Willie Burger kyk hierdie week na Abraham Phillips se
Die hart van ’n ma en Eldridge Jansen se Gerook
“Hierdie ding tik, hy vreet ons harsings op…” Hierdie woorde op die buiteblad van Abraham Phillips se jongste roman, Die hart van ’n ma, stel dit reeds duidelik dat die roman op die verwoestende gevolge van tik (die dwelm metamfetamien) op die gemeenskap fokus. Reeds met sy debuutwerk, Die verdwaalde land (1992) het Phillips daarin geslaag om ’n blik te gee op die ervarings van die armste deel van die bevolking. Anders as so baie ander skrywers wat ook verhale uit townships vertel waar werkloosheid, bendegeweld, misdaad en dwelmmisbruik hoogty vier, skryf Phillips vanuit hierdie wêreld en nie vanuit ’n bevoorregte middelklasposisie daarbuite nie. Phillips het nie die voorreg van hoë opleiding gesmaak nie. Hy kon nie die township verlaat en gaan studeer, met wêreldletterkunde kennis maak en dan as belese en gesofistikeerde skrywer uit eie ervaring oor die township skryf nie (soos Chris van Wyk of Jacob Dlamini). Skrywers soos Phillips, AHM Scholtz (Vatmaar en Afdraai) en Joseph Marble (Ek, Joseph Marble) staan nie werklik in die literêre tradisie nie, maar hulle ervaar die drang om die stories van hul eie lewens of van hul gemeenskappe te vertel. Ná die sukses van die outobiografiese Die verdwaalde land het Phillips in Erfenis van die noodlot (1993), Die Messiasbende (1997) en in Die evangelis van Kaggelsberg (2007) oor ervarings van mense in die armste gemeenskappe vertel. Die rou eerlikheid, sonder die gebruik van gesofistikeerde verteltegnieke, veelduidigheid en ’n versigtige ontginning van die taal, lei daartoe dat die verhale die leser deur hul outentisiteit ontroer. Gesofistikeerde lesers sal die vertellings soms moraliserend en sentimenteel vind, maar Phillips gee hiermee beslis ’n eerlike en onthutsende blik op sosiale probleme en die skrikwekkende gevolge van sosiale ongeregtigheid en uitsiglose armoede. Soos die titel, Die hart van ’n ma, reeds aandui, is dit veral die vroue, die ma’s, wat magteloos toekyk hoedat die toenemende gebruik van tik deur hul mans en hul kinders gesinne verwoes. Natuurlik gaan dit nie slegs om die verwoestende effek van tik op die liggame en persoonlikhede van die gebruikers daarvan nie, ook die gepaardgaande bendebedrywighede laat die polisie byna magteloos (of onwillig om op te tree omdat hulle self betrokke is). Terwyl ’n mens groot waardering vir uitgewers het wat publikasiegeleenthede skep vir skrywers wat uit gemeenskappe kom waar geletterdheid nie baie hoog is nie en waar ’n leeskultuur ontbreek, kan ’n mens ook vra waarom daar nie al teen dié tyd (Phillips se vyfde roman, meer as 20 jaar ná sy debuutwerk) ’n bietjie meer leiding en hulp aan die skrywer gegee is nie. Nog ’n roman (’n “tienerroman”) wat eweneens oor tik handel, is Gerook, deur Eldridge Jason, wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het. Die tienerseun Cobie bly vir die vakansie by sy ouma in ’n klein dorpie aan die Weskus. Hierdie klein gemeenskappie word deur ’n misdaadvlaag geteister – die gevolg van kinders wat aan tik verslaaf is en inbrake pleeg om die dwelm te kan koop. Cobie raak by die kinders en veral die mooi Lizette betrokke, en begin self tik gebruik, al wil hy ook die polisie help om uit te vind wie eintlik die dwelms na hierdie dorpie bring. Juis omdat tik ’n goedkoop dwelm is, is dit baie gewild in arm gemeenskappe waar die vooruitsigte en toekomsmoontlikhede erg beperk is. Die gewelddadigheid waartoe die gebruik lei (Nazi’s het dit na bewering ook vir soldate gegee om hulle aggressiewer te maak), dra tot baie maatskaplike probleme by. Tikverslawing is dus ’n aktuele onderwerp – veral in die Wes-Kaap, waar die probleem die grootste is. Dit is waarskynlik onbillik om hierdie publikasies te vergelyk met Adriaan van Dis se Nederlandse roman Tikkop (die Afrikaanse vertaling deur Daniël Hugo het in 2012 by Protea verskyn). Jason se roman is immers ’n jeugroman, gemik op 13-jariges en Phillips het geen literêre bedoelings nie, maar ’n mens dink onwillekeurig daaraan dat Tikkop (wat soos Gerook) in ’n vissersdorpie aan die Weskus afspeel, ’n veel komplekser roman is, waarin tikgebruik ook belig word – maar dan vanuit die oogpunt van twee bevoorregte wit mans wat probeer om ’n “tikkop” te “help”. Dit is nogtans interessant dat Van Dis se roman op ’n baie pessimistiese noot eindig – alle goeie bedoelings van die Nederlander om ’n verskil te maak aan die arm tikgebruiker se lewe misluk, terwyl die ander twee boeke tog hoopvol is. Cobie beloof sy ma dat hy nooit weer tik sal gebruik nie, Lizette gaan vir rehabilitasie en die skelm smokkelaar ry aan die pen. In Die hart van ’n ma is daar ten minste die polisiekaptein, Wielieboy Mathabola, wat nie korrup is nie en werklik probeer om die vroue by te staan en die dwelmverskaffers en bendelede teen te staan. Vk