Willie Burger kyk na Francois Smith se boek Kamphoer
Willie Burger
Kamphoer
is ‘n kragtoer.In die eerste plek het Smith ‘n goeie storie gekry: ‘n ware verhaal.
Natuurlik waarborg ‘n goeie storie nie ‘n goeie roman nie. Dieselfde storie is al tevore deur Nico Moolman in sy boek The Boer Whore vertel, maar Smith het ‘n onvergeetlike roman daarvan gemaak. Hy het daarin geslaag om van een mens se verskriklike ervarings ‘n insiggewende verkenning van die menslike gees, van die invloed van trauma en oorlog op mense, te maak.
Ons ken almal mense wat ‘n goeie storie het om te vertel, of ‘n goeie grap, maar wat dit altyd opmors, wat vergeet om die belangrikste te sê of wat te gou die hele storie weggee of wat sommer net die verkeerde woorde gebruik en sodoende die goeie storie bederf.
Die krag van goeie letterkunde lê juis daarin dat ‘n hoogs individuele ervaring, ‘n enkele persoon se unieke belewenis van die wêreld, vasgevang word. Wanneer die verhaal van só ‘n ervaring vertel word, is dit nie, soos wat dikwels beweer word, ‘n "universele verhaal" wat almal se ervarings weergee nie. So ‘n "universele verhaal" sou maar vervelig wees. Natuurlik is daar aspekte van jou eie bestaan wat jy in iemand anders se verhaal kan herken (en wat ons dan verlei om te dink dit is ‘n universele verhaal) omdat ons almal mense is en dieselfde biologie en emosies en soortgelyke gebeurtenisse deel. Maar die unieke manier waarop iemand anders iets ervaar, lê buite my eie ervaring en daarom verruim dit my belewenis van wat dit is om mens te wees.
Dít is presies wat Smith reggekry het en daarom laat hierdie boek ‘n mens meer van menswees ontdek.
Die verhaal is merkwaardig: Die 18-jarige Susan Nell beland saam met haar ma en boetie in die konsentrasiekamp by Winburg. Haar pa is reeds vroeg in die oorlog dood en haar ma en boetie sterf in die kamp. Sy word wreedaardig deur twee Britse offisiere en ‘n joiner verkrag en word vir dood agtergelaat. Sy val egter van die wa wat die lyke vervoer af en word deur twee Sotho’s opgetel wat haar in ‘n grot terug tot lewe versorg. Met hul hulp en die hulp van ‘n Britse fotograaf beland sy in die Kaap en van daar af kry sy die geleentheid om in Nederland te gaan studeer. Sy bekwaam haar in die destyds nuwe veld van psigiatrie en werk spesifiek met traumaslagoffers.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog gaan werk sy in Engeland in ‘n hospitaal vir soldate wat aan bomskok ly en kom daar een van haar eertydse verkragters teë. Later, tydens die Tweede Wêreldoorlog, waar sy verkragtingslafoffers tydens verhore in Thailand bystaan, loop sy ook haar ander eertydse verkragter raak.
Smith maak van hierdie merkwaardige lewensverhaal ‘n onvergeetlike roman. Die effek van die trauma op Susan word fyn verken in afwisselende hoofstukke waarin ‘n eerstepersoonsverteller aan die woord is toe sy haar bewussyn in die grot herwin totdat sy in die Kaap aankom, en ‘n derdepersoonsvertelling van Susan wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Engeland werk.
Die manier waarop herinneringe ‘n mens ontwyk, waarop hulle onderdruk word en hoe hulle ‘n mens dan onverwags oorrompel, word op ongelooflike manier beskryf.
Die idee – vandag ook sterk in sielkunde – dat ‘n mens trauma verwerk deur jou verhaal te vertel, word subtiel ondersoek. Om ‘n samehangende verhaal te kan vertel, om die verlede en die trauma te konfronteer, is natuurlik belangrik in die verwerking van trauma, maar dit is nog lank nie alles dan afgehandel nie. Herinneringe bekruip ‘n mens steeds op onverwagte maniere en word onwillekeurig deur onverwagte gebeurtenisse opgeroep.
Nêrens verval die roman in maklike teoretiserings, verklarings en oplossings nie. Die komplekse aard van trauma, en die verwerking daarvan, die broosheid van die menslike gees, ook die wil om trauma te oorleef en die afwesigheid van so ‘n wil, word op verskeie maniere belig.
Hierdie roman gaan nie oor die Boereoorlog nie, ook nie net oor verkragting of oor trauma as gevolg van enige ander geweld nie. Dit word ‘n baie, baie fyn ondersoek van een vrou se besonderse ervaring, op só ‘n manier dat dit ‘n begrip vir trauma se durende nagevolge vir die leser oopmaak. En die besondere taalgevoeligheid maak hierdie verkenning ‘n ervaring vir die leer.
Smith skryf in ‘n nawoord dat hy "self romanmatig Susan Nell se lewensverhaal wou ontdek". Dit is woorde wat al ‘n clichéklank ontwikkel het – maar as hierdie ‘n voorbeeld is van wat met "romanmatige ontdekking" bedoel word, is dit ook ‘n triomfantlike regverdiging vir die bestaan van die romankuns.
Tafelberg
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.