Die voordele van die plaaslewe word kort-kort besing, maar nou is selfs die wetenskap ten gunste van dié bestaan
Ons almal weet vars plaaslug is gesond, maar nou is dit inderdaad bewys dat as jy op ‘n plaas grootgeword het, het jy dalk minder kwinte en kwale as dié wat in stede grootgeword het.
Volgens ‘n studie wat aan die Universiteit van Melbourne gedoen is en in die joernaal Thorax gepubliseer is, sal grootwordjare op ‘n plaas jou veral help om latere jare allergieë af te weer.
Daar is selfs bevind dat veral vroue dan sterker longe op plase ontwikkel. Ander navorsing het voorgestel dat as jy vroeg in jou lewe al aan kieme en potensiële allergene blootgestel is, dit jou teen allergieë kan beskerm. Maar die span van Melbourne was skepties daaroor en het hul eie studie van stapel gestuur.
Hulle het ? omvangryke studie gedoen en meer as 10 000 volwassenes in 14 lande in Europa, Skandinawië en Australië betrek. Nagenoeg 64% van die respondente het hul eerste vyf lewensjare in dorpe of stadsbuurte deurgebring, 27% in stede en 9% op plase.
Die navorsers het bevind dat plaaskinders as volwassenes minder geneig is tot allergieë, nasale probleme en oorreaktiewe lugweë. Hulle is ook 54% minder geneig om asma of hooikoors te ontwikkel.
Al die vroue wat op plase grootgeword het, het sterker longe gehad as dié wat in stede grootgeword het.
BRON: Healthday.com