde daad albei kante in die Boereoorlog verraai, en hy voel self verraai."
Hierdie spanning in een mens ontvou op ‘n ontroerende wyse. Die beskrywings van die landskap en veldslae is dikwels oortuigend, die dialoog tussen die gewone soldate soms snaaks en ten spyte van die ietwat stywe taalgebruik, word die leser by die morele dilemma van Gideon en Esther ingesleep.
n Afrikaans is daar nou eenmaal nie so baie om te lees soos in Engels nie. Veral kinders slaan sommer maklik oor en lees met groot ywer aan die wye verskeidenheid fiksie wat in Engels beskikbaar is. Dan raak hulle langtand oor Afrikaanse boeke. Ongelukkig kan ‘n mens hulle nie altyd kwalik neem nie, want as (‘n nuwe opgezjoeshde) Trompie of die Uile steeds, ná al die jare, die beste is wat ons vir ons kinders kan aanbied, net hier en daar aangevul deur iets opwindends soos Hanna Hoekom kan ons nie juis verwag dat hulle te opgewonde oor Afrikaanse boeke moet wees nie. Talle pogings is maar effens vaal in vergelyking met boeke soos Chris Bradford se Young Samurai-reeks. Dikwels word pryse vir Afrikaanse jeugfiksie toegeken, maar dan is die boeke nie aldag so gewild onder kinders nie.
Keina Swart se Bloujaar het iets van die onskuld van Trompie, in ‘n realistiese opset. Die roman skep ‘n eietydse, vars indruk, met nog belangriker, ‘n lekker, vloeiende Afrikaans, sonder om "Jipperig" te klink. En die storie is oortuigend.
Die verhaal herinner dalk ‘n bietjie aan ‘n Elsabe Steenberg-verhaal uit die sewentigerjare, maar dit is nie regtig so nie, want dit het ‘n baie meer robuuste gevoel – ‘n mens kry die indruk dat seuns ook met die karakters kan identifiseer – nie slegs sensitiewe dogters nie. Rampie se pa kry kanker en dit het verreikende gevolge vir die gesin, vir sy verhouding met sy siek pa, sy ma en sy susters. Hulle moet verhuis en sy pa se behandeling, die nuwe stedelike omgewing en nuwe skole plaas groot druk op almal. Boonop beland Rampie in ‘n morele dilemma. Die verhaal gee ‘n realistiese blik op eietydse gesinsverhoudings vanuit die belewenis van ‘n jong tiener.
Dit is altyd moeilik om ‘n waardeoordeel oor jeugboeke te vel, maar Bloujaar is besonder leesbaar. Dit is nie kompetisie vir die kinders se skynbaar onblusbare lus vir fantasieverhale waarin drake of zombies of bose geeste verslaan moet word nie, maar dit boei die leser tog met gewone, identifiseerbare situasies.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.