Willie Burger kyk hierdie week hoekom mense honger vir “ware verhale” is
Willie Burger
Hoewel ’n mens van Shields kan verskil oor wat hy realiteit noem en wat fiksie, is hy reg wanneer hy beweer dat daar by baie mense ‘n soort Reality Hunger (die titel van sy voorlaaste werk) bestaan.
Die memoir of outobiografie is waarskynlik die algemeenste soort "ware verhaal". Tradisioneel is outobiografieë deur ouer mense geskryf, wat aan die einde van lang en suksesvolle loopbane terugkyk na alles wat hulle ervaar het. Uit daardie lewensverhaal is daar talle lesse te leer of interessante inligting oor historiese gebeurtenisse word weergegee.
In ons tyd is die mense wat oor hul lewens vertel dikwels baie jonger. Talle outobiografieë deur sport- of vermaaklikheidsterre (celebrities) verskyn sommer terwyl hierdie mense nog baie jonk is, voordat daar sprake is van ‘n lang lewe waarop met opgegaarde wysheid en insig teruggekyk kan word. Dikwels dien die memoir as bydrae tot die skep van celebrity-status.
Sommige memoirs, soos byvoorbeeld Jane Bussmann se The Worst Date Ever, is iets tussen persoonlike ervaring, joernalistieke verslag en populêre vermaak. Bussmann kombineer haar ervaring van celebrity-joernalistiek met politieke kommentaar, joernalistieke ondersoek en haar persoonlike liefdeslewe op (polities onkorrekte) humoristiese wyse om die aandag te vestig op ‘n humanitêre krisis in Uganda. (Bussmann se verhaal het veroorsaak dat die nuus oor Boko Haram se ontvoering van die 200 skoolmeisies in Nigerië ‘n gevoel van deja vú by ’n mens wek.)
Die veronderstelling is dikwels dat daar iets uit hierdie persoonlike ervarings te leer is. Bussmann deel haar persoonlike ervarings in die styl van ‘n stand up-komediant wat met haarself spot, maar in die proses word ‘n verstommende blik op politieke korrupsie in Uganda gebied.
Hierdie week val die fokus op twee Suid-Afrikaanse boeke wat onlangs verskyn het en "ware verhale" aanbied. Cay Garcia vertel in Behind palace Walls. In the Service of a Saudi Princess (2014 – Tafelberg) onder ‘n skuilnaam van haar ervarings as huisbediende in Saudi-Arabië.
Sedert 9/11 is daar in baie dele van die Westerse wêreld sterk agterdog teen Arabiese lande, sommer teen Moslems in die algemeen. So ‘n algemene agterdog en vyandigheid spruit, soos alle vooroordele, meestal uit onkunde. Cay Garcia se verhaal oor die ses maande wat sy in Riaad in Saudi-Arabië in diens van ‘n prinses deurgebring het, gee die leser ‘n blik op daardie wêreld waarvan ons eintlik bitter min weet.
Riaad is vir Westerlinge ‘n ontoeganklike stad. Buitelanders kan slegs op uitnodiging van ‘n werkgewer die stad binnegaan. Boonop word alle besoekers dan deur streng wetgewing gedwing om hulself op baie spesifieke maniere te gedra in hierdie land waar openbare teregstellings van wetsoortreders ‘n alledaagse gebeurtenis is.
Garcia bied ‘n baie interessante blik op wat agter die paleismure aan die gang is, ook op die manier waarop die buitelanders in hul afgesonderde woonplekke leef. Veral die wette wat verhoudings tussen mans en vroue reguleer, kom sterk in die kollig wanneer Garcia, teen alle regulasies in, by ‘n man betrokke raak.
Die vertelling boei nie slegs met die eksotiese inligting nie, maar word ook ‘n spannende verhaal van verbode liefde.
Hoewel Garcia se onvoorspelbare verhouding met die prinses baie interessant is en die lot van vroue in hierdie gemeenskap op verskeie maniere belig word, kry die leser selde die indruk dat hierdie boek ‘n poging is om die Arabiese Moslemwêreld werklik te begryp. Telkens is dit ‘n bevooroordeelde, "Westerse" blik van verbasing, vrees en veral verontwaardiging oor die Arabiere se manier van doen, wat voorop staan.
Trevor Kleynhans se Secrets make you sick (self uitgegee) is sy eie verhaal oor ’n donker hel van dwelmverslawing. Memoirs van oud-dwelmslawe wat vertel hoedat hulle in die dwelmwêreld beland het en waarin hulle die moeilike pad van rehabilitasie beskryf, is volop. Baie van dié stories fokus op self-ontdekking en persoonlike groei; vertellings waarin allerlei onthullings oor traumas van die verlede blootgelê word.
Omdat al hierdie elemente ook in Kleynhans se Secrets make you sick voorkom, loop die vertelling die gevaar om in ‘n cliché te verval. Moenie die fout maak om te dink dat jy alles al tevore gehoor het nie. Al is die vertelling ‘n onthulling oor seksuele misbruik en dwelms, is dit nie selfgerig of sensasiesoekend nie. Die boek moedig die leser aan om ook met jou eie, minder ingrypende geheime in die reine te kom, sodat jy ’n minder ingeperkte lewe kan lei.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.