Boeke wat oor die werklikheid gaan – wat regte mense se ware belewenisse beskryf, maar wat byna in die styl van ‘n roman aangebied word – word ook soms ‘literêre nie-fiksie’ of ‘kreatiewe nie-fiksie’ genoem
Willie Burger
Ek besef maar alte goed dat ek (dalk té) dikwels woorde soos "ontroerend" en "aangrypend" in resensies gebruik, en dat hierdie woorde daarom dalk nie meer die impak het wat hulle behoort te hê nie. Nietemin is dit die eerste woorde wat by my opkom wanneer ek Bloedvreemd wil beskryf.
In Bloedvreemd word vertel wat met ‘n gelukkige en vrolike gesin gebeur wanneer hul sewejarige dogter skielik ‘n onbekende, ongeneeslike siekte, wat haar liggaamlik en verstandelik laat wegkwyn, opdoen. Die paniekerige pogings om beter medici te vind, om enigiets te betaal om net jou kind weer gesond te kry, sal enige ouer verstaan. Die desperaatheid word al hoe duideliker as rasionele ouers hul hoop op allerlei alternatiewe behandelings en selfs die profeet TB Joshua plaas.
Maar hierdie skrikwekkende verhaal van die aftakeling van ‘n kind en die mediese wetenskap se magteloosheid daarteen, is net een deel van die verhaal. Met ontblotende eerlikheid word die effek van so ‘n siek kind op die hele gesin ondersoek. Niemand is voorbereid op so ‘n gebeurtenis nie en die durende onsekerheid plaas enorme druk op elkeen – wat aan die einde só opgesom word:
"Sonder dat sy dit ooit sal besef, het sy die grootste invloed op ons almal se lewens gehad. Soos ‘n growwe klip waarteen elkeen van ons geskuur en gevorm is."
Wat Coetzer uiteindelik demonstreer, is dat die trauma wat ‘n gestremde of ernstig siek kind in ‘n gesin veroorsaak, nie slegs negatief is nie. Die ontroerende van die roman lê juis in die maniere waarop ouers moet leer om die situasie te aanvaar en om van dag tot dag daarmee te oorleef.
Bloedvreemd sal waarskynlik soos Anchien Troskie (Elbie Lötter) se Dis ek, Anna, baie lesers trek, omdat dit eweneens ‘n "ware verhaal" is. Boeke wat oor die werklikheid gaan – wat regte mense se ware belewenisse beskryf, maar wat byna in die styl van ‘n roman aangebied word – word ook soms "literêre nie-fiksie" of "kreatiewe nie-fiksie" genoem. Anders as in literêre tekste waarin daar dikwels verskillende lae van estetiese betekenis voorkom, sluit hierdie soort boeke eerder by die roerende mediastories aan wat mense dadelik emosioneel aanraak. Hierdie soort werk het gedurende die afgelope sowat 20 jaar al hoe gewilder geword en die verkoopsyfers daarvan het fiksie se verkope verbygesteek, net soos wat baie mense verkies om na realiteitsprogramme eerder as na fiktiewe stories op TV te kyk.
Juliana Coetzer is ‘n sielkundige met haar eie praktyk en daarom is sy in ‘n besonder gunstige posisie om haar eie en haar gesin se ervarings te kan beskryf en analiseer. Maar sy kan ook goed skryf en daarom is Bloedvreemd inderdaad ‘n meesleurende, ontroerende en aangrypende boek. Maar dit gee ook bewondering vir waartoe mense in staat is, en daarom ook hoop.
Harper Lee se To Kill a Mockingbird is ‘n "klassieke" roman. Byna almal wat hulself lesers noem, het al dié roman gelees. Vir die meeste letterkundestudente was dit in ‘n stadium voorgeskryf. To Kill a Mockingbird het in 1960 verskyn en in 1961 is die Pulitzer-prys daaraan toegeken. Kort daarna is dit ook verfilm en die roman word steeds op die meeste lyste van aanbevole leeswerk uit die 20ste eeu gevind.
Dit is ‘n "grootwordroman" waarin die verlies van die onskuld van ‘n kind wat in volwassenheid oorgaan, met ‘n verlies van onskuld oor rasverhoudings gepaardgaan. Sedertdien het baie skrywers, ook in Suid-Afrika, op soortgelyke wyse ongelykheid in die gemeenskap ondersoek.
Lee het talle toekennings ontvang en haar groot reputasie berus uitsluitlik op hierdie enkele roman wat verskyn het toe sy 34 jaar oud was. Sy het bitter selde onderhoude toegestaan en het ook nie toesprake gemaak wanneer sy met toekennings bekroon is nie.
Vroeër vanjaar, 55 jaar ná haar eerste roman, is ‘n tweede roman deur Harper Lee, Go Set a Watchman, met baie mediageskepte opwinding en groot fanfare bekendgestel. Dit was egter nie sonder omstredenheid nie. Die manuskrip is blykbaar tussen Lee se besittings ontdek en volgens die uitgewers was die 89-jarige skrywer onder die indruk dat die manuskrip lank gelede verlore geraak het. Hulle sê ook dat sy toestemming gegee dat dit uitgegee kan word – ‘n bewering wat deur sommige in twyfel getrek word. Go Set a Watchman is nie ‘n goeie boek nie, maar indien jy nog nie To Kill a Mockingbird gelees het nie, is dit nou die tyd!