Die bekende skrywer Eben Venter gesels oor Afrikaans, Suid-Afrika en sy roman, Wolf, wolf
Jacomien van Niekerk
Eben Venter woon sedert 1986 in Australië, maar hy is ’n onmiskenbare deel van die Suid-Afrikaanse literêre toneel met sy romans wat sedert die jare negentig as mylpale in die veranderende Afrikaanse letterkunde funksioneer. Eben was ’n aantal jare gelede deel van die populêre verbeelding met sy rubriek in die naweekbylae By – dié rubrieke is in 2010 saam met ’n klompie unieke resepte as Brouhaha uitgegee. Sy sewende roman Wolf, wolf speel in Rondebosch, Kaapstad, af, en ons maak kennis met Mattheüs Duiker wat sy sterwende pa, Benjamin Duiker, versorg. Matt het ’n ambivalente verhouding met sy pa aangesien hy die swartskaap van die gesin is wat nooit deel van sy pa se uiters suksesvolle motorhandel wou wees nie. Sy ambisies lê elders (hy wil graag ’n wegneemrestaurant met bekostigbare, gesonde kos oopmaak), maar hy is geheel en al van sy pa se vrygewigheid afhanklik. Ten spyte van ’n onderliggende deernis tussen Matt en Benjamin, blyk kommunikasie oor die generasiegaping heen moeilik en soms onmoontlik te wees. Hierdie gekompliseerde onderhandelings tussen pa en seun oorheers Matt se lewe én sy verhouding met sy vriend Jack. En net sodra ’n mens dink dat dinge op ’n bepaalde uitkoms afstuur, verander alles drasties.
Die titel van jou jongste boek is natuurlik afkomstig van die speletjie, “Wolf, Wolf, hoe laat is dit?” Het die speletjie ’n groot rol in die boek gespeel? Uit die staanspoor was dit vir my maklik om hierdie storie neer te skryf en agterna daaroor te praat. Dis ’n vryheid waarbinne ek my begewe het om alles te sê soos ek dit wil sê sonder om terug te hou. Wanneer ek vertel van die vaderfiguur in die storie, Benjamin Duiker, en hoe hy sy vleis braai en sy tande in ’n ekstrarou stuk steak sink, is daar ook ’n speelsheid aanwesig. Hierdie vrye, speelse element word verteenwoordig in “Wolf, wolf hoe laat is dit?”. En dis een van die redes waarom ek daardie speletjie so ’n prominente plek in die boek gegee het. Die wolf wys tande, draai om en vang. Daar is dus ook ’n ánder, dreigende kant aan die speletjie. Albei die kante weerklink in die storie.
Die gegewe van ’n karakter wat besig is om dood te gaan, is nie nuut by jou nie. In Ek stamel, ek sterwe (1996) beskryf jy hoe ’n jongman aan vigs sterf, en in Wolf, wolf is dit Mattheüs se pa wat aan kanker sterf. Hoe het die skryf van hierdie twee ervarings jou geaffekteer? Nes ’n sekstoneel is sterfte en ’n sterwende karakter nie ’n maklike ding om oor te skryf nie. As jy dit regkry om iets van daardie intensiteit, onbekendheid en verhoogde emosie van die toneel en die deelnemers weer te gee, kan dit groot verligting bring (vir die skrywer). Verligting in die sin van uitpak en wegstap. Jy vergeet nooit die ervaring om by ’n sterwende se bed te staan nie, maar nou, ná so ’n uitgeskryfde storie, kan jy ten minste daarvan wegstap en met jou kosbare lewe aangaan.
Het jy enigsins probeer saampraat met boeke deur en oor vroue wat ook die tema behandel van ’n kind wat ’n sterwende ouer versorg? Nee, ek het al vrouestories geskryf, soos Begeerte waarin die vroulike hoofkarakter tot in haar grein ontgin word. In Wolf, wolf het ek opsetlik die ma uit die storie geskryf. Daar is slegs verwysings na haar. Die ander vroue in die boek is slegs kamees. Dié keer wou ek die seun-vader-verhouding ontgin. Tot onder die nael toe. Dit interesseer my en baie ander mense: die komplekse, met verwagtinge gelade en daarom gebroke verhouding tussen ’n vader en ’n seun.
