Soos die bekendstelling van ’n braai-resepteboek, nuwe braai-wyn en braai-bier betaam, was dit jolig by Devil’s Peak Brewing Company in Woodstock, toe Jan Scannell, beter bekend as Jan Braai, se derde boek, Die Demokratiese Republiek van Braai, aan gaste bekendgestel is.
In sy eerste boek, Vuurwerke, het Jan lesers die basiese beginsels van braai gewys en in sy tweede boek, Vuurwarm, dat braai soveel meer kan wees.
Dié boek bevat nog meer oulike resepte wat op die rooster oor die kole of in ’n swartpot gemaak kan word. David Moseley van Tenfour Media het Jan voorgestel en gesê vanjaar is die tiende Braaidag wat Jan gaan lei en dat daar van die vorige twee boeke meer as 60 000 uitgawes verkoop het.
Jan was baie opgewonde oor die bekendstelling van sy boek, bier en wyn. “Ons woon in die wonderlikste republiek in die wêreld. Ek glo dit is die beste boek wat ek nog geskryf het. Dis vir gewone Suid-Afrikaners wat so ’n bietjie buite die grense van boerewors en tjops wil eksperimenteer, maar steeds ’n lekker braai met pelle wil hê. Daar is geen ingewikkelde bestanddele nie en ek hou nie van braairesepte waar ´n mens moet aartappels skil nie, so my resepte hou die aartappels se skille aan.
“Ek wil graag sien dat alle Suid-Afrikaners om hul braaivleisvure verenig en trotser wees op ons pragtige vlag – volgens my die mooiste in die wêreld.”
Jan Braai het vertel dat volgens statistiek neem tussen 15 en 20 miljoen Suid-Afrikaners op Nasionale Erfenisdag, 24 September, wat ook as Nasionale Braaidag bekendstaan, deel aan dié tradisie. “Ons het nog 30 miljoen wat moet saam braai. Die boodskap en motief van hierdie veldtog is suiwer: om alles Suid-Afrikaners te verenig. Mense staan al meer as 120 000 jaar om braaivure om hul vleis gaar te maak – dis nie net een kultuurgroep se tradisie nie. Ek gaan nie om verskoning vra omdat ek wit en Afrikaans is nie. Ons kan nie sê die inisiatief is verkeerd net omdat ons grootouers en apartheid verkeerd was nie.”
Hy het vertel dat die idee van Jan Braai-wyn en Jan Braai -bier gekom het omdat hy altyd dieselfde deurlopende kwaliteit wil hê as hy by mense gaan braai, ongeag waar hy hom in die land bevind. “Maar ´n mens is nooit seker van kwaliteit as jy op ’n vreemde dorp kom nie.”
Hy het eers sy eie boerewors begin maak en dit is in Wes-Kaap se Spar-winkels beskikbaar, maar toe het hy en Alviesdrift Wyne saamgespan en nou is daar ’n rooi en wit wyn in die reeks: die rooiwyn is ’n versnit tussen cabernet sauvignon en shiraz en die wit is ’n sauvignon blanc. “Nou weet jy dat jy altyd dieselfde kwaliteit kry. Dieselfde met die bier wat Devil’s Peak Brewing Company vir my bottel. Ek is nie ’n bierkenner nie; ek drink dit graag en gaan nie probeer om vir hulle te sê hoe om craft-bier te maak nie. Ek het net my gunsteling gekies en dis nou onder my naam in ’n bottel.”
Jan het ook die roete vir die Nasionale Braai-toer bekendgemaak. ’n Totaal van 300 braai-entoesiaste gaan vir sewe dae van Kimberley, via Upington, die Augrabies Nasionale Park, Strandfontein, Paternoster tot Tietiesbaai, toer. Hulle moet elke dag hul nasionale vlag dra en elke dag ’n gereg uit die resepteboek berei. Hulle vertrek op 12 September.
Van die interessante resepte wat Jan in hierdie boek ingesluit het, sluit onder meer wortel- en gebakte kaaskoek in ’n swart platboompot in en daar is selfs Amarula-malvapoeding wat oor die kole gebak word. Hy leer jou dat met hierdie resepteboek daar geen verskoning is om ooit weer smaaklose braai voor te sit nie.