Volgens ‘n studie gaan kinders tot tien keer per nag hul slimfoon na. Die gevolg? Doodmoeë kinders
Daar is in Brittanje bevind dat slimfone kinders (so jonk as nege jaar oud) doodmoeg laat opstaan omdat hulle meer as tien keer per nag op hul fone loer.
Volgens die opname (wat deur onderwysers aangevra is) wil kinders nie hul selfone in die aand afsit nie, want hulle is bang hulle loop iets mis.
Hierdie neiging veroorsaak dat kinders in laer- en hoërskole moeg by die skool opdaag, wat uiteraard hul skoolwerk benadeel. Die kinders in die opname het erken dat hul ouers nie van hul nagtelike gekattemaai op hul fone weet nie en sowat 68% het erken dat dit hul skoolwerk affekteer.
HMC is ‘n vereniging van skoolhoofde in Brittanje en hul voorsitter, Mike Buchanan, sê as onderwysers sien hulle toenemend die nadelige gevolg van slimfone. “Kinders is eenvoudig te moeg vir skoolwerk en hulle konsentreer nie in die klas nie. Dis belangrik dat ouers met hul kinders oor die verantwoordelike gebruik van hul slimfone gesels.”