Willie Burger kyk na twee skrywers se jongste werke
Willie Burger
As ons praat van Afrikaanse skrywers wat internasionaal bekendheid verwerf het, kom die name van skrywers soos André Brink, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Etienne van Heerden of Deon Meyer dadelik by ‘n mens op. Stil-stil het ‘n ander Afrikaanse skrywer se boeke egter ook oor die afgelope paar jaar ‘n groot oorsese mark bereik.
Irma Joubert se historiese romans is reeds met welslae in Nederlands, Duits en Engels vertaal. Ses van haar boeke is al in Nederlands vertaal – Ver wink die suiderkruis, Tussen stasies, Tolbos, Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad. Veral die vertaling van Tussen stasies (2007), wat in 2011 in Nederlands as Het meisje uit de trein gepubliseer is, was baie gewild en het in 2014 ook in Duits verskyn as Das Mädchen aus dem Zug, terwyl die Engelse vertaling in die VSA as The Girl from the Train deur HarperCollins uitgegee word.
Een van die redes vir die gewildheid van haar werk is sekerlik juis die historiese stof wat daarin verwerk word. Hoewel die klem in haar romans op die verhoudings tussen mense val, bestaan hierdie verhoudings telkens teen die agtergrond van groot historiese gebeurtenisse wat dikwels ‘n bepalende invloed op die verhoudings uitoefen. Die mees onlangse voorbeeld is Tolbos (2013), waarin die politieke oorgang – die einde van apartheid in Suid-Afrika en die einde van kommunistiese oorheersing in Pole – die agtergrond vorm waarteen mense mekaar ontmoet en wat dus hul verhoudings enersyds moontlik maak, maar andersyds bemoeilik. In haar jongste roman, Immer wes (2014) is Joubert opnuut besig om hierdie beproefde werkswyse te volg. Die roman begin met die verwarrende indrukke van ‘n Oos-Pruisiese dogtertjie wie se welgestelde ouers gedurende die Russiese revolusie van 1904–‘05 haastig met haar uit Rusland vlug.
Sy beleef die verskrikking van die wêreldoorloë in Europa en verloor haar bevoorregte en beskermde posisie in ‘n snel veranderende wêreld waarin die bekende orde ineenstort. Alles waaraan mense normaalweg vashou om hulself in sulke onseker tye staande te hou, soos besittings, sosiale status, ouerliefde, gesinswarmte, vertroude versorgers, vriende of ‘n huwelik, val vir Hildegard weg. Sy eindig uiteindelik in Duitswes (Namibië) waar sy ná baie jare weer vir Gustav, die jong man op wie sy as klein dogtertjie verlief was, ontmoet. Soos getroue lesers van Joubert se werk nou al weet, gaan dit in ‘n Joubert-roman nie bloot oor ‘n enkele liefdesverhouding nie, maar oor talle komplekse verhoudings tussen mense, teen die agtergrond van ‘n verwarrende historiese situasie. Immer wes lok die leser in ‘n vreemde historiese werklikheid in deur die ervaring van ‘n dogtertjie wat later vrou word, uit haar eie beperkte begrip van die wêreld aan te bied.
Terwyl die leser by haar emosionele wêreld van ‘n afsydige ma, ‘n afstandelike pa, ‘n liefdevolle oppasser, ‘n koue huweliksverhouding en haar ervaring van onderdrukking en hongersnood ingetrek word, word ook baie inligting oor die historiese gebeurtenisse gegee. Die leser ervaar as ’t ware die geskiedenis van “binne”. Soos die karakters uit haar ander romans, word Hildegard se geloof in God ook beproef en sy vind uiteindelik rus en vrede ten spyte van die ontwrigtende gang van die geskiedenis. Dit is waarskynlik hierdie troos wat telkens in Joubert se romans teenwoordig is, wat verder tot die gewildheid daarvan bydra – selfs meer nog as die fyn besonderhede van die historiese gebeurtenisse (want vir die verskillende vertalings word die historiese gebeurtenisse blykbaar aangepas).
Wanneer ‘n mens na inspirerende onderwysers soos die Engels-onderwyser, gespeel deur Robin Williams, in Dead Poets Society kyk, of oor ‘n onderwyser soos “The Guv” in die gewilde Spud-boeke lees, dan wens ‘n mens jy kon by sulke onderwysers Engels gekry het. Die potensiaal van ‘n onderwyser om deur middel van letterkunde kinders se lewens te raak, word telkens in hierdie soort werke beklemtoon. Juffrou Brom is ‘n soortgelyke onderwyser in Carin Krahtz se jeugroman, Elton amper-famous April en juffrou Brom. Die klem val op Elton April – ‘n seun met heelwat potensiaal en ambisie wat uit moeilike huislike omstandighede kom en waarvan nie veel verwag word nie. Sy potensiaal word egter deur juffrou Brom raakgesien en sy help hom om, ten spyte van al die onstabiliteit in sy lewe, selfvertroue te ontwikkel en om nie selfvernietigend op te tree nie en om met hoop uit die laerskool na die hoërskool te gaan. Die verhaal sal jonger lesers boei en kan in die proses heelwat emosionele struikelblokke waarmee leerlinge in graad 6 tot 9 worstel, vir hulle help verwoord. Maar dit is nie waarom kinders lees nie. Hulle wil vermaak word. Krahtz weet dit baie goed en veral die feit dat die verhaal as ‘n optekening van Elton April se eie ervarings aangebied word – met sy onsekerheid oor spelling en talle opmerkings wat later met die hand in die kantlyn “bygeskryf” is en dele wat doodgetrek is, maak hiervan ‘n prettige leeservaring.