Willie Burger kyk na die onderskeid tussen fiksie en nie-fiksie
Willie Burger
Vroeg in April is die wenners van die Akademie-pyse vir letterkunde aangekondig. Sommige mense was verbaas dat die Letterkundekommissie besluit het om die Eugène Marais-prys aan Stephanus Muller se Nagmusiek toe te ken. “Dit is dan nie eens ‘n literêre teks nie!” het iemand teenoor my opgemerk.
Volgens die reglement word bepaal dat die Eugène Marais-prys aan “’n eerste of tweede belletristiese werk of werke van ‘n skrywer in enige genre” toegeken moet word. Dit is die woord “belletristiese” in hierdie reglement wat tot sommige mense se beswaar teen die bekroning van Nagmusiek aanleiding gegee het. Dit is volgens hulle nie ‘n belletristiese werk nie omdat dit nie tot die bekende genres van poësie, prosa of drama bydra nie.
Eintlik, so het sommige mense gemeen, behoort Nagmusiek eerder vir ‘n prys vir nie-fiksie oorweeg te word. Dit is immers ‘n biografie van die bekende Suid-Afrikaanse komponis Arnold van Wyk. Die woord “belletristies”, ‘n woord wat uit die Franse “belles lettres” afgelei is en wat eintlik “mooi skryfwerk” beteken, word gewoonlik met “nie-feitlike” skryfwerk of fiksie (romans, kortverhale, drama en poësie) geassosieer. Volgens hierdie interpretasie is daar ‘n duidelike onderskeid te tref tussen fiksie en nie-fiksie.
Kennelik meen talle mense dat “nie-fiksie” nie as “belletristies” beskou kan word nie. Soortgelyk was daar verlede jaar ook verbasing en selfs ontsteltenis toe die Belorussiese skrywer Svetlana Alexievich met die 2015-Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Haar werk berus immers op duisende onderhoude met onder meer slagoffers van die Chernobyl-ramp en veterane en burgerlikes wat die USSR-Afganistanoorlog meegemaak het. Sy neem die vertellings van hierdie mense in haar werk op en daarom voel sommige mense dat dit geen letterkunde, geen “belletristiese” werk is nie, maar dat dit eerder onder nie-fiksie tuishoort.
‘n Eenvoudige onderskeid kan nie sonder meer tussen fiksie en nie-fiksie getref word nie. Daarvoor is vertelling en verwoording, die verhouding tussen taal en werklikheid, gewoon te ingewikkeld. In sommige tale bestaan daar nie eens ‘n onderskeid tussen fiksie en nie-fiksie nie. Die Bosniese skrywer Aleksander Hemon beweer byvoorbeeld dat daar nie in Bosniese literatuur tussen fiksie en nie-fiksie onderskei word nie. Die implikasie is natuurlik nie dat Bosniërs nie tussen waarheid en onwaarheid kan onderskei nie, maar bloot dat literêre tekste nie op grond van hul verhouding met die verbeelding of met die “waarheid” gedefinieer word nie.
Ngugi wa Thiong’o, die Keniaanse skrywer, redeneer ook dat in sy moedertaal, Kikuyu, slegs een woord vir storie, vertelling, fiksie, geskiedenis en die hervertelling van bekende stories gebruik word. Die “kuns” lê volgens hom in die manier waarop vertel word, nie in die verhouding tussen storie en die werklikheid of die verbeelding nie. Die Kikuyu-woord vir “letterkunde” sluit alles, van wysheidspreuke en anekdotes tot fiksie, in. Hierdie voorbeelde dien uiteindelik net om te onderstreep dat daar geen natuurlike onderskeid tussen fiksie en nie-fiksie bestaan nie. Gedurende die afgelope 20 jaar was daar ook al mense wat gepleit het om die erkenning van ‘n “vierde genre” (benewens prosa, poësie en drama), naamlik, “literêre nie-fiksie”. Maar die grense tussen fiksie en nie-fiksie word nie nou skielik, aan die begin van die 21ste eeu, bevraagteken of as ‘n probleem gesien nie.
Die idee van ‘n vaste grens daartussen is al dikwels in die verlede ook bevraagteken – in die 1960’s het die werk van skrywers soos Truman Capote en Norman Mailer die grense tussen feit en fiksie byvoorbeeld uitgedaag met hul werk wat as “new journalism” bekend gestaan het. Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena en John Miles se Kroniek uit die doofpot is enkele voorbeelde van Afrikaanse fiksie uit die 1970’s en 1990’s wat ook teen die grense tussen fiksie en nie-fiksie gebeur het – hoewel werke soos hierdie eintlik heeltemal veilig en onbestrede as “romans” (fiksie) hanteer is. Dit is moeiliker om Nagmusiek sonder meer as “fiksie” te beskryf.
Maar dan is dié besonderse werk, wat uit drie afsonderlike boeke bestaan, met foto’s, bladmusiek, talle voetnotas en verwysings na sekondêre bronne, wat sowel biografie as outobiografie as fiksie en naslaanwerk is, en wat boonop ‘n besinning óór al hierdie genres is, juis die soort werk wat ons aannames oor konsepte soos fiksie en nie-fiksie uitdaag. Waarskynlik sal begrippe soos fiksie en nie-fiksie altyd bly bestaan, ten spyte van hierdie grensoorskrydende tekste. Maar die plek waar hierdie grense getrek word en die redes vir die trek van sulke grense, sal ook voortdurend op nuwe maniere deur nuwe tekste bevraagteken word.