Soos baie van jou ander romans (veral Horrelpoot, 2006) beeld Wolf, wolf Suid-Afrika ná 1994 op ’n oorwegend negatiewe manier uit. Tog is dit subtiel en ander temas is opvallender, soos Matt se pornografieverslawing, Jack se Facebook-verslawing en gesinsverhoudings. Hoe belangrik is die konteks van Wolf, wolf vir dit wat jy wou vertel? Sommige mense stap uit ’n fliek soos deur die meesterlike Russiese regisseur, Andrei Tarkovsky, en hul eerste opmerking is hoe neerdrukkend dit was. Nege uit die tien keer sal ek met ’n teenoorgestelde mening uit so ’n fliek stap. Ek kyk daarna as ’n verryking – ’n skepping wat my inspireer. Ek weet dat baie lesers van Wolf, wolf die storie as neerdrukkend ervaar het. Natuurlik voel ’n mens jammer vir Mattheüs aan die einde, maar soos hy daar langs die Seepuntpromenade stap, is hy eintlik vreeslik sterk. Kaapstad, ’n hedendaagse Afrika- én Westerse stad met ál die dinamika van post-94. Vryheid om te doen en te sê en te kyk wat jy wil teen die agtergrond van ’n hele koffer ouer waardes (die pa s’n) waarvan jy maar net nie kan loskom nie, en dan hier in die voorgrond: Mattheüs uitgelewer aan die magte. Watter magte? Dié moet jy maar self gaan raaklees. Maar wat seker is, is dit: Die uitlewering is brutaal en onverstaanbaar en volkome onbillik, met een woord: waansinnig.
Die einde van die roman betrap die leser onverhoeds; dit suggereer nie net ontstellende dinge omtrent Suid-Afrika vandag nie, maar ook oor die menslike natuur. Het jy van die begin af beplan dat jou boek só gaan eindig? En wat is die leser veronderstel om van die laaste bladsy te maak? Die slot en slottonele van Wolf, wolf het inderdaad van die begin af by my kom spook. Ek het byna twee jaar voltyds aan die boek gewerk (hy laai binne vier en ’n half minute as ’n eBoek vir ’n Kindle of ’n iPad af) en soos my aantekeninge op indekskaartjies vetter geword het, het ek die einde soos hy nou daar staan, helder gesien. Mattheüs is gekoring soos hy op die Seepunt-promenade stap, maar soos die souterige, yskoue water van die Atlantiese Oseaan, gesuiwer. Dronk én bemagtig: In hierdie oënskynlik teenstrydige toestand weerspieël Mattheüs ’n ideale manier om in dié land te leef. As jy die spulletjie te ernstig opneem, word jy ’n ou pruim, as jy heeltemal oorboord gaan, lê jou lyk tien teen een op die bodem van die Kaapse hawe.
Hoe kry jy dit reg om jou aanvoeling vir Afrikaans te behou en vlot in Afrikaans te skryf as jy oorwegend Engels om jou hoor? Ek hou my by die taal wat my storie die maklikste vir my vertel. Ek probeer byhou, hou woorde en uitdrukkings by in my private woordeboek, kyk of ek iets nuuts daarmee kan maak, byvoorbeeld die lang, dralende sinne waarmee Mattheüs homself uitdruk, dis ’n nuwe ding vir my daardie. As ek in Engels skryf, en ek maak soms so, kom die storie nie vanself nie. Die hart en bloed, die grein en grint van ’n karakter: Hoe dit voel as jy pas aan die dooie hand van jou vader gevat het, kom uit in Afrikaans.
Die feit dat Matt en Jack gay is, word baie vanselfsprekend aangebied. Tog word Matt by sy suster se huis en veral in die figuur van sy pa sterk met heteronormatiwiteit gekonfronteer (“sodanig dat dit moeilik is om nie daarvoor te swig en jou eie normaliteit in twyfel te trek nie”). Dit is ook die rede waarom Matt se pa se testament veelseggende bepalings bevat. Dink jy Suid-Afrikaners raak gemakliker met homoseksualiteit? Ek wou nie die gay aspek so kwaai kalklig gee nie. Dis tog net een aspek van jou ganse menswees. In ’n stad soos Kaapstad kan jy gay wees sonder dat jy dit agterkom. Maar dis nooit die hele prentjie nie, nie in Suid-Afrika nie. Sodra Mattheüs deur sy vader gekonfronteer word, word sy gaywees as ’t ware in sy gesig gesmyt. En verder weg van die akkerbome en eekhorings van Rondebosch word daar op die Kaapse Vlakte ’n lesbiese meisie “gekorrigeer” deur haar te verkrag.
Wat geniet jy die meeste wanneer jy in Suid-Afrika is, en wat staan uit wat jou boektoer vroeër vanjaar betref? My betrokkenheid by elke situasie, by die mense en op hul beurt, hul betrokkenheid by my. Die varsheid van ervarings, visueel of hoe ook al, juis omdat ek nie elke dag hier rondloop nie. En die geborgenheid wat kom met dié dat ek met soveel dinge intiem bekend is. In Bloemfontein het my goeie vriendin, ’n boorling van die stad kan jy maar sê, my gehelp om in ’n liederlike, baie bedrywige, effens riskante, maar tegelykertyd vriendelike buurt tussen die hoofposkantoor en die stasie ’n tradisionele Lesotho-kombers te gaan koop. Senna Morena, 90% wol, 10% katoen. Snoesig soos lamsore. Daardie kombers was my vrypas op alle lughawens totdat ek die lug in is terug hierheen. Werkers en reisigers oral het dit erken, geëien as iets van hulle, iets sags en innigs en dierbaars. Hulle wou dit graag met my deel. Ek kon dit met hulle deel. Só het ek die land verlaat: verheugd en ontroerd.