Willie Burger kyk na enkele gedagtes na aanleiding van Karl Ove Knausgård se werk
Willie Burger
Karl Ove Knausgård se sesdelige werk, Min Kamp (“My stryd”, in Engels vertaal as My Struggle), het baie opspraak in literêre kringe regoor die wêreld gewek. In sy eie land, Noorweë, het die werk nie net beroerings in literêre kringe veroorsaak nie, maar dit was ook iets van ‘n “skandaal” onder ‘n wyer gehoor as net literêre lesers. Eerstens het die titel van sy werk vir baie aanstoot gegee omdat dit met Adolf Hitler se Mein Kampf ooreenkom, maar tweedens het veral die ontblotende besonderhede oor geïdentifiseerde mense se persoonlike lewens tot ontsteltenis gelei.
Knausgård se werk is ‘n ontblotende “nie-fiksie-roman” oor sy eie lewe. Hy skryf in fyn besonderhede oor sy eie familielede en sy eks-vrou se persoonlike lewens. “My stryd” se ses dele bestaan uit 3 500 bladsye en het tussen 2009 en 2011 in Noorweegs verskyn. Sedertdien is dit reeds in verskeie tale vertaal en die Engelse vertaling is baie entoesiasties in die VSA ontvang (al is die Franse vertaling blykbaar minder geesdriftig ontvang omdat, volgens sommige resensente, die genre van “outofiksie” niks nuuts in Frankryk is nie). Weens die omvang daarvan, maar ook as gevolg van die styl en die aard van die werk, word My stryd dikwels met Marcel Proust se invloedryke À la recherche du temps perdu (“Op soek na verlore tyd”, in Engels as Remembrance of Things Past vertaal) vergelyk.
In Deel 1 skryf Knausgård dat hy in 2008 begin skryf het nadat hy hom in Proust se roman verdiep het. Dit is geen maklike taak om die woordryke roman te lees nie (ek sien nie nou kans vir al die dele nie!). Knausgård het nie werklik ‘n opwindende of merkwaardige lewe nie, en dit is uitputtend om oor elke onmerkwaardige gebeurtenis in die fynste besonderhede te lees. Ten spyte daarvan dat dit vervelige leeswerk is, kan ‘n mens ook nie sommer net die boek neersit en daarvan vergeet nie. Ek het dit dikwels neergesit en eers ander boeke gelees, maar tóg weer teruggekom daarna. Algaande word dit duidelik dat die stryd van die titel (onder meer) ‘n worsteling met die dood is.
Die dood van Knausgård se pa is een van die sentrale gebeurtenisse in die eerste roman. Die besef van sterflikheid deurtrek die hele roman, en dan besef ‘n mens waarmee Knausgård eintlik besig is. Die lang beskrywings van klere, van skoonmaakmiddels, van herinnerings aan allerlei handelswerke uit sy kleintyd, is nie bloot nostalgie nie: “You could still buy Slazenger tennis rackets, Tretorn balls, and Rossignol skis, Tyrolia bindings and Koflach boots. The houses where we lived were still standing, all of them. The sole difference, which is the difference between a child’s reality and an adult’s, was that they were no longer laden with meaning. A pair of Le Coq soccer boots was just a pair of soccer boots. If I felt anything when I held a pair in my hands now it was only a hangover from my childhood, nothing else, nothing in itself. The same with the sea, the same with the rocks, the same with the taste of salt that could fill your summer days to saturation, now it was just salt, end of story. The world was the same, yet it wasn’t, for its meaning had been displaced, and was still being displaced, approaching closer and closer to meaninglessness.”
Nostalgie is gewoonlik ‘n verlange na plekke of tye wat nie meer aanwesig is nie. Hier is al die objekte wat genoem word, steeds beskikbaar. As volwassene kan hy steeds dieselfde splinternuwe sokkerstewels koop en in die dieselfde see gaan swem. Dit behoort nie onherroeplik tot die verlede nie. Die betekenis wat al hierdie dinge egter eens gehad het, vervaag geleidelik. Eens op ‘n tyd was al die gewone ervarings, om ‘n blik nuwe tennisballe oop te maak, om die seewater te proe, om stewels aan te trek, betekenisvol. Vir ‘n kind is hierdie ervarings opwindend en betekenisvolle avonture. Maar daardie opwinding en betekenisvolheid verdwyn geleidelik soos ‘n mens ouer word. Uiteindelik verloor alles betekenis, en dan is die lewe en die dood gelyk. Dit is die skrywer se taak om aan al die gewone alledaagse objekte en belewenisse betekenis toe te ken. Sodoende word die dood se alledaagsheid afgeweer.