Het jy geweet dat 85% van kinders in motors in Suid-Afrika nie veilig in ‘n gepaste karstoeltjie vasgegespe is nie?
Het jy geweet dat 85% van kinders in motors in Suid-Afrika nie veilig in ‘n gepaste karstoeltjie vasgegespe is nie? Dit beteken dat daar ‘n groot kans is dat óf jy, óf iemand wat jy ken, nie julle kinders reg vasgespe nie.
Volgens Childsafe is passasierssterftes in kinders die 4de grootste oorsaak van onnatuurlike sterftes in ons land. Selfs in ‘n ligte botsing, sal ‘n kind wat nie reg vasgegespe is nie in die voertuig rondgeslinger word, wat beide hulself en ander kan beseer.
Childsafe sê ook dat gespes vir kinders die sterfterisiko in passasiersvoertuie met 71% vir kleuters en 54% vir peuters kan verminder.
“Arrive Alive sê dat een van die mees effektiewe maniere om passasiers tydens ‘n ongeluk teen beserings te beskerm die korrekte gebruik van kindergespes is”, sê 1st for Women se woordvoerder, Casey Rosseau.
“Soos volwassenes se sitplekgordels, help kindergespes in motors om ‘n kleuter veilig in hul sitplek te hou sodat, in die geval dat daar skielik gerem word of ‘n ongeluk plaasvind, hulle nie van die voertuig geslinger word of binne die voertuig rondgeslinger word nie”, sê Rosseau. “Dis heel eenvoudig – as dié gespes korrek gebruik word wanneer daar ‘n kleinding in die motor is, kan baie sterftes voorkom word.”
Baie ouers dink dat dit veilig is om ‘n baba in hul arms of op hul skote te hou, maar dit is nie waar nie. Navorsing het getoon dat passasiers, wanneer daar skielik gerem word of wanneer hulle in ‘n botsing betrokke is, minder as ‘n halwe sekonde het om te reageer en dis onwaarskynlik dat ‘n volwassene ‘n kind in so ‘n geval veilig kan vashou.
Wanneer jy ‘n karstoeltjie kies, is dit belangrik dat jy een uitsoek wat jou kind se gewig pas. Wanneer ‘n kind in die verkeerde stelsel vir hul ouderdom en gewig vasgegespe is, of die bandjies of harnasse óf nie behoorlik vas is nie óf heeltemal los is, sal die kind ‘n verhoogde risiko loop om beide dodelike en nie-dodelike beserings op te doen.
Volg altyd die vervaardiger se instruksies wanneer jy ‘n stoeltjie of gespe installeer en jou kind daarin plaas.
1st for Women bied die volgende wenke vir die korrekte ein veilige gebruik van karstoeltjies:
- Maak seker dat die stoeltjie die benodigde goedkeuring dra.
- Die bandjies moet styf genoeg vas wees sodat jy dit nie tussen jou vingers kan vasknyp nie.
- Bandjies moet onder die skouers wees wanneer die stoeltjie agtertoe gedraai is, en bo die skouers wanneer dit vorentoe gedraai is.
- Gly die plastiek knippie wat die twee bandjies aan mekaar bind tot op okselhoogte voordat jy dit vasmaak.
- Verwyder bonkige klere voordat jy die gespe vasmaak, en gooi eers daarna ‘n kombersie oor of om.
- Maak seker dat die bandjies geen kinkels het nie aangesien dit die effektiwiteit daarvan ‘n ongeluk kan verminder.
- Indien jy ‘n tweedehandse karstoeltjie koop, doen dit slegs wanneer jy die geskiedenis daarvan ken óf dit by ‘n goeie bron kry. Moenie ‘n stoeltjie koop wat in ‘n ongeluk betrokke was of verslyte bandjies, gespes of hegpunte het nie.
- Probeer jou kind vir so lank as moontlik in ‘n posisie gespe waar die stoeltjie agtertoe gedraai is. Dit word aanbeveel dat kinders in dié posisie vasgegespe word totdat hulle 3 jaar oud is, maar verkieslik langer. Wanneer ‘n kind in hierdie posisie vas is en die motor in ‘n kopbotsing betrokke is, word die kragte wat op die kind se liggaam inwerk meer eweredig oor die hele ruggedeelte en kop versprei, waar dit, wanneer hulle vorentoe kyk, hoofsaaklik op die kop en nek impakteer.
- Maak seker dat die stoeltjie nie meer as ‘n duim vorentoe, of van kant na kant kan wikkel nie.
- Speelgoed kan jou kind beseer in ‘n ongeluk, so kies liefs speelgoed wat sag is.
- Stel ‘n goeie voorbeeld as ouer en dra altyd jou sitplekgordel.