Wanneer net op die kleiner groep en die kleiner letterkunde se tradisie gefokus word, stagneer kunstenaars se werk
Willie Burger
In ‘n essay “Digters van naby”, wat in 1948 in die bundel Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer verskyn het, skryf die bekende digter Toon van den Heever (veral bekend vir sy gedig “In die Hoëveld”), tong in die kies oor ontmoetings met digters soos Jan Celliers, AG Visser en Eugène Marais. Hy vertel dat hy sy eie gedigte aan ‘n uitgewersvriend gewys het, wat toe die gedigte aan destyds se “gróót Afrikaanse digter”, Jan FE Celliers, gegee het ten einde ‘n keurverslag te kry om te bepaal of die gedigte publiseerbaar is.
Hy het Celliers ontmoet en aanvanklik was hy hoopvol dat die bekende digter se goedkeuring hom op ‘n digtersloopbaan sou plaas, maar toe sê Celliers vir hom die volgende: “Siet u, mnr Van den Heever, dit help nie eintlik om gedigte te maak as mens hulle nie kan verkoop nie. U kies sulke uitheemse temas! Neem byvoorbeeld hierdie gedig oor die Minnegod – wat weet ons mense van hom af? Hulle lees hier ‘n gedig van iemand wat kaal in die bossies wegkruip en boonop nog met ‘n pyl en boog gewapen is: hulle sal warempel dink dis ‘n Boesman! As u wil verkoop, bly by die ossewa, die keteltjie en die doringboom. In u werk mis ek die innige eenvoud van die ware poësie …”
Toon van den Heever het dikwels in sy poësie en sy prosa na die klassieke Griekse gode en mitologie verwys. Benewens Celliers het ook ander Afrikaanse kritici, soos EC Pienaar, sterk afwysend na die “uitheemse” elemente in Van den Heever se werk verwys. Die feit dat Van den Heever se werk soms skeptiese en kritiese idees oor die Christelike godsdiens en volksnasionalisme weerspieël het, is hom kwalik geneem, want daar was vir Afrikaanse digters slegs waardering wanneer hulle, soos Pienaar dit in 1920 gestel het, hul “talent diensbaar maak aan die vertolking van wat aan volk en land eie is”.
Dit is nie net in die Afrikaanse letterkunde wat skrywers en digters deur kritici kasty word wanneer hulle volgens die kritici oor “volksvreemde” dinge skryf nie. In die Suid-Afrikaanse skrywer Nthikeng Mohlele se jongste roman, Pleasure, is die hoofkarakter ‘n skrywer wat ‘n roman skryf waarin die Joodse volksmoord ‘n rol speel. Die skrywer gee sy manuskrip aan ‘n vriend, wat hom dan skerp kritiseer omdat hy nie eerder oor volksmoorde in Afrika skryf nie. Om oor gebeurtenisse gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Europa te skryf, strook volgens die vriend nie met Pan-Afrikanistiese denke nie.
Die skrywer reageer woedend op die kritiek: “If your counter view, and that of your Pan Africanists and nationalists for whom you have elected yourself as spokesperson, is that Africans can only think and reflect on their own continent – in total isolation from world events – then you have lost your mind. I cannot accept that Africans should not dream, or imagine themselves outside of only being black and colonised and enslaved – as if the rest of the world is empty, and that everything that happens in it has nothing to do with them whatsoever!”
Skrywers en digters wil nie tot die ossewa, die keteltjie en die doringboom beperk word nie, wil nie tot swart, slaaf en gekoloniseerd wees beperk word nie. Hulle wil oor enigiets kan droom en verbeel en verwerp die verwagting dat hulle, net omdat hulle ‘n sekere velkleur het, van ‘n sekere plek af kom of ‘n spesifieke taal praat, hul kuns in diens van daardie taal, plek of groep moet stel. Die Tsjeggiese skrywer Milan Kundera wys in The Curtain ook op hierdie eis wat dikwels aan skrywers in “klein taalgroepe” (gemarginaliseerde groepe) gestel word, naamlik dat hulle diensbaar aan die spesifieke groep moet wees en dat hul werk tot die volk of groep se strewes moet bydra.
Sulke beperkings lei tot ‘n verskraling van letterkunde. Hy meen dat goeie skrywers eintlik in die eerste plek aan die groot tradisie van hul kunsvorm, aan “die romankuns” of “die digkuns” wil deelneem, nie net aan ‘n Tsjeggiese of Afrikaanse literêre tradisie nie. Hulle wil nuwe moontlikhede van daardie kunsvorm ondersoek, die grense van die genre verskuif, hulself met die beste kunstenaars vergelyk. Wanneer net op die kleiner groep en die kleiner letterkunde se tradisie gefokus word, stagneer kunstenaars se werk.