Talle lesers hou nie daarvan om dramatekste te lees nie. Dit is soms moeilik om ‘n dramateks vir jouself in jou verbeelding ‘op te voer’
Willie Burger
Hierdie jaar is twee dramaturge se werk met gesogte pryse bekroon. Die Hertzogprys vir drama is aan Tertius Kapp vir sy twee dramas Rooiland en Oorsee toegeken. Die Akademie het egter ook besluit om die Eugène Maraisprys (‘n prys wat aan ‘n eerste of tweede digbundel, prosawerk óf gepubliseerde drama toegeken kan word) aan ‘n dramaturg te laat gaan – iets wat in die 1960’s laas gebeur het! Nicola Hanekom, wat onder sommige mense bekender as aktrise is, het dié eer te beurt geval vir haar twee dramas Hol en Trippie, wat saam in een band as Die pad byster uitgegee is.
Dit is ‘n merkwaardige gebeurtenis dat hierdie gesogte pryse aan relatief jong dramaturge gaan. Dit is ‘n aanduiding dat daar tans iets opwindends in Afrikaans op die verhoog gebeur.
Talle lesers hou nie daarvan om dramatekste te lees nie. Dit is soms moeilik om ‘n dramateks vir jouself in jou verbeelding "op te voer" – en in die geval van Trippie is dit dalk nog moeiliker vir die leser om die teaterervaring in die verbeelding te herskep, omdat Hanekom in hierdie geval glad nie van ‘n teater gebruik maak nie, maar alles in ‘n bus laat afspeel!
Al is dit dalk moeiliker om ‘n drama te lees as om dit te kyk, bied dramas in boekvorm ten minste ‘n paar belangrike voordele: dit gee vir baie mense wat nie self die opvoerings kon bywoon nie, ‘n kans om darem iets van die verhooggebeurtenis te ervaar. Tweedens kry die dramas ook ‘n "langer lewe" en verdwyn nie so gou in die vergetelheid nadat dit iewers opgevoer is nie. Derdens skep dit ook die moontlikheid dat tekste deegliker bestudeer kan word. Die voordeel van lees, is dat ‘n mens altyd kan herlees, gou ‘n paar bladsye kan terugblaai, woorde versigtig kan oordink, en hierdie "stadige" manier van lees bied dikwels talle ander insigte wat soms maklik by ‘n mens verbygaan as jy die drama slegs een maal gesien het.
Laasgenoemde punt is baie belangrik vir dramas wat met ingewikkelde temas op komplekse maniere werk. Kapp se werk is by uitstek van hierdie soort komplekse en genuanseerde dramas. Anders as sommige belangrike dramatekste in Afrikaans (Van Wyk Louw se Germanicus byvoorbeeld) is hierdie tekste eers baie suksesvol op die verhoog opgevoer en het verskeie toekennings as verhoogtekste ontvang. Rooiland is ‘n tronkdrama waarvoor Kapp deeglike navorsing in tronke gedoen het. Tronkbendes en die rituele waardeur individue in sulke bendes ingelyf word, word op onthutsende manier uitgebeeld. Die tronktaal kry ook baie aandag en getuig van Kapp se goeie oor vir dialoog. Uiteindelik strek die drama egter veel verder as die tronkmure en dit word ook ‘n ondersoek van identiteit en hoe die spanning tussen ‘n groep en ‘n individu identiteitsbepalend is.
Oorsee is eweneens ‘n ontstellende drama, maar tegelyk ook lig en spottend. Vyf mense bevind hulle op ‘n ou verinneweerde skip en hulle weet nie waarheen hulle op pad is nie. Dit is duidelik dat die karakters verteenwoordigers van ‘n "Afrikaanse volk" is – afstammelinge van Europese setlaars in Suid-Afrika en uiteindelik is die surrealistiese gegewe ‘n baie interessante ondersoek van identiteit en die plek van Europese afstammelinge in Afrika. Die teks is verwikkeld met baie historiese verwysings, aanhalings uit talle bronne, liedjies en gedigte wat dit beslis die moeite werd maak om die hierdie drama as leesteks beskikbaar te hê.
Hanekom se dramas laat die gehoor nie toe om passief te sit en kyk nie, maar nooi hulle uit om saam ‘n pad te loop, om op reis te gaan. Die gehoor raak dan ook saam met die karakters die pad byster, word oorweldig deur ‘n reeks verrassende stemmingswisselings wat van vermaak, verwondering en nuuskierigheid tot skok, skrik en verbystering wissel.
Die manier waarop die vrou in Hol se gedagtes, haar innerlike belewenis, die herinnerings wat sy onderdruk en die oorsaak van haar "hol gevoel" deur uiterlike handeling toeganklik gemaak word, is ‘n merkwaardige prestasie en een van die eerste voorbeelde van gepubliseerde "fisieke teater" in Afrikaans.
In Trippie word die gehoor letterlik saam op reis geneem, op ‘n "bustrippie", maar dit is ‘n ontstellende reis wat, net soos Hol, die leser telkens met nuwe wendings verras en skok.
Hanekom se taalgebruik is vars, die dialoog sprankelend, met dikwels ‘n verraderlike ligte vrolikheid wat ‘n donker boosheid wat daaragter lê, verdoesel en wat juis daarom veelduidig en skrikwekkend word. Nog belangriker is egter dat hierdie treffende taalgebruik fyn gekoördineer saam met handeling, beligting, klank en handelinge tot ‘n ontstellende ervaring lei wat by die toeskouers bly spook.
As jy ná Shakespeare nog nooit weer ‘n drama gelees het nie, is dit hierdie jaar tyd om dit te doen.